Verstrooitjie

  • 0

daardie jaar het alles hier
soos papier verdof:

ouma het oornag verwelk
pa en ma moes koes
vir mis in die melk
met boetie wat suip soos ’n vis
terwyl sussie skop-skop
in die plaasdam
met oë wat omdop na die son

op die dorp is my maatjie
met die skaam ondermond
stadig gevreet
deur die hond van ’n buurseun
en my kunsjuffrou se vrugtehoed
het al meer na kompos geruik
as sy haar seerplek vir my wys
was my eie huil tjoepstil
asof iemand sjuut ... gesê het

op twaalf had ek lief gehaat
soos ’n slaapwandelaar gesteier
geweier dat die dood my heel insluk
die Bybel op geel kaartjies geskryf
laat voortleef teen my amper-lyf
in my skoolrok se boonste sak
digby my hart
soos ’n pleister oor ’n pitsweer

daardie jaar het die Here my
so jammer gekry
dat Hy meneer Ströh gestuur het
en ek agter in die klas kon sit
by die venster vyeboom waaragtige droom
die keer toe hy langs my tafel hurk
en vra: “Verstrooitjie, waar’s jy vandag?”
wou ek huil en lag lag en huil
oor die laaste oorlewende op die planeet
by my die stukkende stukkind wou weet:
“Is daar dalk ’n versie wat in jou skuil?”

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top