(Vertaling van "Vrijheid" deur Marion Bloem)
Vryheid
As vryheid beteken:
dat jy jou bek moet hou
want ek het iets te sê
As vryheid beteken:
dat jy agter tralies sit
en ons sonder vrees leef vir jou,
die vreemdeling met anderse doen en late
As vryheid beteken:
dat die dag van môre
gewetenloos bepaal word deur vandag
en dit vandag saai en sat sal maak
As vryheid beteken: geslote deure en hoe
ek in vryheid op die skerm loer dat alles
in die buurt tog veilig is
As vryheid beteken:
dat ek rustig slaap
omdat die monde
van ander kwaadwillig gesnoer is
As vryheid beteken:
Ek eet wat en wanneer ek wil,
Maar my skille val in die koerant waarin
ander se hongersnood verswyg word
As vryheid beteken: in onkunde leef
hoe ek bevry is,
wat my vry hou,
of wat my daagliks in vryheid vasketting
As vryheid beteken: wag tot ander my
van my ingewortelde vrese bevry
As vryheid my gedagtes salwe
As vryheid om en om en in my dwarrel
maar vir jou is dit steeds duister
As vryheid my beskerm teen jou idees
wat te vreemd en anders is
As vryheid vir my vandag so
vanselfsprekend lyk,
maar niks vir jou beteken
Dan is vryheid munt vir my
en kop-af vir jou
Dan is vryheid wind en willekeurig
Maar dit staan my wel vry
om van my lekkerlyfvryheid - met
wedersydse verdrag natuurlik -
tydelik of ewig
af te staan om jou
van my verstikkende vryheid
te bevry