Dis Maandag. Maggie slaan 'n hand voor haar oop mond.
Ciska haal haar baret af en skud haar hare los. Sy’t gedink haar verbloemer is goed genoeg, maar Maggie was nie verniet 'n polisievrou nie.
“Wanneer skop jy daai ellendeling uit?” Maggie se wange blits twee rooi kolle.
“Dit gaan goed dankie en jy?”
“Moenie met my speletjies speel nie, tensy jy wil hê ek moet hom persoonlik vir jou gaan opdons.”
“Oukei Maggie, ekskuus.” Meteens voel sy lus om te huil. Sy skakel haar rekenaar aan. “Ek is so sat van baklei.”
“Ciska, baklei is een ding, geweld iets heeltemal anders.”
“Hy’t sulke mooi maniere gehad toe ons getroud is. Ek kan nie glo dis net vyf jaar gelede nie.”
“Raak van hom ontslae.”
“Ek kan nie. Die meeste van ons besittings is syne. Ek was die een wat in die buiteland gaan rondloop het met ’n kamera en mikrofoon.”
“Dit was jou werk!”
Ciska sug.
“Ek wil weet wat jy gaan doen.” Maggie staan hande in die sye.
“Ek dink nog.”
“Ek dink jy dink te lank,” wip sy haar en slaan die glasdeur van die kantoor agter haar toe.
Ciska sluit haar oë en wag vir die slae in haar kop om op te hou tamboer. Maggie is reg. Dit was slegs die derde keer dat dit gebeur het, maar almal was in die afgelope jaar.
Sy en Seef is nog steeds haaks. Sý karring te veel, sý is te moreel, sý het airs, sý dryf hom daartoe. Hy kan sy woede-uitbarstings beheer. ’n Drankie laat hom ontspan en ’n paar net soveel meer.
Dan, soos altyd, die ewige finaliteit. Berading? Beslis nie. Nooit!
Sy sug en begin haar pos oopmaak. ’n Klein A5-formaat-advertensie tussen die koeverte trek haar aandag. Haar hand huiwer oor die asblik, maar die adres, met ’n neon-pen gemerk, trek haar aandag: Vierde laan 66. 'n Rukkie sit sy nog so, haar gedagtes op vlug na die vorige dag ...
Dit het ewe skielik koud geword en die swembadwater het sy kalmerende effek verloor. Ciska beweeg kant toe en skraap haar hare agtertoe.
“Oe!” Sy het vergeet van die knop bokant haar oog. ’n Blerts nattigheid verdof haar sig en sy klim uit. Versigtig druk sy haar lang hare droog. Tot haar kopvel pyn.
“Hallo.”
Die vreemde meisie staan haar en dophou. Sy is klein, haar swart hare modern gejel. Langs haar sit ’n Skotse terriër, sy koppie skeefgedraai. Jy kan sweer hulle was by dieselfde stilis.
“Jou motorhek is oop. Ek dag ek sê jou net.”
Ciska vind die beheerknoppie op die bad se rand. “Ek het skoon vergeet. Dankie.”
“Ek’s Danita.” Die meisie se hand is warm in hare. “En dis Knersus”.
“Ciska.” Sy buk af om die hond te vryf, maar hy trek sy lippe weg en vertoon ’n ry vlymskerp tandjies.
“Hy glimlag net vir jou,” lag Danita toe sy haar hand terugruk.
Ciska vryf die krapperige lyfie. Sy sou wat wou gee om 'n troeteldier te hê, maar Seef haat honde.
“Wel, ek moet gaan,” sê Danita. “Knersus is gek na sy daaglikse uitstappie. As jy wil, kan ons dalk eendag ontmoet vir koffie. Ek werk vanuit my huis verder in die straat. Nommer 66.”
“Dankie.” Ciska weet dis net leë woorde. Hulle het niks gemeen nie.
Die meisie verdwyn met ’n vrolike wuif, die hond stertswaaiend aan sy leiband.
Dis eers toe sy die hek agter hulle laat toegaan dat sy van die merke op haar gesig onthou. Sy beskou haar arms en lyf en sug. Dan was dit die laaste sien van dié poppie. Jy in jou klein hoekie en ek in mijn.
Sy sit minute lank met die advertensie in haar hand voordat sy dit in haar handsak bêre. Twee dae later ná werk sluit sy stil by die groepie mense in die dubbelmotorhuis by nommer 66 aan.
“Hallo.” Danita staan haar hande op die heupe en betrag. “Ek dag nog ek sal jou werf as nuwe lid wanneer jy kom koffie drink en hier is jy, gedress vir die okkasie. As ons klaar geoefen het, maak ek vir ons van my beste koffie.”
Ná tien minute se opwarmingsoefeninge is Ciska naar. Plat op die vloer teen die muur beskou sy die ander deelnemers.
“Jy is onfiks, dis al,” verduidelik Danita.
“Ek dag dis die einde.” Haar hart slaan woes en die sweet pomp uit haar.
“Nog lank nie, suster. Op!”
Veertig minute later val sy in een van die uitskopstoele op Danita se ruim voorstoep neer. Sy sug diep.
“Sal dit dalk help as jy daaroor praat?” vra Danita.
Die son sit laag toe sy stywerig opstaan om huis toe te gaan. Haar stemming is beter en boonop kan sy sweer sy het ’n kilogram verloor.
Ciska sit onder die bome van haar en Danita se geliefkoosde koffiewinkel in die dorp toe sy hulle sien. Sy klap haar vingers vir die kelnerin.
“Knersus!” roep sy bly uit toe hulle naderkom en pluk ’n stoel uit. Die brakkie spring geleerd daarop en druk sy lyfie vryerig teen haar aan.
“Iets is definitief verkeerd as jy meer van my hond dink as van my.” Danita trek ’n stoel nader.
“Ek wens Seef het nie so ’n renons in honde nie,” sug Ciska.
“Dalk kan ek myne maar aan jou bemaak?”
Ciska se keel voel of dit toetrek. “Jy dink nie aan weggaan nie? Wat van jou klasse?”
“Ek gaan nêrens heen nie. Ontspan.”
“Koffie vir twee, murgbeen vir een!” kondig die kelnerin aan en die hondjie verdwyn soos blits onder die tafel in.
Hulle drink koffie en adem die geure van die inheemse tuin in. Hoe ironies is dit dat sy nie hierdie vreedsame saam-wees ook by Seef kan ervaar nie. Hulle dans soos twee veghonde al om mekaar met hul tande ontbloot.
“Ek kan ongelukkig nie vandag lank bly nie,” sê sy hardop. ”Seef se kantoorfunksie is een van die dae en ek moet ’n rok gaan soek.” Sy sug.
Danita loer oor haar koppie na haar. “Nie lus daarvoor nie?”
Ciska mimiek hoe sy haar vinger in haar keel druk en Danita lag. “So erg?”
“Erger! Die vrouens kyk wie die duurste uitrusting kan dra en die mans wie die meeste kan drink.”
Danita stoot haar stoel agteruit. “Onthou, ons gevorderde klasse begin die einde van die maand.”
Ciska skud Knersus van haar voet af en staan onwillig op.
By die parkeerterrein skakel sy die motor aan. Sy kan die gevoel nie afskud dat hierdie funksie weer net moeilikheid tussen haar en Seef gaan veroorsaak nie. Sy trek grimmig weg.
Die aand van die funksie daag veels te gou op. Soos gewoonlik het sy ’n rok met ’n eenvoudige styl gekoop. Ná ’n paar drankies begin Seef altyd teem dat die mans vir haar kyk omdat haar drag uitspattig is.
“Is jy klaar?” vra Seef toe hy uit die badkamer kom en sy sleutels van die bed oppik.
Sy knik en hou hom dop terwyl hy sy hare in die spieël kam. Hy is rêrig aantreklik. Is dit wat haar in die begin so aangetrek het?
“Kom, kom. Moenie so draal nie. Ek wag in die kar vir jou,” sê hy kortaf en loop uit.
“Moet wees,” prewel sy, trek skewebek vir haarself in die spieël en loop agterna.
Op pad terug motor toe die aand keer sy haar rug op die geniepsige windjie om die blomme te beskerm. Seef is sy ou mislike self. Hy gee ’n lelike knoop. “Gooi die vrekselse goed in die asblik.”
Sy ignoreer hom, klim in en betrag die lelies.
Hy trek met ’n vaart weg en sy wonder hoeveel drankies hy en sy kollegas op die stoep gehad het. Sy stuur ‘n skietgebed op dat hul veilig by die huis gaan kom. “Wil jy hê ek moet bestuur?”Sy hou haar stem neutraal, maar haar derms draai en woel in haar senuweeagtige maag.
“Hou liewers net jou mond. Jy het genoeg vir een aand gedoen.”
Ciska maan haarself om kalm te bly. Hierdie speletjie speel hy al lank en sy ken die reëls. Sy trek haar veiligheidsgordel styf vas en byt op haar tande tot by die huis. Voor hy by die motorhuis kan inry, klim sy uit. In die kombuis hoor sy die voordeur hard toeslaan. Mooi trap, Ciska.
Hy gooi die motorsleutels op die kombuiskas neer, kry ’n glas en skink vir homself water uit die yskas.
Ciska soek ’n vaas onder in ‘n kas en vind een met gekleurde albasters in. Toe sy orent kom, is hy langs haar. Sy kyk hom vraend aan sonder om iets te sê.
“Was dit nou so moeilik?” vra hy.
“Nee, dit was nie,” erken sy. “Om die waarheid te sê, dit was heel oukei.”
“Oukei, nè? Nou sê my, hoekom het jy dan die heelaand daar gesit met jou dikbek?”
Sy haal diep asem. “Ek wil net hierdie blomme in die water kry,” sê sy en skuur by hom verby.
“Ek het jou gesê om die verdomde goed in die asblik te gooi,” snou hy skielik en ruk die blomme uit haar hand.
“Moenie!” keer sy, maar hy slaan die lelies teen die toonbank dat die swaar koppe morsaf breek en oral spat.
Hy stamp haar voor hom weg en loop effens onvas sitkamer toe.
Dalk is dit hoe mens voel voor jy beroerte kry, dink sy toe haar gesig vuurwarm word en haar hart wild begin skop. “Jy’s ’n boelie, weet jy?” Haar goeie voornemens ten spyt, is haar woorde hard en uitdagend. Sy sluk aan die knop in haar keel. “Ek weet nie hoekom ek nog probeer nie,” sê sy hees.
Hy gaan staan, draai om en kom dreigend nader, sy hand gelig. Sy beweeg outomaties om die tafel na die agterdeur, maar daar moet sy omdraai. Dis gesluit. Hy is amper by haar toe sy bewus word van die vaas wat sy nog steeds vasklem. Sy skiet die inhoud op die vloerteëls uit en gee pad. Seef trap hoog tussen die kletterende albasters, nes ‘n volstruis, en Ciska voel ‘n histeriese lag in haar keel opstoot. Hy pootjie homself amper ‘n paar keer en slaan dan met ’n slag neer.
“Vandag maak ek jou vrek,” hoor Ciska hom mompel. Sy skop haar skoene uit en hardloop sitkamer toe.
Sy skrik toe hy binnekom. Hy het sy mond stukkend geval en die bloed loop teen sy ken af.
Blindelings oorweeg sy dit om die sekuriteit te bel, maar daar’s nie tyd nie. Sy bly wegbeweeg, waar daar ruimte is.
Hy kry haar rats van agter beet. Soos gewoonlik het sy haar misgis om te dink die drank hom minder gevaarlik sou maak. Sy vingers boor in die sagte vleis van haar arms in en verskuif dan na haar nek. Sy vingers begin haar lugweg toedruk. Haar ore suis.
Dink, Ciska, dink! In stede van weg te beur, verslap sy haar liggaam en hang in sy arms. Hy is verplig om vooroor te buig om sy greep te verstewig en sy wag haar kans af. Toe hy naby genoeg is, gooi sy haar kop agtertoe en tref hom hard in die gesig. Sy sien self sterre en word bewus van ‘n warm nattigheid op haar skouers.
Seef brul en sy weet sy moet wegkom. Alles wat sy by Danita geleer het, flits deur haar kop. Met haar kaal voet haak sy hom stewig in die waai van sy been en stamp hom agtertoe. Hy verloor sy balans en sy kop klap op die houtvloer.
Die paniekknoppie. Sy hardloop kombuis toe. Daar hou sy haar vinger bewend op die knoppie. Haar trane sypel sout in haar mond in.
Eers toe sy tegelykertyd Seef se braakgeluide in die sitkamer hoor en die telefoon ook begin lui, besef sy dat haar vinger kramp.
Die sleutels lê op die tafel waar hy dit neergegooi het. Dit voel soos ’n oneindigheid voordat die deur oop is en sy die koel nag inhardloop.
Met ’n klik van die afstandbeheer skuif die motorhek oop. Haar knieë kap teen mekaar en sy gaan willoos op die randsteen sit. Sy kom eers tot verhaal toe die ligte van die sekuriteitsmotor oor haar val. Een van die manne klim uit.
“My man is daar binne. Kan julle asseblief die polisie bel?” vra sy hees.
Hy sê niks nie, maar loop terug motor toe.
Die ander man klim ook uit. Hy het ’n herdershond by hom. Hy bekyk haar, hande in die sye.
Ciska kyk af. Soveel bloed! Sy maak haar hare los, maar die effek bly dieselfde.
“Ek het net myself verdedig,” verduidelik sy.
Hy frons. “Lyk nie of jy veel verdediging gedoen het nie.”
“Dalk het ek sy neus gebreek.”
Hy lyk nie oortuig nie.
Ciska probeer weer: “Selfverdedigingsklasse?”
Uiteindelik flits hy ’n wit glimlag.
“Die ambulans kom ook,” rapporteer sy maat vanuit die motor.
Ciska ontdek ’n yslike knop aan haar agterkop. Sy voel skielik soos 'n klein dogtertjie wat haar velle afgeval en haar ma nodig het. Sy sluk vasberade aan die knop in haar keel.
Die sekuriteitsman trek sy baadjie uit en gooi dit oor haar skouers. Toe kom sit hy langs haar op die randsteen. Sy leun teen hom aan, skielik doodmoeg. Hy slaan sy arm om haar skouer en sy sluit haar oë toe die hitte van sy lyf geleidelik die ys in haar laat smelt. Die hond druk sy nat neus in haar nek en sy steek haar hand uit om hom te streel. Iewers in die verte hoor sy die loei van ’n sirene.
Haar besluit word net daar geneem. Môre is nog ’n dag. Seef se laaste dag om in te stem tot berading. So nie, wag daar vir haar ’n nuwe lewe – sonder hom.
“En net môre gaan ek vir my ’n Skotse terriër kry,” besluit sy hardop.
“As jy so sê.”
Sy sien die verwarring op sy gesig en skielik is dit maklik om te lag.

