Vervaldatum-kompetisie: Annelien van toe-en-nou

  • 0

Annelien druk die verkyker teen haar oë. Sy draai aan die fokusknop tot die eiland soos ’n groot grys homp in die see voor haar oë verrys. Molène. Sy zoem ’n bietjie verder uit. ’n Ent agter Molène, in die grou see, kan sy vaagweg die eiland Ouessant uitmaak. Net daar het die Drummond Castle op 16 Junie 1896 gesink. Die passasierskip het, soos soveel kere vantevore, pronkerig uit Kaapstad se hawe gevaar. In haar gedagtes sien sy die passasiers op die dek wat jolig vir familie op die kaai wuif, terwyl die skeepshoring brom-brom groet. In elke kajuit was daar ’n mens met ’n storie wat in Engeland waar gemaak moes word.

“Ek kan dit nou nie meer langer met jou en jou sinkende-skip-boek uithou nie,” het Jans gesê toe hulle mekaar die laaste keer gesien het. “Dit is asof die navorsing vir die boek jou hele lewe oorgeneem het. Jy het verlief geraak op skeepswrakke en dooie matrose van honderde jare gelede en van my vergeet.”

“Hierdie boek is van groot belang vir ons land se maritieme geskiedenis. Dit is ook my groot kans om naam te maak in die museum-wêreld,” het sy deur stywe lippe gesê. Kwaad vir haarself dat sy en Jans al weer hulle ou baklei baklei.

“Wie is jy besig om hier vir die gek te hou, Annelien? Jou biologiese klok tik teen die spoed van wit lig. Ons moet trou en met ’n gesin begin voor dit te laat is. Jy kan nie meer agter skeepswrakke aanflenter nie. Ons het nog altyd gedroom dat ons eendag sal kinders hê. Ek wag al baie jare geduldig vir jou, maar my geduld is nou besig om op te raak. Weet jy, partykeer dink ek jy gebruik die navorsing as ’n verskoning om nie met my te trou nie.”

“Dit is nie waar nie. Natuurlik wil ek met jou trou. Ek wil net eers na Bretagne toe gaan om met my eie oë te sien.” Haar trane was naby.

“Wat wil jy sien?” Jans was op die punt van ontplof. “Die wrak lê op die bodem van die see. Die mense wat iets van die skip af geweet het, is al dekades lank dood. Daar is niks om te sien nie, verstaan jy dit nie?”

“Ek het baie vrae wat nog nie beantwoord is nie en ek is seker ek gaan die antwoorde op Oussant kry,” het sy koppig gesê.

“Jy gaan nooit die antwoorde kry nie.” Jans het diep gesug. “Annelien, ek wil nie meer vir jou wag nie. Jy kan Bretagne toe gaan, dis fine met my. Maar dis jou laaste kans. As jy terugkom, het jy drie maande tyd om met my te trou en by jou werk te bedank. Anders gaan ek iemand anders soek wat dieselfde drome as ek oor die lewe het.”

“Het jy heeltemal mal geword? Om so 'n vervaldatum aan my te stel? Wat dink jy van my? Dat ek een of ander opwenpop is wat alles presies gaan doen soos wat jy dit wil hê? Dit is mý lewe en mý loopbaan. Ek sal self daaroor besluit!” Sy het die trane uit haar oë gevee.

“Ek moet aan myself dink. Ek wil graag ’n vrou en kinders hê. Van wanneer af het dit ’n sonde geword?” het Jans gevra voor hy by haar woonstel uitgestorm het.

Die Drummond Castle het veilig gevaar tot by dié eilande. Die see was stil en Londen-hawe het om die draai gelê toe die skip op ’n sandbank gestrand het. Van die meer as 200 mense op die skip het net drie oorleef. As sy haar verbeelding gebruik, kan sy sien en hoor hoe die histeriese mense probeer om van die sinkenede skip af te kom. Vrouens en kinders wat deur die watermassa al nader aan die eilandrotse geslinger word. Een van die oorlewendes het in ’n koerantartikel vertel hoe ’n desperate vrou hom om die keel gegryp het in die kolkende water. Hy moes haar met sy laaste krag van hom af losskeur.

Die wind op die pier sny deur merg en been. Daar is nie ’n mens in sig nie. Wit skuimperde ry op die onstuimige golwe. Die seewater klots teen die hawe se klipmure.

“Madame!” Die vreemde stem laat haar vinnig omkyk. Die man wat na haar toe aangestap kom, lyk soos die prototipe-Fransman waarvan 'n mens in liefdesverhale lees. Swart hare, fletsblou oë en ’n vasberade ken.

Ag net nie dit nie, dink Annelien. Ek het sowaar nie krag vir ’n gladde Fransman nie. “Oui?” vra sy dan op haar beste Frans.

“As jy wil, kan ek jou môre op my boot na Ouessant toe vat,” sê hy in perfekte Engels. “Jy is hier vir die skeepswrakke, nè? Toeriste wat buite seisoen kom, kom altyd daarvoor.”

Sy hou nie daarvan om ’n toeris genoem te word nie.

“Luc Cottet,” sê hy en steek sy hand uit. Sy oë hou hare vas. Sy kan nie besluit of hy besig is om haar vir die gek te hou of nie.

“Annelien Bakker.”

Sy handdruk is ferm. “Na watter skeepswrak is jy op soek?”

Sy glimlag haar liefste glimlag. “Dít, meneer Cottet, het net mooi niks met jou te doen nie.”

Hy kyk verbaas na haar. “O, maar dis net waar jy die fout maak, mon chéri; in Le Conquet het alles altyd met almal te doen.” Hy vroetel in sy baadjiesak en haal ’n visitekaartjie uit. “Ek drink elke middag so teen sesuur hier ’n glasie wyn. Jy is welkom om by my aan te sluit.” Hy prop die kaartjie in haar hand. Sonder om iets verder te sê loop hy by haar verby.

Annelien kyk hoe hy om die hawemuur verdwyn. “Les Boucaniers, 6 rue Poncelin, Le Conquet,” lees sy op die kaartjie. Wat ’n vermetele man, dink sy en stap vinnig terug na die huisie toe wat sy gehuur het.

Sy stoot die luike in die sitkamer oop. Staalgrys lig stroom in. Daar is hout in die vuurherd. Sy steek dit aan en verwonder haar aan al die tradisionele Bretonse bordjies wat teen die skoorsteen hang. Jans sou van die bordjies gehou het, dink sy met ’n pyn in haar hart.

’n Mistroostige reëntjie gooi ’n kombers oor die hoekie van die see wat sy van die sitkamervenster af kan sien. Die bure aan die oorkant van die straat loer vir haar deur hulle venster. Sy maak haar joernaal oop en lees weer die fotostaat van die vergeelde briefie wat een van die kelnerinne, AS Jones, voor haar vertrek uit Kaapstad op die Drummond Castle vir haar dogtertjie in Engeland gepos het: “My dear Nellie, I am sure you think I have forgotten you this long time. But, my dear, I am always thinking of you and hope before very long to see you.” Annelien vee die trane wat oor haar wange stroom, met die agterkant van haar hand af.

Laatmiddag trek sy haar parka aan en loop teen haar beterwete na die restaurant toe. Van buite af kan sy sien hoe Luc Cottet alleen by ’n tafeltjie sit. Wat besiel haar? Wat sal Jans van sulke vrypostige gedrag sê?

Luc sien haar en beduie dat sy moet inkom.

Hy het liewe oë, dink sy skielik.

“So, jy is Suid-Afrikaans,” sê hy toe hulle elkeen met ’n glas wyn sit. “Kom ek raai: jy het na spore van die Drummond Castle kom soek?”

“Ja, jy is reg,” sê sy verbaas. “Ek doen navorsing oor die skip.” Sy sien haar glimlag in sy oë terug.

“Glo jy in toeval?”

“Ek noem dit nie toeval nie, maar ja, ek glo dat daar ’n hoër hand in ons lewens werk. Hoekom?”

“Ek restoureer ou skilderye. Gewoonlik werk ek in Parys, maar vir my huidige projek bly ek hier by my ma in Le Conquet. Ek maak op die oomblik die skilderye van een van my voorsate, Charles Cottet, skoon. Hy het ’n groot deel van sy oeuvre hier in die omgewing geskilder.”

“Wat het dit met die Drummond Castle te doen?”

“Charles Cottet het ’n skildery van een van die slagoffers van die Drummond Castle gemaak. Met die skildery het hy effektief sy eie ondergang bewerkstellig.”

“Ek verstaan nie?”

“Drink jou wyn klaar, dan gaan wys ek jou,” sê hy laggend.

Hulle loop in ’n antieke straatjie tussen ou vissershuisies af. Hulle voetstappe weergalm op die ronde klippies waarmee die pad geplavei is.

“Dit was altyd die inwoners van die eilande se werk om die vreemde lyke wat aanspoel, behoorlik te begrawe,” vertel Luc. Annelien is verbaas oor die rustigheid wat sy by hom voel. Veilig en onbedreigd.   “Hulle was trots daarop om elke vreemdeling ’n tradisionele Bretonse begrafnis te gee. ’n Afskeid met liefde en respek.”

Hy vat haar na ’n atteljeetjie toe agter in ’n vissershuisie. In die middel van die vertrek staan ’n esel met ’n skildery op. Annelien snak na haar asem. “Alice Reid.” Sommige historici glo dat die kindjie op die skildery Alice Reid is. Sy was die jongste passasier op die Drummond Castle. Toe sy met haar navorsing begin het, het Annelien dikwels na afbeeldings van die skildery op die internet gekyk. Intussen het sy skoon daarvan vergeet. Op die skildery word die lykie van ’n dogtertjie, aangetrek in tradisionele Bretonse kleertjies, op ’n bed uitgestal. 'n Eilandvrou waak langs haar. Daar is blomme en kerse in omgekeerde glasvase om die lykie gepak. Bokant die kussing hang ’n blommekrans met blou en rooi linte.

“Dit is ’n makabere skildery,” sê Annelien.

“Jy is nie die enigste een wat so dink nie. Die kunskritici het Charles destyds gestenig oor die skildery. Niemand kon glo dat hy so iets sou wou skilder nie. Hy het nie eens geweet wie die kind was nie. Sy reputasie as skilder was vernietig. Na die affêre het hy ophou skilder. Aan die einde van sy lewe was hy ’n tragiese figuur.

“Hoekom het hy dit in die eerste plek geskilder?”

“Om sy lieflingslandstreek en hulle gewoontes te dokumenteer.”

“Maar dit is so kil en harteloos.” Daar sit skielik ’n knop in haar keel. “Hoe kon hy 'n kinderlykie skilder sonder dat sy hart breek?”

Luc trek sy skouers op. “Ek weet nie. Hy het geglo dat sy werk belangrik was. Aan die einde van die negentiende eeu was die wêreld besig om vinnig te verander. Hy was bang dat dié stukkie volkskultuur vergete sal raak.”

Sy kyk met ’n kloppende hart na die skildery. ’n Mens kan die kind maklik vir ’n pop aansien as jy nie van beter weet nie.

“En dit is dus die toeval,” sê Luc. “Ons het die Drummond Castle gemeen. Hoe gereeld gebeur dit dat twee mense mekaar só raakloop?”

Hy trek haar styf teen hom vas. “Mon chéri, ons al twee sit met ons harte in die verlede,” fluister hy in haar hare.

Sy stoot hom liggies van haar af weg. “Ek weet nie of ek meer in die verlede wil leef nie,” sê sy. “Ek dink ek is voorlopig klaar daarmee om ander se geskiedenis op te teken. Ek wil teruggaan huis toe.”

Luc glimlag droewig. “Is daar iemand wat vir jou wag?”

“Ja,” antwoord sy. “Iemand wat ’n nóú-lewe saam met my wil leef.”

Kyk na die skildery van Luc Cottet.

 

Klik hier vir meer besonderhede oor die kompetisie

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top