Vervaldatum-kompetisie: Seereis

  • 3

Die skielike kilte wat van êrens teen haar kom aandruk, laat haar ril en Naomi trek die handdoek stywer om haar vas. Gaan druk haar lyf teen die reling en staar na die golwe wat van die boeg af wegssteier.

Diepnag het die slaap haar steeds ontwyk. Elke deining van Neptunus het teen haar lyf kom aandruk; elke stukkie weerstand van die see het in die dieper dreuning van die boot se motore gegrom, totdat sy die laken van haar moes afgooi om van die tergende gedagtes te probeer ontsnap. Wanneer hou die klop van liefde dan op?

Haar oë vang die see se deinings vas; golwings soos liggaamsbewegings uit die verlede. Bekende deinings in die beweging van die kolos onder haar. Kobus se lyf … Jurgen …

Sy vlug tot teen die agterste reling, waar die golwe onder die agterstewe uitkolk, uitwaaier na weerskante toe en uiteindelik weer een word met die oerritme van die oseaan. Teen die verste rand van haar gesigveld is die nag besig om sy donker kombers weg te pak. ’n Bries kom streel met klam vingers oor haar wang; gryp terselfdertyd die golfkruine vas en strooi hulle in wit sproeiskuim teen die lug. Op die dek rus die nag nog ononderbroke.

Die handdoek krap haar ooglede wanneer sy dit teen haar gesig druk om die gedagtes te keer. Sy spring om en die gedagtebeeld van Kobus spring saam met haar om; hardloop langs haar teen die kampanjetrap op; keer haar teen nog ’n reling vas. Rondom haar is daar nou net see tot daar ver teen die roos van die nuwe dag. Sy kyk af en sien dat sy hoog op ’n smal uitkykdek staan. Gedurende die dag plaas die bemanning hier klein tafeltjies met vrolike sambrele vir die passassiers om by te sit, maar nou is alles nog weggepak. Die alleenheid laat Naomi hyg na asem; du haar vorentoe. Oor. Golwe toe; maar haar voete verlaat nie die dek nie.

Kobus en Freda; Freda en Kobus – laggend, laggend … laggend. Oor en oor sien sy hulle geheimenisvol laat kom vir ete; glad nie opdaag vir vertonings nie … Fluister-fluister naby mekaar se gesigte.

Nadat Kobus vir Freda gekies het, is Naomi Kaap toe. Dit was nie weghardloop nie; sy wou net nuut begin sonder Ma se gekloek en haar jonger suster se ongemak. En wegkom van die drome wat haar in die hospitaal laat beland het. Daar waar sy wou mal word van haar eie gille wat sy die lug moes instoot om nie langer Kobus se liefdeswoordjies in haar ore te hoor fluister nie. Nie meer sy lippe teen haar vel of sy asem in haar nek te voel nie. In die Kaap kon sy weer snags slaap, weer bedags lag, weer naweke in haar eie geselskap deurbring; gewoond raak aan die eensaamheid. Het sy gedink. Daarom het sy kans gesien om alleen op die bootreis te gaan.

Die voordagwindjie het uiteindelik gaan lê, maar Naomi hou die handdoek om haar skouers. Dit koester haar en laat haar ontspan. Onder die beskutting van die informele dien-area staan die stoele en tafels steeds netjies weggestapel teen die nagwind en moontlike reën. Op die horison por die nuwe dag dringend teen die nag se rug om in te kom.

Sou die nag ook sy studies en verenigings waaraan hy hom gewy het ter wille van trots en selfbehoud weeg en nie swaar genoeg vind nie? Is die nag ook verlig wanneer hy sy dagbreek-sperstreep bereik? Sou die see hom ook beklem voel binne die landsgrense waarteen hy gedurig aanbeur?

In die kliniek het sy só teen die mure aangespoel na haar ineenstorting. Heen en weer; dag in en dag uit tot binnetoe toeslaan toe. Niemand het die gehuil in haar kop gehoor nie. Niemand het die trane teen haar hart sien afstroom nie. Niemand nie. Nie nadat sy besef het sy sal daar doodgaan as sy nie haar eie keerpunt vind nie.

Dit was hel sonder die uitbarstings, maar uiteindelik het die sielkundiges haar kalmte sien terugkeer, haar sagte stem gehoor en die nuwe lig in haar oë verwelkom en haar huis toe gestuur. Dit was nie maklik om na agtien maande van afsondering van voor af te begin nie.  Ma het kom kuier, maar nie ’n woord oor Freda of Kobus gerep nie. Miskien moes sy maar gevra het.

Onthou gooi Naomi op haar hurke neer, maar die drukking in haar kop en bors ruk haar terug op haar voete. Krampagtig vou haar hande oor die reling, los en vat om ’n lamppaal; los weer en gryp die punte van die handdoek nogeens om haar lyf vas.

Haar eerste aand op die boot wou sy haar nie in ’n warm teater tussen ’n spul vreemdes gaan vaskeer nie. Sy kon die opwinding nie tussen die lawwe grappies van ’n komediant of blink kostuums van ’n kabaret gaan verloor nie.

Naomi giggel en druk die handdoek teen haar mond. Ja, in die naderende nag en met die ligte beweging vn die dek onder haar voete het sy haar oorgegee aan die wonder van die oomblik. Die vogtigheid in haar oë was omdat sy vir die eerste maal werklik heel gevoel het ...

En toe die stem teen haar oor. “Naomi?”

Skok het haar laat omswaai, balans laat verloor, en ’n teenbeweging van die dek het haar teen sy bors vasgespoel.  Sy arms het om haar gevou.

“Jammer, jong; ek het vergeet jy skrik so maklik. Wat maak jy hier?” En direk daarna: “Toemaar, dom vraag! Die hele idee van ’n seereis is mos vakansie!”

Langs sy arms verby kon sy die sterre en die see mekaar sien ontmoet – dan bo, dan onder die reling deur. Die skrik het in haar knieë gaan lê en binne die kring van sy arms het die hitte van sy lyf deur haar gesypel. Kobus.

“Jy bewe.”

“Ja, dis koel.” Sy het teruggestaan en haar liggaam was gevul met onthou.

“Vroumense!” Hy het laggend die punte van haar mantel stywer oor haar arms getrek. “Hoe julle ook kan dink dat hierdie serpies julle sal warm hou!”

Sy tande was wit in sy wye lag en sy asem het oor haar wang gestreel. Naomi het geril, haar lyf koud waar sy arms so pas gevou het. Haar kop wou glad nie dink nie. Vroeër, voordat Freda teruggekom het van oorsee af, was Kobus hare...

“Jy beter ingaan; dis koud hier buite.”
“O ...?” Meteens was sy woedend. Hoe kon hy so normaal optree? So asof die tyd voor Freda nooit gebeur het nie?

Ver ondertoe het die see in die patryspoortligte gekolk en geskuim en weggewals op die maan se pad oor die golwe.

“Ons het nie geweet jy sal ook op hierdie vaart wees nie. Om die waarheid te sê het nie een van ons gedink jy sal dit ooit van jou paadjie tussen die kantoor en jou blyplek, waag nie.” Was daar ’n sweem van hoon in sy stem?

Êrens vanaf die agterdek het ’n sagte, ekstatiese gilletjie opgeklink en ’n meisie se lag het oor die diep stem van haar maat gemurmel.

“Daar is baie nuwe dinge van my wat julle nie weet nie.” Toe het sy omgedraai en hom daar alleen gelos. Nie eens gevra wie die “ons” is nie.

Naomi sluit haar oë en trek die oggendlug diep in haar longe in; soms druk haar hartklop nog haar asem vas. Dit was toe tóg Freda aan Kobus se sy tydens ontbyt die volgende oggend. Nog net so mooi soos destyds.

Destyds, ná Kobus en die inrigting, was daar weer iemand wat haar hart ontsluit het: Jurgen, wie se skouers ook so fors was, se kop ook so trots, se hare wildkrullend. Dit was Jurgen se geliefkoosde plekkie daar tussen die wildgroeiende varings waar niemand ooit gekom het nie. Die paadjie soontoe was gevaarlik, maar Jurgen het só daarvan gehou. “Dit hou nuuskieriges weg en dis lekker om te weet niemand kan ontydig aan die deur kom klop nie!”

Toe val hy oor die krans by die waterval en toe is hy ook weg. 

Sy was daar toe hy geval het. Hulle het vroeg teen die kranse uitgeklim en bokant die waterval op die dik groen gras piekniek gehou. Laatmiddag het hy opgestaan en op die plat rots gaan staan vanwaar ’n mens baie ver teen die kuslyn af kon sien. Sy het later onthou hoe wit haar hand teen die bruin van sy rug was. Hoe stil dit was nadat Jurgen vertel het dat sy vrou swanger is en dat hulle nie weer daar kon gaan piekniek hou nie. Sy was ook stil, want sy het nie eens geweet hy het ’n vrou  nie.

Daar is baie dinge wat sy nooit geweet het nie. Soos dat Jurgen sy eie motor gehad het, maar nogtans altyd met die bus by haar aangekom het en dan het hulle oral met haar motortjie gery.  Daardie laaste dag ook. Dis hoe niemand ooit geweet het sy was saam met Jurgen op die berg nie.    Niemand het ooit van Jurgen geweet nie.

Jurgen se dood was voorbladnuus. Die berig het genoem dat sy lyk êrens aan die kus gevind is, maar dat die ondersoek doodgeloop het omdat geen leidraad gevind kon word oor hoe hy in die see beland het nie. Selfs nie eens hoe hy by die huis weg is nie, want sy motor was nog in die motorhuis en sy vrou was in die kraam-inrigting ten tye van die ongeluk.

En lank voor Jurgen het sy eendag ook nie geweet haar geliefde, haar Kobus, ken haar suster nie.

“Jy is vroeg op?” Sy arms kom rus langs hare op die goudbruin hout en Naomi tree onwillekeurig agteruit; sien die breë skouers, die smal heupe. Die viriliteit. Sien die spiere onder sy vel bult en speel wanneer hy uitbundig bo-op die reling klim en ver oorleun met sy een arm om die lamppaal gevou.

“Jy ook.” 

Waarom sou die noodlot hulle skielik so by mekaar uitbring? Gebeur dit regtig of is dit weer eens drogbeelde – soos destyds?

“Jy gaan val, Kobus.” Haar maag ruk op soos die dag by die waterval.  “Klim af, asseblief.”

Oor die horison dartel die nuwe dag oor die see nader en ruk fyn reënbogies uit die sproei, kruip dan in ’n goue vuur deur die man se beenhare. Beelde van Freda se laggende gesig, haar hare los om haar kop gesprei terwyl sy en Kobus ’n baie sensuele cha-cha dans, flits agter Naomi se oë verby.  Ja, sy het hulle gesien dans. Gisteraand en al die ander aande sedert hulle aan boord gegaan het.   
Freda het haar gereeld by hulle bedrywighede op die boot betrek; dan dié kant toe, dan daardie kant toe. Selfs saam ontbyt gaan eet, of aandete – waarvan nie veel gekom het nie, want hulle was óf laat, óf het nie opgedaag nie, maar dit het Naomi goed gepas. Sy wou hulle vermy. Gisteraand het sy op die agterdek in hulle vasgeloop. Freda in ’n blinkbont rok knus in Kobus se arms, haar kop teen sy bors. Gesien hoe hulle lippe mekaar vind, hoe Freda teen Kobus versmelt; hoe hulle kortasem binnetoe verdwyn.

Terug in haar kajuit kon sy nie slaap nie, en tog het sy gedroom: van Kobus toe hy nog hare was;  en van Jurgen voordat sy gehoor het van sy vrou en die baba. Vir die eerste maal sedert die ongeluk het Jurgen weer in haar drome oor en oor in die waterval verdwyn – sy mond woordeloos groot in die onhoorbare gil ...

Dis drie treë tot by die reling waarop Kobus staan. Naomi plaas haar hande op die gladde materiaal oor sy heupe, voel die hitte van sy lyf teen haar vingerpunte.

“Toemaar, moederhen, ek sal nie val nie!” Sy oë spot met haar. Onder haar vingers voel sy sy spiere styfspan en sy herken die gevoel van sy liggaam teen haar palms. Haar hande beweeg laer teen sy heupe. Dan, meteens, kom lê die laggende beeld van Freda tussen hulle. Laggend soos toe sy gistermiddag hul kajuitdeur kom oopmaak het. Haar effens deurmekaar klere en Kobus wat dwars oor die slaapbank lê, sy hare krullend klam. Sy kaal bolyf wat spot: geliefde; minnaar.

Sy wou hê Freda moet saam met haar na die foto’s gaan kyk. Die rye en rye foto’s van passassiers wat hulle as aandenkings kan koop. Sy het skielik daarna verlang om weer die verhouding met haar suster reg te stel.  Dalk sou dit die afsnypunt wees vir die verlede?

“Jy hoor nie ’n woord wat ek sê nie!” 

“Ek het gehoor.”   

Maar sy het nie ’n benul van wat hy gesê het nie. Waar is die vervaldatum van seerkry? Wanneer is genoeg dan genoeg?

“Nou ja, dan is dit afgespreek: ons ontmoet mekaar in die boonste sitkamer.” Sy oë skitter af na hare.

Ontmoet ... soos hy en Freda mekaar destyds kamma ontmoet het; kamma lede was van dieselfde oefenklub. Kamma; kamma ... soos sy vir Jurgen moes gaan ontmoet. Vroegoggend voor werk, sodat hul kollegas eers niks moes weet nie. Vroegoggend terwyl sy vrou sekerlik haar longe staan en uitkots het; en laatmiddag om watter rede ook al. Maar toe het dit sin gemaak om die dag saam met hom te begin en dit in sy arms af te sluit.

Dis ’n eenvoudige beweging van arms reguit maak met haar gewig daaragter. Dis Jurgen op die klipplaat en tog ook Kobus onder haar hande. Sekondes lank streel haar palms oor sy heupe, oor sy bobene, en sy voel selfs die sy van die haartjies op sy vel wanneer hy vorentoe ruk en sy bolyf halfpad terugswaai na haar toe. Sy sien sy oë oopsper en is verwonderd daaroor – Jurgen s’n was toe. Kobus se arms word windmeulspeke soos hy sy balans probeer behou, en sekondes lank herinner dit Naomi aan die windpomp op Oupa se plaas wanneer die noordewind skielik opkom. Sy maak sagte fluitgeluidjies met haar lippe, net soos Oupa altyd gedoen het. “Ek roep die wind, kindjie ...”

Die mens bokant haar se voete swaai los en ruk die breë skouers saam, sleep die sterk kuite oor sodat sy oë hare blou-verskrik vasvang. Sy sien die vraag daar voordat hy nog ’n keer omtol, die branders tegemoet. Sy enkele kreet, ’n yl klankie teen die magtige musiek van die oseaan. Naomi sien elke beweging teen stadige pas gebeur; onthou dat Jurgen ook so luglangs gehang het voordat hy in die watervalmassa verdwyn het.

Sy bly doodstil staan teen die reling aangeleun. Haar oë is droog terwyl sy die vallende gestalte dophou. Dit draai ’n keer of wat in die rondte, kantel selfs een maal, maar die gesig bly boontoe kyk
Wanneer Kobus se liggaam die lui deining onderbreek, maal die see sekondes lank rond, maak ’n tentatiewe holte voordat die golwe oor mekaar vou en hul ritme hervat. ’n Skuimkol wieg teen die grys golwe, meng dan met die natuur se sproeikappe en skuif oor die volgende brander weg. Toe Jurgen geval het, was daar bloed teen die rots; nou is daar niks.

Dis goed so. Liefde hét ’n sperdatum.

Haar tred is lig wanneer sy omdraai en terugstap. In die dien-area speel dun sonlig oor die opeengestapelde tafels en stoele. ’n Windvlaag bol haar sarong om haar heupe teen die trappe af, druk haar liggies om die hoek hysbak toe, en waai die reënboë op haar wange droog. Sy hoef nooit weer te huil nie.

Êrens agter ’n toe kajuitdeur hoor sy stemme en die geklingel van koppies. Die “Moenie hinder nie”-kaart aan Freda se kajuitdeur hang skeef en sy druk dit liggies reg voordat sy haar eie kajuit binnegaan. Dan druk sy die deur saggies op knip, stroop haar kostuum af en plaas dit netjies opgevou saam met die sarong terug in die kas.

Die lakens vou knus om haar koue lyf. Sy maak haar oë toe. En slaap.

Klik hier vir meer besonderhede oor die kompetisie.  

 

  • 3

Kommentaar

  • Absoluut awesome. Ek is begeesterd na hierdie storie. Jy maak die taal lekker proe op my tong. 'n Wenner. Dis dit.

  • Ag, daar maak jy my dag!!!  Dankie monster134, dis heerlik om weer te skryf.  Ek het vir solank met my duime sit en speel!  

     

  • Goeie storie-baie geniet. Ek moet eerlik wees, toe ek die lengte sien, was ek skrikkerig maar toe ek eers begin lees ...

     
  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top