Vertalers en tolke lewer onontbeerlike diens, sê ATKV

  • 0

“Afrikaans is ’n taal wat binne ’n meertalige konteks gepraat en bevorder word, en die ATKV beskou die werk van vertalers en tolke as onontbeerlik. Ons wil graag op vertalersdag hulde bring aan die mense wat agter die skerms werk om die voortbestaan van al Suid-Afrika se amptelike tale te bevorder,” sê Karien Brits, bestuurder: taalaangeleenthede by die ATKV.

Internasionale vertalersdag word elke jaar op 30 September,  die feesdag van die Heilige Hieronymus, gevier. Hieronymus (in Engels bekend as St. Jerome) was ’n priester en teoloog wat in die vierde eeu na Christus geleef het en veral bekend is vir sy Latynse vertaling van die Bybel. Hy word beskou as die beskermheilige van vertalers.

Die tema van die vertalersdag word elke jaar deur die internasionale federasie vir vertalers (FIT – Fédération Internationale des Traducteurs) vasgestel. Vanjaar se tema is “Taalregte: essensieel vir alle menseregte.”  Doeltreffende kommunikasie is nodig om menseregte soos die gelyke regte tot waardigheid, vryheid, geregtigheid, gesondheid en vrede af te dwing, en die mees doeltreffende kommunikasie geskied gewoonlik in die moedertaal.

Suid-Afrikaanse vertalers het ’n belangrike rol te speel  as daar gestalte aan die Wet op die Gebruik van Amptelike Tale gegee word. Volgens hierdie wet sal staatsinstellings voorsiening moet maak vir ten minste drie amptelike tale.  By ’n simposium oor die toepassing van hierdie belangrike wetgewing wat onlangs deur die ATKV aangebied is, het deelnemers tot die slotsom gekom dat daar  ’n hele aantal knelpunte rondom die toepassing van taalbeleid in Suid-Afrika is, maar ook  heelwat geleenthede.

Prof. Theo du Plessis van die Eenheid vir Taalfasilitering en -bemagtiging aan die Universiteit van die Vrystaat, wat die hoofspreker tydens die ATKV-taalsimposium was, het ’n beroep gedoen op die taalsektor van Suid-Afrika om as ’n konstruktiewe en deelnemende waghond ’n deurslaggewende rol te speel. “Sodoende kan die taalsektor ’n besliste bydrae lewer tot die kultivering van sosiale kohesie, gekoester rondom ons lewende meertaligheid op gemeenskapsvlak, in stede van gebou rondom subtiele taaldwang.”

Cerneels Lourens, een van die sprekers by die ATKV-taalsimposium, meen die intellektuele Afrikataalsprekers moet standpunt inneem oor hul taalregte. “Die saak vir taalregte is egter nie bloot ’n saak teen Engels nie. Dit handel oor die onbillike behandeling van die ander tien amptelike tale. Ons moet alle Suid-Afrikaners bewus maak van hul taalregte, en ons moenie medewerkers wees aan onbillike taaldiskriminasie nie. Ons versuim om ons taalregte op te neem en af te dwing in hierdie uur van taalregontwikkeling, maak van ons onbillike taaldiskrimineerders,” het Lourens gesê.

Japie Gouws, die besturende direkteur van die ATKV-groep, het dit benadruk dat die ATKV vasbeslote is oor die bevordering van meertaligheid, maar dat dit nie die organisasie se styl is om “handtekeninge in te samel, plakkate te swaai of hof toe te gaan” oor Suid-Afrikaners se regte nie. “Ons glo steeds dat ’n konsulterende en oplossing-soekende benadering die gewenste proses is en die beste resultate behoort te lewer.”

Gouws meen ons kan egter nie net altyd die staat blameer vir die toedrag van sake nie. “Die sakesektor, organisasies en individue dra ook nie altyd by tot die behoud en uitbouing van inheemse tale nie. Die ekonomie word dikwels as sondebok gebruik met die verskoning dat dit goedkoper is om alles maar net in Engels te doen.”

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top