Vertaalkompetisie: Tulpe

  • 0

Die tulpe is te uitbundig; dis winter hier
Kyk hoe wit is alles, hoe stil, hoe toegesneeu
Ek leer gelykmatigheid aan, lê alleen en stil
Soos die lig leun teen hierdie wit mure, hierdie bed, hierdie hande
Ek is niemand; uitbarstings laat my koud
Ek het my naam en my klere vir die verpleegsters gegee
My geskiedenis vir die narkotiseur en my lyf vir die snydokter

Hulle het my kop gestut tussen die kussing en die lakensoom
Soos ’n oog tussen twee wit lede wat nie wil toemaak nie
Simpel pupil moet alles inneem
Die verpleegsters loop deur, kom deur; hulle is nie moeite nie
Hulle sweef deur nes binnelandse seemeeue met hulle wit kepsies
Doen goed met hulle hande, die ene nes die ander
dis onmoontlik om te weet hoeveel hulle is

Vir hulle is my lyf ’n spoelklip; hulle gee dit die aandag wat water
klippe gee wanneer dit met ’n sagte gladmaak daaroor spoel
Hulle bring verdowing in hulle blink naalde, hulle bring slaap
Noudat ek myself verloor het is ek siek vir bagasie
My glansleer-oornagtas soos ’n swart pildosie
My man en kind glimlag vanuit ’n gesinsfoto
Hulle glimlagte prik my vel, klein glimlagstekels

Ek het dinge laat slaplê, ’n dertigjare vragboot
Wat hardkoppig vasklou aan my naam en adres
Hulle het my liefdevolle verbintenisse weggedep
Bang en kaal op die groen plastiekgestopte trollie
Het ek gesien my teestel, my linnekas, my boeke
Sink weg uit my gesigsveld en die water was oor my kop
Ek is nou ’n non; ek was nog nooit so rein nie

Ek wou nie blomme gehad het nie, ek wou net
Met my handpalms oop lê en heeltemal leeg wees
Hoe vry is dit; jy het geen benul hoe vry nie –
Die vrede is so groot dit verbluf jou
En dit kos niks nie: ’n naamplaatjie,’n paar snuisterye
Dis hoe die dooies tuiskom, uiteindelik, dink ek, hulle
lippe omvou dit soos Nagmaalbrood

Die tulpe is in elk geval te rooi, hulle maak my seer
Ek kon hulle selfs deur die geskenkpapier hoor asemhaal
Liggies, deur die sagte sneeswindsels soos ’n aaklige baba
Hulle rooiheid praat met my wonde, korrespondeer
Hulle is subtiel, asof hulle dryf, al druk hulle my neer
Ontstel my met hulle skielike tonge en hulle kleur
’n dosyn rooi loodsinkers om my nek

Eers het niemand na my gekyk nie; nou word ek dopgehou
Die tulpe draai na my toe en na die vensters agter my
Waar die lig een keer per dag stadig groei en stadig krimp
En ek sien myself plat, belaglik, papierpopskaduwee
Tussen die blik van die son en die tulpe se oë
En ek het geen gesig nie; ek wou myself uitwis
Die lewenslustige tulpe vreet my suurstof

Voor hulle koms was die lug ewe rustig
In en uit, asemteug na asemteug, maklik
Toe vul die tulpe dit soos ’n harde geraas
Nou klots en kolk die lug om hulle soos ’n rivier
Klots en kolk om ’n gesinkte rooigeroeste enjin
Hulle vang my aandag vas wat gelukkig was
Om vry te speel en rond te dwarrel

Die mure lyk ook of hulle om die warmte koukus
Die tulpe hoort agter tralies soos gevaarlike diere
Hulle gaan oop soos die bek van ’n groot leeu
En ek is bewus van my hart: hoe oop en toe
Gaan sy bak rooi bloeisels uit pure liefde vir my
Ek proe water so lou en sout soos die see
En dit kom van ’n land so ver weg soos welsyn

[Vertaling van "Tulips" deur Sylvia Plath. Klik hier om die oorspronklike gedig te lees.]

Klik hier vir meer besonderhede oor die kompetisie

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top