Vervaldatum-kompetisie: Agter die bamboesgordyn

  • 0

’n Stem wat deur die woonstelgebou weergalm, dring een winternag deur my drome. Dis nie ’n nagmerrie nie, want die stem kom duidelik deur die dun woonstelmure en deur die sagte Novilon van die verhitte vloere. Die stem skree op die ritme van ’n harde geklop aan ’n deur op die vloer bokant my woonstel. Ek is gewoond om geluide te hoor deur die dun mure tussen my en my bure – die klak-klak van die vrouens se hoë hakke op die marmertrappe, my buurman langsaan wat elke oggend vreugdevol sing in die stort, die geluid van paartjies wat liefde maak, kinders wat lag, televisies wat irriterend hard aan is – maar vannag is die geluid onheilspellend.

Na ’n wagtyd van asem ophou en hoop dat “hy” sal opgee en weggaan, hoor ek ’n kraakgeluid soos die deur onwillig, stadig, oopgemaak word, seker net op ’n skrefie. ’n Vrou se stem klink smekend van agter die beskerming van die half-oop deur. Dit word beantwoord deur n dowwe slaangeluid, gevolg deur nog een en nog een ... Dit gaan nooit weer ophou nie, dink ek beangs en wonder wat ek moet doen. Wat kán ek doen? ’n Vreemdeling wat nie die taal praat nie; wat nie die realiteite van hierdie kultuur onder die daaglikse vernis van beleefde hoofbuiginkies ken nie; nie die reg het om in te meng in ’n samelewing waar ek slegs ’n gaswerker is nie.

Magteloos prop ek my ore vol watte en trek die duvet oor my kop om haar pyn te verdryf. Tog, deur die mure, dun soos bamboesgordyne, voel ek die houe op my siel, hou vir hou, totdat die kermgeluide geleidelik sagter word en uiteindelik – te skielik – ophou.

Na die koestering van my warm bed is die yskoue nag op die balkon ’n skok. Onder in die straat teken die ambulans se lig ’n blou kol op die ongerepte nagsneeu – ’n tydelike teken dat hier vannag iets ongehoords gebeur het. Sy word op ’n draagbaar ingelaai in die wit voertuig, wat dan geruisloos, sonder sirene, terug op sy eie spore die kil stadslandskap in verdwyn.

Dan is dit stil en donker – stil soos die spore op die nuwe sneeu, stil soos my kop agter die watteproppe, donker soos my kamer agter die bamboesgordyn voor die venster wat uitkyk op die wit winternag.

Suid-Korea
24 April 2010

 

Klik hier vir meer besonderhede oor die kompetisie.    

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top