Rooi was jou kleur.
Indien nie rooi nie, dan wit. Maar rooi
was wat jy om jou gevou het.
Bloedrooi. Was dit bloed?
Was dit rooi oker, om die dooies te verwarm?
Hematiet om te verewig
die kosbare oorgeërfde beendere, die familiebeendere.
Toe jy oplaas jou sin kry,
was ons kamer rooi. ’n Veroordelingskamer.
Geslote kis vir juwele. Die mat van bloed
met donker patrone, gestoldes.
Die gordyne – robynkleur koordferweel-bloed.
Deursigtige bloedvalle van plafon tot vloer.
Kussings dieselfde. Insgelyks
rooi karmyn op die vensterbank.
’n Kloppende sel. Asteek-altaar – tempel.
Net die boekrakke het ontsnap in witheid.
En buite die venster
papawers dun en rimpel-yl
soos die vlies op bloed.
Salvias, waarna jou pa jou vernoem het.
Soos bloed wat pols uit ’n wond.
En rose, die hart se laaste klonte.
Katastrofies, arterieel, gedoem.
Jou lang fluweelromp, ’n bloedige verband.
’n Luukse wynrooi boergonje.
Jou lippe ’n ondergedompelde, diep karmosynrooi.
Jy het gebuitel in rooi.
Ek het rou gevoel – soos die kraakvars gaaskante
van ’n verhardende wond. Ek kon raak
aan die oop aar daarin, die gekorste glans.
Jy het alles wit geverf,
en dit dan met rose bespat, dit verslaan,
Daaroor geleun, dit met rose bedrup,
huilende rose, en nog rose,
met somtyds, daartussen, ’n klein blou voëltjie.
Blou was beter vir jou. Blou was vlerke.
Visvanger-blou sy van San Francisco
het jou gevou in jou swangerte
in smeltkroesige omhelsings.
Blou was jou vriendelike gees – nie duiwel nie
maar geëlektrifiseerd, ’n waakengel, nadenkend.
In die pit van rooi
het jy geskuil van die beenkliniek-witheid.
Maar jou verlore juweel was blou.
[Vertaal deur Helize van Vuuren.Vertaling van "Red" deur Ted Hughes uit die bundel "Birthday Letters". Klik hier om die oorspronklike gedigte lees.]
Klik hier vir meer besonderhede oor die kompetisie.


Kommentaar
'n Lieflike vertaling, Helize! Absoluut skitterend. Johann