Verstedeling

  • 1

Fotobron: Canva

’n rukwind pluk my aan die hare in die rigting van die Baai
waar die Indiese Oseaan aangehol kom;
soos twee wilde diere met skuim om die bek
jaag die branders mekaar aan.

op die snelweg van die lewe is ek
en vinnig is ek ook in die tapisserie van teer verweef

ek vlug oor roesbruin spoorweë soos ’n koerslose meeu
sien weerkaatsings van myself in ’n betonreus se oë

mense met strak gesigte blits verby
en die stad draai gewillig haar ander wang

skemertyd rook sy blosend haar sigaret en 
blaas grysblou wolke oor die oseaan
en wanneer sy uiteindelik op haar sy draai

grom sy in haar slaap
en lê die see soos ’n groot draak en asemhaal

ek kyk vanuit die vensters van die stad se siel
sy lig haar sluier
sy wys my hoe lewe deur haar are pols
ek sien hoe trane agter haar oë brand

met ’n skulp teen my oor, hoor ek my hart na my roep
dan
met ’n Kaapse draai, keer ek terug
terwyl ’n blonde toekoms op my skoot lê en slaap

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top