Vertaalkompetisie: Tulpe

  • 0

Die tulpe is te vlambaar, dit is winter hier.
Kyk hoe wit is alles, hoe stil, hoe ingesneeu.
Ek leer vredigheid aan terwyl ek net stil alleen lê
Soos die lig lê op hierdie wit mure, hierdie bed, hierdie hande.
Ek is niemand nie; ek het niks met uitbarstings te doen nie.
Ek het my naam en my dagklere weggegee vir die verpleegsters
En my geskiedenis vir die narkotiseur en my liggaam vir die chirurge.

Hulle het my kop gestut tussen die kussing en die laken se vou
Soos ’n oog tussen twee wit ooglede wat nie wil sluit nie.
Dom kyker, dit moet alles wil inneem.
Die verpleegsters loop en loop verby, hulle pla my nie,
Hulle gaan verby soos seemeeue die land in vlieg in hulle wit kappies,
Doen dinge met hulle hande, die een soos die ander,
Sodat dit onmoontlik is om te weet hoeveel van hulle daar is.

My liggaam is ’n spoelklippie vir hulle, hulle versorg dit soos water
Die spoelklippies versorg waaroor dit moet vloei en saggies glad maak.
Hulle bring vir my gevoelloosheid in hulle helder blink naalde, bring vir my slaap.
Noudat ek myself verloor het, is ek siek vir bagasie –
My blinkleeroornagtas soos ’n swart pillehouer,
My man en kind wat glimlag op die gesinsfoto;
Hulle glimlagte steek in my vel in vas, klein glimlaghakies.

Ek het dinge laat wegval, ’n dertig jaar oue vragboot
Wat koppig vasklou  aan my naam en adres.
Hulle het my van my liefdevolle assosiasies skoon gedep.
Bang en naak op die groen plastiekgekussingde trollie
Het ek my teestel, my laaikaste vol linne, my boeke
Sien wegsink, en die water het oor my kop gegaan.
Ek is nou ’n non, ek was nog nooit so suiwer nie.

Ek wou nie blomme hê nie, ek wou net
Met my hande so omgedraai na bo lê en heeltemal leeg wees.
Hoe vry is dit, jy weet nie hoe vry nie –
Die vrede is so groot dat dit jou verbyster
En dit vra niks, ’n naambandjie, ’n speld.
Dit is waarmee die dooies afsluit, uiteindelik; ek stel my voor
Hoe hulle monde daaroor toemaak, soos oor ’n Kommunie-tablet.

Die tulpe is eerstens te rooi, hulle maak my seer.
Selfs deur die geskenkpapier kon ek hulle hoor asemhaal,
Liggies deur hulle wit windsels, soos ’n ontsaglike baba.
Hulle rooiheid praat met my wond, dit vind aansluiting.
Hulle is subtiel: dis asof hulle dryf, al druk hulle my af
En ontstel my met hulle skielike tonge en hulle kleur,
’n Dosyn rooi sinkers om my nek.

Niemand het my voorheen dopgehou nie, nou word ek dopgehou.
Die tulpe draai na my toe, en na die venster toe agter my
Waar die lig een maal per dag stadig wyer word en stadig yler,
En ek sien myself, plat, verspot, ’n papierknipskaduwee
Tussen die oog van die son en die oë van die tulpe,
En ek is sonder ’n gesig, ek wou myself uitwis.
Die helder tulpe eet my suurstof.

Voor hulle koms was die lug mooi kalm,
Dit het gekom en gegaan, asemteug vir asemteug, moeiteloos.
Toe het die tulpe dit kom vul soos ’n harde lawaai.
Nou steek die lug vas en maal rondom hulle soos wat ’n rivier
vassteek en maal rondom ’n gesinkte roesrooi enjin.
Hulle konsentreer my aandag wat tevrede was
Om te speel en te rus sonder om gebind te wees.

Ook die mure lyk asof hulle hul verwarm.
Die tulpe moet agter tralies wees soos gevaarlike diere;
Hulle gaan oop soos die bek van die een of ander Afrika-kat,
En ek is bewus van my hart: oop en toe maak dit
Sy bak rooi blomme uit suiwer liefde vir my.
Die water wat ek proe, is warm en souterig, soos die see,
En kom van ’n land so verafgeleë soos om heel te wees.

[Vertaal deur Paula Hartzenberg. Oorspronklike gedig deur Sylvia Plath..]
 

Klik hier vir meer besonderhede oor die kompetisie

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top