Vervaldatum-kompetisie: Die affair

  • 0

Die kortverhaalskrywer het ’n affair gehad. ’n Kortstondige affair, maar nietemin ’n affair. Dit was nie reg van hom nie. Veral nie in die lig van sy voltydse beroep nie. Maar dit het nou ten ene male gebeur en hy kan niks daaraan verander nie. Gelukkig vir hom en die vrou het die affair ’n baie dramatiese einde gehad. Wie weet waar alles sou geëindig het as dit nie vir daardie aand was nie?

Maar dis middelkennis. Kom ons bepaal ons by wat wel gebeur het.

Die algemene praktisyn het een somersmiddag sonder voorafkennisgewing by die kortverhaalskrywer se huis opgedaag. Hy het haar deur die venster van sy studeerkamer dopgehou terwyl sy uit haar motor geklim het. “Sy is mooi,” het hy gedink. Sy het ’n wit somersrok van katoen gedra. Haar swart hare het geblink en haar mooi hals was brons gebrand. Dit het gelyk of die son die wit rok smelt tot deursigtige gaas waarin haar lyf perfek simmetries gegiet is. Haar kalbassieborste het astrant gedu teen die materiaal van die rok. Die hartjievorm van die son se lig wat tussen haar binnedye deurgeskyn het, het hom kortasem gelaat.

Hy het sy emosies by aanskoue van die vrou eksistensieel bevraagteken. “Is ’n seksuele klimaks die hoogtepunt van mans se bestaan? Is dit ons ongebreidelde strewe? Is dit waarvoor ons bestaan?” Hy wou dit ontken. Sy beroep het hom so gekondisioneer. Maar êrens vanuit die diepte van sy lyf wou die ander antwoord deurbreek. Die antwoord wat hy nie durf uiter nie. Dié ambivalensie het hom ontstem.

Hy het nietemin so saaklik moontlik probeer voorkom toe hy uitstap om haar by die voordeur te ontvang. Sy handdruk was ferm en formeel. In die voorportaal het hy opsy gestaan sodat sy eerste by die studeerkamer kon instap. Hy het sy arm uitnodigend gestrek om aan te dui waar sy kon sit. Hy het verneem of sy iets wil drink. Toe sy dit van die hand wys, het hy in die stoel oorkant haar gaan sit. Hy het sy arms gevou en sy regterbeen oor sy linkerbeen gekruis, toe besef dat dit negatiewe lyftaal is en homself herrangskik sodat sy bene effens oop was, sy hande op sy bobene. Dit was ’n ongemaklike posisie, maar hy het nie geweet hoe om anders te sit nie.

Sy het aanvanklik oor onbenullighede gesels. Hy het meestal geluister en tussenin instemmende geluide gemaak, haar soms aangemoedig om uit te brei op ’n sekere vertelling. Hy het die gesprek begin geniet. Toe hy weer iets aanbied om te drink, het sy dit weer van die hand gewys en sonder waarskuwing die doel van haar besoek verklaar. Saaklik soos ’n diagnose wat sy gemaak het na ’n mediese ondersoek.

“Ek is verlief op jou.”

Die kortverhaalskrywer het sy regterbeen weer oor sy linkerbeen gekruis. Hy het sy arms oor sy bors gevou. Maar dit was te laat. Die vrou se verklaring het hom soos ’n stormwind getref en van al sy sekerhede gestroop. Vir so lank as wat hy leef, was sy beginsels die fondament van sy bestaan. Was hy die seder van sy gemeenskap. Maar op daardie oomblik was hy ’n blaar wat op ’n voorafgekarteerde roete deur ’n uitdyende heelal gefladder het. Verbouereerd het hy deur die greep van die vrou se verklaring probeer breek. Maar hy was vasgedruk. Vir ’n oomblik het dit gevoel of iemand onbeweeglik op sy bors kom sit het.

Laat ons egter op hierdie punt vir die voornemende kortverhaalskrywer in die bresse tree. Hy het nie onmiddellik toegegee nie. Inteendeel, hy het baie rasioneel opgetree. Hy het die algemene praktisyn vriendelik bedank vir die blyk van belangstelling. Dit sou egter nie verder gevoer kon word nie.

“Want ek is getroud,” het hy gesê.

“Gelukkig,” het hy as nagedagte bygevoeg.

“Dit kan boonop katastrofale gevolge vir my beroep inhou,” het hy geskerm.

 “En jy is ook getroud,” het hy afgesluit.

Dit was nie duidelik of dit ’n chauvinistiese strategie van hom was om die vrou as inisieerder te herposisioneer nie. Of dalk het hy regtig probeer om moreel korrek te wees. Hy was immers ongemaklik. Maar ongemak is nie moraliteit nie.

Enige poging om sy intensies te bepaal sou dus bloot bespiegeling wees. Op die oog af behoort daar geen rede te wees om die kortverhaalskrywer se integriteit in twyfel te trek nie.

Maar laat die daaropvolgende gebeure vir hulleself spreek. Die volgende dag het hy ’n kamer by die bekende hotel in die stad bespreek. Daarna het hy die algemene praktisyn gebel.

“Ek kry jou oor ’n uur by die bekende hotel in die stad,” het hy gesê.

Die kortverhaalskrywer het reeds in die kamer gewag toe sy daar aankom. Teen daardie tyd het hy reeds die situasie geanaliseer en gerasionaliseer. Dit het gehelp om sy skuldgevoelens na die buitenste wyke van sy denke te verban.

Dis vreemd hoe wellus mens se waardigheid reduseer. Sy het toegelaat dat hy haar ontklee. Hy het dit effens dierlik gedoen. Asof hy haar klere van haar wou afskeur. Tussenin het hy soveel as moontlik van haar lyf probeer vasgryp. Haar boude, haar borste, haar dye. Hy het elke ronding van haar lyf gulsig probeer opraap. Sy asem het gejaag. Daarna het hy homself ontklee. Toe het hy in haar lyf ingesyfer soos branderskuim in seesand. Homself verloor in haar bodemlose diepte.

Die pyn in sy bors was onverwags. Hy het eers gedink dit is ’n massiewe orgasme. Maar dit het hom brutaal teen die bed vasgedruk. Hy wou regop sit, maar iets het sy skouers so styf vasgehou dat dit onuithoudbaar begin pyn het. Eers toe het hy besef wat besig is om te gebeur. Sy sweet was koud en hy was lighoofdig.

“God nee, nie hier nie,” het hy gedink.“Nie hier nie. Hulle kan my nie hier kry nie. My beroep.”

Hy het homself regop gedwing en met sy regterarm probeer aantrek. Hy het probeer om hard te hoes. Dit was seer. Maar hy het aangehou, homself gedwing om te bly leef.

Sy linkerarm kon nie beweeg nie. Teen die tyd dat hy sy skoenveters vasgemaak het, was sy hemp deurdrenk van sweet. Dit het gevoel of hy in ’n bad ys lê.

Hy het homself na die deur van die kamer toe geforseer. Die laaste ding wat die kortverhaalskrywer kan onthou, was sy hand op die knop van die kamerdeur. Hy het geen benul hoe hy tot buite in die straat gekom het nie.

’n Hospitaalsuster was besig om die monitors langs sy bed na te gaan toe hy sy bewussyn herwin het.

“Wat het gebeur?” wou hy by haar weet.

“Hartaanval. Bly om jou terug te sien. Ek het gedag ons verloor jou vandag.”

“Waar?”

“Op die sypaadjie voor die bekende hotel in die stad. Gelukkig vir jou het die persoon wat die ambulans ontbied het, mediese kennis. Sy het jou gestabiliseer.”

“Wat is haar naam?” wou hy weet.

“Ek weet nie. Die paramedici sê sy het verdwyn nog voor hulle haar persoonlike besonderhede kon afneem. Een van hulle dink sy is ’n dokter. Hy het haar al hier by die hospitaal gesien. Maar ek is baie dankbaar vir haar, wie sy ook al is. As dit nie vir haar was nie, was die oulikste dominee wat ek ken, bokveld toe.”

Eers toe het hy haar herken as die jong meisie wat gereeld in die voorsanggroep by die kerk optree.

Die kortverhaalskrywer het die algemene praktisyn nooit weer gesien nie. Nie eers in die kerk nie. Soms wens hy heimlik dat daardie aand anders verloop het. Hoe sou die verhaal dan ontvou het?

Maar soos die leser weet, is dit middelkennis, daardie onweetbare ruimte waarin slegs God – en skrywers – kan sien wanneer verhoudings begin en eindig.

 

Klik hier vir meer besonderhede oor die kompetisie

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top