(Vertaling van "Vrijheid" deur Marion Bloem)
Vryheid
As vryheid my muilband
wil ek tog iets sê
As vryheid jou wese agter tralies plaas, want
dan hoef ons nie bang te wees
vir al jou ander aanwesighede, jou anders doen en anders
late
As vryheid die dag van môre
gaan bepaal deur van vandag
minder as ’n dag te maak
As vryheid deure sluit
om vrylik na die skerm te kyk
na wat veilig buite die buurt moet pryk
As vryheid jou rustig laat slaap
oor ander hul tonge moedswillig
ontneem is
As vryheid jou laat eet wat en wanneer jy wil
maar die skille in die koerante laat val
waar die honger verswyg word
As vryheid my nie inlig wat my
vrymaak, my vry hou, my
vryheid elke dag gevange neem
As vryheid ’n wagtyd inhou totdat ander
my van my angste bevry waarop ek
heilig vertrou
As vryheid my gedagtes laaf
As vryheid in en om en deur
my waai,
maar vir jou geen omvang het nie
As vryheid my beskerm
teen jou idees wat
vir my te vreemd is
As vryheid vir my vandag so
vanselfsprekend lyk, en jy dit nie
begryp nie
Dan is vryheid munt vir my
en kruis vir jou
Dan is vryheid lug en onbevange
Maar miskien stel dit my vry
om iets omtrent my wonderlike vryheid – met
wedersydse welwillendheid natuurlik –
tydelik of vir langer duur
af te staan om jou
van my verstikkende vryheid
te bevry.

