Versoening met God in 30 Nagte in Amsterdam deur Etienne van Heerden

  • 0

Opsomming

In hierdie artikel word gepoog om die uitgangspunte van Etienne van Heerden in die roman 30 Nagte in Amsterdam rakende die versoening met God te oorweeg. Ten eerste word die karakters in die roman se beskouing ten opsigte van die plaasvervanging van Christus asook die implikasies van hulle standpunte oorweeg. ’n Teologiese beredenering van plaasvervanging en versoening volg daarna. Daar word gepoog om standpunte te evalueer deur middel van ’n literatuurstudie en eksegetiese en hermeneutiese beginsels. Die debat tussen John en Van Coller oor die terapeutiese implikasies van die literatuur word geneem as uitgangspunt vir die beskouing oor die aard van die ontknoping van die roman. Die bevinding is dat daar in die roman ’n oop einde is wat moontlik versoening veronderstel, of ook ontgogeling. Vanuit ’n teologiese perspektief word die versoening, soos deur Paulus verkondig, egter rede tot ’n lofuiting.

Trefwoorde: 30 Nagte in Amsterdam; versoening met God; plaasvervanging; trauma; lofuiting


Abstract

Reconciliation with God in 30 Nagte in Amsterdam by Etienne van Heerden

In this article the essential viewpoints of Etienne van Heerden in the novel 30 Nagte in Amsterdam concerning atonement and reconciliation with God is discussed. 30 Nagte in Amsterdam is regarded as Van Heerden’s best novel and has received excellent reviews (Cochrane 2009; De Villiers 2009; Human 2008; Painter 2008; Van der Westhuizen 2009). It was also awarded the prestigious Hertzog Prize for Afrikaans literature.

30 Nagte in Amsterdam is a novel with challenging and provocative themes. In the small South African town of Somerset East an uninspiring museum assistant, Henk de Melker, passes his time by writing short monographs on equally uninspiring people. His situation is rather gloomy, as he goes about doing research on Cornelius van Gogh, the lesser-known brother of Vincent and Theo van Gogh. His life changes dramatically when he receives a letter from the Netherlands from his long lost aunt, Susan or Zan, via the lawyer Grotius. It is clear that he is the heir of Zan and should go to Amsterdam to receive his inheritance of a house in Amsterdam. In Amsterdam he experiences much. In the midst of all his experiences he relives his life with Zan and his dysfunctional family. In a radical turn of events he is confronted with Zan’s still being alive and they return to South Africa. At the end of the novel Zan and Henk visit the place where Zan’s lover, Wehmeyer, was burned by the necklace method during the Struggle in the apartheid era. A naked Zan dances a macabre dance with a bone from Wehmeyer’s remains.

In this whole experience the question of substitution and atonement are raised again. Aspects of certain Christian views on substitution and atonement receive much attention. The whole question of how reconciliation between humans and God is achieved is raised. Zan questions the religion of the Calvinistic community and the emphasis on substitutionary atonement as it is presented to her in the church. She perceives the members of the church as hypocritical. It is, however, especially the views of atonement in the church community that are offensive to her.

Substitution plays an important role in Van Heerden’s work. The character Wehmeyer becomes a substitutionary figure, but despite her radical challenging of substitution in the atonement, Zan herself also becomes the bearer of her family’s ills. Substitution plays an important role in earlier works of Van Heerden. The death of Druppeltjie in Toorberg brings reconciliation to the community. In Die Swye van Mario Salviati the death of Mario is also substitutionary, and in In stede van die liefde the heart attack and bypass surgery and healing of the main character also emphasises substitution.

Regarding theological perspectives, it is clear that substitution plays a radically important role in the early church, as explained in 2 Cor. 5:11-21. Later on, four main interpretations of substitution and atonement were put forward. Firstly, that Jesus was punished in the place of humans so that they may receive salvation. Secondly, that Jesus is the example to be followed. Thirdly, that He is the One with whom there should be participation in His death to be included in his salvation. Fourthly, that He became man so that humans may enter into a union with God in the church and in Holy Communion.

In 30 Nagte in Amsterdam substitutionary atonement and reconciliation are discussed extensively. Although Zan rejects certain aspects of substitution as atonement, she becomes a substitute herself. The important role of Wehmeyer also remains an essential implication. The issue of Zan and Henk dancing on the grave of Wehmeyer again brings the whole question of substitution into the discussion.

Currently, there is an extensive debate between Van Coller and John concerning the therapeutic reading of literary texts, started by an important article by Van Coller (1997) on the digestion of guilt and historical miseries in Afrikaans literature. John (2010) is, however, very critical of the therapeutic reading of literary texts, but Van Coller is of the opinion that by saying that which cannot be said, the healing element can be discerned. John (2010:199) brings a certain perspective to the fore in 30 Nagte in Amsterdam. He opposes a therapeutic reading of the texts and does not regard the end as reconciliation that brings the reader to healing. Aesthetics, according to him, is not only the beautiful, the pure, the joyful, the well-formed, and comfort. It does not necessarily lead to enlightenment but also to the revelation of the non-transparency  of the transparent, which often leads to instability (John 2010:198).

However, it is not necessary to choose between the views of John and those of Van Coller. The end of the novel must be regarded as open-ended with different possibilities of how it may be read and understood. It could be therapeutic, with Zan’s behaviour as a catharsis of a violent and miserable past. This view is, however, so banal that the question could be asked whether it should be regarded as closure of the past at all.

In a theological evaluation the aspect of the One for the other, and the One in the place of the others, of Christ in the place of humans, should receive attention. Romans 5 plays an important role because it states that God loved humans while they were still his enemies. The love of God for his enemies is radical and total. Jesus as the second Adam brings this about. The implication is that from the substitutionary atonement the love of God is clear and that praise should be offered to him. This praise should acknowledge Christ as the One who gave himself for others. The writer may question aspects of theology and discuss the issues, but it is the theologian’s right to enter into discussion with him and to proclaim the praise of God in His reconciliation and substitution. That is why Paul cannot keep silent but praises God for the substitutionary atonement.

Key words: 30 Nagte in Amsterdam; reconciliation with God; substitution; trauma; praises of God.

 

1. Inleiding

Etienne van Heerden se 30 Nagte in Amsterdam is waarskynlik sy belangrikste werk. Dit het nie alleen gunstige resensies ontlok nie (Cochrane 2009; De Villiers 2009; Human 2008; Painter 2008; Van der Westhuizen 2009), maar het onder meer die Hertzogprys gewen. Die UJ-prys en die M-Net Letterkundetoekenning vir Afrikaans is ook vir dié roman aan die skrywer toegeken (De Vries 2009:13). Rosenthal (2010) is meer krities oor die roman en vind dit minder geslaagd as Toorberg en Die swye van Mario Salviati. 30 Nagte in Amsterdam is in verskillende tale vertaal en speel daarom ’n belangrike rol om die huidige Suid-Afrikaanse situasie teen die agtergrond van die apartheidsjare te verstaan. Verskillende karakters het ’n invloed op mekaar in hul soeke na sin en betekenis in die lig van die geskiedenis, sowel as ’n manier om te verstaan hoe hulle in hierdie huidige werklikheid met mekaar verband hou.

 

2. ’n Verhaal oor Suid-Afrika vanuit ’n belewenis in Amsterdam

30 Nagte in Amsterdam is ’n roman met verskeie en uiteenlopende fasette. Die onindrukwekkende museumassistent van Somerset-Oos, Henk (Ekskuus) de Melker, wat hom met ewe onmerkwaardige mense se dun monografieë besig hou, bevind hom in ’n wanhopige situasie. Hy doen navorsing oor Cornelius van Gogh om ’n monografie oor dié minder bekende broer van Vincent en Theo van Gogh te skryf. Sy lewe verander egter radikaal nadat hy ’n brief deur sy lank verdwene tante Susan of Zan in Nederland van die regsgeleerde Grotius ontvang. Hy word meegedeel dat hy haar erfgenaam is en dat hy haar huis in Amsterdam sal erf indien hy sy bestaan in Suid-Afrika prysgee en in Amsterdam gaan woon. Hy vertrek na Amsterdam, waar hy buitengewone ervarings in die stad beleef en terugflitse kry oor sy lewe in Suid-Afrika saam met sy wanfunksionele familie wat deur waansin, depressie en vele ander ellendes geteister word. Die ontknoping is verrassend wanneer hy ontdek dat tante Zan nog leef en hulle saam na die geteisterde Suid-Afrika terugkeer.

 

3. Versoening in 30 Nagte in Amsterdam

Godsdiensbelewing en aspekte van die Christelike godsdiens neem ’n sentrale plek binne hierdie roman in. ’n Tema wat sterk in die boek na vore tree, is die vraag na die versoening met God. Dit is belangrik om hierdie tema in ag te neem ten einde die boek te verstaan. Dit bied ’n nuwe invalshoek op die vraag na hoe God die versoening bewerkstellig het en of dit op ’n aanvaarbare wyse plaasgevind het. Die begrip plaasvervanging is van groot belang. Onder plaasvervanging word verstaan dat iemand of iets anders, soos byvoorbeeld ’n dier, die plek van ’n ander inneem om sodoende versoening vir daardie persoon met ander, met ’n gemeenskap of met God teweeg te bring. Die een wat die plek van die ander inneem, is die plaasvervanger wat deur sy/haar of dit se optrede hom of haar of dit prysgee ter wille van die ander. In Christus se geval gee Hy sy lewe ter wille van ander sodat hulle gered kan word.

3.1 Die bevraagtekening van ’n bepaalde beskouing van die Christelike godsdiens

Zan is ’n sleutelkarakter in die boek en die vraag na God speel ’n belangrike rol in haar lewe. Cochrane (2009) verwys soos volg na haar: “Tante Zan daag telkens stelsels van geheimhouding uit deur openbarende dinge te doen en te sê. Sy is ’n ontbloter (letterlik en figuurlik) en ’n ondermyner van die ‘Aansienlikheid’ waarna haar moeder, broer en ander familielede strewe.” Die tema van versoening met God speel op haar as aweregse karakter in. Human (2008) skryf:

Genadiglik verval 30 Nagte in Amsterdam nooit in eensydige Afropessimisme óf voorspelbare politieke korrektheid nie. Aan die een kant is dit ’n roman oor verset: veral Tante Zan se liggaamlike en ideologiese verset teen die stipsiende Afrikanernasionalisme en versmorende Calvinisme van haar tyd, onder meer beliggaam deur haar ma, broers en veral die dokter en die dominee wat, soos in die geval van soveel ander Afrikaanse romans, skreeusnaaks maar besonder stereotiep uitgebeeld word.

Haar houding teenoor hierdie beskouing van die godsdiens is vroeg reeds duidelik (49):1

Sondag na Sondag: Dominee, die vlermuis, MaOlivier, die bejaarde mannekyn in pêrels. Ekself, gesangeboekdraer vir MaOlivier, halwe tree en twee note agter. Ek, die Satansoog. Die Marxis. Nimfomaan. Kittelaarkoningin. Elke diaken is deel van die sameswering. Elke ouderling ’n slappiel …

Die beskrywing wat volg, is ’n radikale beskrywing van veragting vir die skynheiliges wat daar in die kerk sit en hulle met hierdie uitdrukking van godsdiens besig hou. Zan het hulle onder haar kerkhoed deurgekyk en is nie beïndruk nie (49). “Julle lyk na God se mislukte eksperiment. Die mensdom. Die dom mensdom. Roygbiv and more.” Ook die beskrywing van die dominee en sy vrou wanneer Zan ’n toeval kry, asook latere verwysings, spreek van weersin in hulle godsdiens (61; vgl. ook 84 en 259 e.v.). Die beskrywing van die Katolieke vader sluit hierby aan (183).

Zan se weersin kom baie sterk na vore in verdere gedeeltes wat beskryf hoe sy haar rug op haar voorouers se godsdienstige oortuigings draai en hoe sy self dan in die “struggle”-gebeure ingesleep word wat uiteindelik daartoe lei dat sy haarself op verskillende vlakke verraai, haar geliefde verraai, en ook teenoor die gemeenskap verraad moet pleeg. Daar kom egter reeds ’n belangrike wending wanneer sy weier om haar kameraad Cecil tydens sy verhoor te verraai. Haar besondere verhouding met Henk kom sterk na vore in die gedagtes wat beklemtoon hoe sy tog teenoor hierdie nefie van haar toegeneë bly.

3.2 Kritiek teen die offer van Christus as versoening

Weer eens kan na Zan se beskouing verwys word. Sy verset haar aanvanklik radikaal teen die offer van Christus as versoening:

Ek het dit als helder gesien nadat ek derm en vet sien borrel het: God het sy konsentrasie verloor. Liewe Here, u het hierdie aarde uit u greep laat glip en my Wehmeyer se wit skouer is in die braaivuur met ’n lang stok omgedraai asof dit ’n tjop is. Ek het u asem geruik, Liewenheertjie, en die braaivleis en verwyt. Dit is die uitbraai van jou geliefde. Ek kon hom eet. ’n Braaimaal, ’n Bloedproe. U sien: In die hart van u evangelie is die verraad aan die dierbaarste. Ek het u deurgrond: U is ’n wrede God. Wie sal ooit so iets ooit bedink? Jy hang jou seun op aan ’n kruis. Die hele aardbol moet daaroor op die knieë val. U verduidelik dit in lieflike terme. Jy braai jou geliefde in ’n Karoobraai. Dis vir die Stryd, kan jy glo. (50)

Die verdere implikasies van Zan se begrip van hierdie offer wat gebring word, word in die verhouding tussen haar en Wehmeyer uitgespel, wat dan vanweë sy foutiewe optrede in die struggle doodgemaak word en dan ook as ’t ware vir die struggle geoffer word (50): “Ja, ek sien dit nou. Ons sal mekaar vreet soos sprinkane blare vreet. Dis die siel van die offer wat u vra kyk nou Gideon Scheepers sy doppie het geklap en onse ander seun Sobukwe hulle het hom klaar geskraap en sy turf sit” (50).

Inherent in Van Heerden se teks loop daar egter ’n spanningslyn tussen Zan se verwerping van die offer van Christus en daarteenoor die besef dat die offer noodsaaklik is. Zan sê vir Henk (226): “Henkie, eet of jy sal geëet word. Ons moet van Jesus eet om te oorlewe.” Zan argumenteer dat niemand van die kruis hou nie, maar dat jy dit nodig het om te lewe.

Hierdie gedagtes word verder gevoer in die uitbeelding van die geskiedenis rondom Zan se vriend Wehmeyer.

3.3 Die Wehmeyer-geskiedenis

Die hele hantering van die Wehmeyer-geskiedenis word ’n draad wat van die begin tot aan die einde deur die boek loop. Die boek eindig wanneer Zan en Henk by die kol aankom waar Wehmeyer vermoor en tot as verbrand is, op ’n manier wat aan die halssnoermoorde herinner. Hulle spoor ook nog oorblyfsels van Wehmeyer se oorskot op. Wehmeyer word dus die een wat vir die struggle geoffer word, maar wat nie die heil kon bring nie.

Hierdie tema vind ’n mens ook in ander gedeeltes van die boek, byvoorbeeld waar die voëltjie wat in die myn moet aandui wanneer daar dodelike giftige gasse is deur te sterf, losgelaat word.

Zan beskryf die ontsetting (440):

En dan is daar die askol die nooitvolprese altaar die smeltplek van my Wehmeyer. Die kar hou stil. Godverlate. Kraaie. Henkman draai sy ruit af.

Ek klim uit, kaalgat soos my vinger. My Wee, hy is nou wind en weer, hy is nou verinneweerde aarde. Henk huiwer klim ook uit. Doef sy deur askies. Ons begin werk. Snuif rond ek en Sherlock-Henk soos twee muishonde boggelrug met onse snuffels teen die stof. Waar is die laaste van my nooitgesê my uitgehik my Carl Wehmeyer? Dis oor sy asplek dat ek nou staan, dis oor sy asse dat Henkman-toorder aangeloop kom, in sy hand die ene vraag die ekskuus maar is dit? Duisel gryp my o God skud my uit sy mou. En ja, lig soos lank gelede, lig soos die dag van gister, so lig soos die wit been wat hy my gee, stoffies afgeblaas. Oorblyfsel. Kaalgevreet deur die miere.

Die roman bereik dan moontlik ’n punt van katarsis: “O dis oor sy asse dat ek begin dans. Henkman kyk verbaas. Kyk-nouweertante!” (440). Cochrane (2009) vat Zan se optrede saam:

Tante Zan as nimfomaniese epileptikus is die hoofverteenwoordiger van sondige ondermyningswerk. Telkens span sy haar eksentrieke en afwykende karaktereienskappe as ’n strategie in om valse sekerhede en heilige koeie te ontmasker. Sy is ’n besweerder van verlies, verganklikheid en begeerte.

Henk se reis na Amsterdam eindig eers werklik wanneer hy saam met tante Zan by die askol kom. Hier verenig hulle en word die vraag na die versoening weer opnuut deur Van Heerden gevra. Het Wehmeyer die plaasvervanger geword wat tog versoening moontlik maak? Zan se eie rol word ook in die brandpunt geplaas omdat sy self ’n plaasvervangende rol inneem in die ritueel om die offer van Wehmeyer te verwerk. Daar word later hierna teruggekeer.

3.4 Aspekte van plaasvervanging

Ander aspekte stel ook die vraag na plaasvervanging aan die orde. Die toneel van Henk met die vergrootglas (132) skets iets van wreedheid teenoor die magtelose. Die rol van die “vogeltje” wat vryheid opsoek, maar weer teruggekry word, spreek eweneens van die weerlose wat ingeperk word en nie vryheid bereik nie (157, 251, 332).

Die tema rondom Van Gogh (14, 280, 305) speel ook ’n belangrike rol. Die skilder Vincent van Gogh word ’n teenpool van sy broer wat in Suid-Afrika sterf, ook aan sy eie hand. Hierdie gedagtes word verder uitgebou rondom die vraag na wie God is, hoe God in hierdie werklikheid sy heil voltrek en op watter wyse dit verstaan moet word.

Die vraag wat uiteindelik gevra moet word, is of 30 Nagte in Amsterdam, die vraagstuk van die versoening met God in die middel van bespreking stel en hoe daarop gereageer moet word.

 

4. Plaasvervanging in Van Heerden se oeuvre

Dit is duidelik dat die motief van plaasvervanging en versoening ’n belangrike plek in die huidige werk asook in vroeëre werke van Van Heerden inneem. Wehmeyer word inderdaad ’n plaasvervangende figuur. Die kritiek teen plaasvervanging in bepaalde beskouings word ook bevestig. Dit bly egter ’n vraag of daar nie juis vanuit die kritiek teen hierdie beskouings beweeg word na die erkenning van die saak van plaasvervanging as essensieel vir die menslike lewe nie.

Plaasvervanging speel ook reeds in die vroeëre werke van Van Heerden ’n beslissende rol. Die dood van Druppeltjie in Toorberg vorm ’n katalisator vir versoening van die gemeenskap. Erasmus (2006:686) stel dit soos volg: “[E]n van ’n offer wat gebring moet word – hier is dit Druppeltjie (Noag) du Pisani, ‘die heilige kind’, wat moet sterf om die sondes van sy voorgeslagte in hom tot ’n einde te bring.” Onafwendbaar soos die dood van die kind, so onafwendbaar word die versoeningsrol wat hy speel. Toorberg is dan ook ’n belangrike teenhanger van aspekte van Zan se beskouings in 30 Nagte in Amsterdam. Die plaasvervanging in Toorberg is nog sinvol, terwyl dit in 30 Nagte in Amsterdam waarskynlik nie meer die geval is nie, weens die bisarre slottoneel. Vergifnis is moontlik in Toorberg en speel ’n belangrike rol in die verloop van die verhaal. Die magistraat wil ook nie aan die einde ’n juridiese oordeel vel nie. Nell (1994:107) skryf in dié verband: “Om te vergewe is vir hom belangriker as om skuld en aandadigheid uit te wys. Vergifnis is belangriker as die misdaad, die sonde.” Die rol van offer en versoening speel ook in Die Stoetmeester ’n beduidende rol (Erasmus 2006:693-694). In Die Swye van Mario Salviati is die dood van Mario ook ’n plaasvervangende gebeurtenis, deurdat Salviati die geheim tot in sy dood bewaar sodat die gieriges nie na sy dood tot stryd sal oorgaan nie (Van Heerden 2000:400). In In stede van die liefde word die hartaanval en hartomleiding en herstel van die hoofkarakter ook ’n moment van plaasvervanging van die lewe wat bedreig word. Plaasvervanging word ook direk as tema aangedui (Van Heerden 2005:236,482 e.v.). Nêrens word dit egter so radikaal uitgebeeld as juis in 30 Nagte in Amsterdam nie.

 

5. Teologiese perspektiewe

5.1 Een in die plek van ander

Die vraag na plaasvervanging en versoening is reeds in die vroeë kerk indringend gevra. Plaasvervanging is by Paulus deurslaggewend. In 2 Kor. 5:11-21 speel plaasvervanging ’n beslissende rol. Daar kan geen twyfel bestaan dat Paulus die plaasvervanging van Christus as radikaal heilbrengend vir die mens beskou nie. Christus is tot sonde gemaak sodat die mens, wat sondaar is, deur Hom geregverdig kan word. Die regverdiging is ook van ’n ander orde as die oordeel wat deur die wet gebring word (Kruse 1996:155). Hy is die Een in die plek van die ander. Hy neem die plek van die sondaar in. God maak Hom tot sonde om die radikale heil moontlik te maak.

Gundry (2011:46) skryf in dié verband:

But what does it mean to become God’s righteousness? Well, just as in Galatians 3:13 Christ ”became” a curse in the sense that he became the object of God’s curse (see Deuteronomy 21:23, which Paul quotes), so ”becom[ing] God’s righteousness” means becoming the object of his saving righteousness, of his declaring sinners righteous because Christ as sin offering has enabled God not to count their trespasses against them.

Die oordeel oor die sonde kom op die Seun neer. Schnelle (2005:258) bevestig dat die versoening juis in Christus verkry word. Paulus smeek die mens om die versoening wat God in Christus bewerk het, te aanvaar. Daar is geen sprake dat Paulus God se besluit bevraagteken of dat daar by hom weerstand teen die plaasvervanging is nie. Vir hom is dit die wonder van die liefde van God wat mense liefgekry het toe hulle nog sondaars was (Rom. 5). Daar word oor die spesifieke wyse van die plaasvervanging geredeneer. By Paulus word dit deur die geloof ontvang. In Romeine is daar sprake van die offer van Christus. Die plaasvervanging word deurgaans as groot wonder beskou.

Migliore (2004:186) interpreteer die genadige beslissing van God in die kruis op die volgende wyse:

Through the ministry and the cross of Christ, God does something decisive on behalf of oppressed humanity, liberating us from evil forces that enslave us, freeing us from our burden of guilt, restoring moral order in a disordered world, setting us free from the illusions and self-deceptions that bring destruction on our neighbors as well as ourselves, and awakening new faith, hope, and love in us.

Kritiek word gelewer deur teoloë soos Wiersinga (1971), Zizioulas (1985) en Weaver (2001) teen die omskrywing van Christus se plaasvervanging wat hier gegee is. Daar word beswaar aangeteken dat dit in die teken van tipies moderne liberale kontrakteorie en die Ockhamistiese opvatting van God as donker, onkenbaar en onvoorspelbaar aangedui word. Binne dié perspektief beteken versoening die afbetaling van ’n skuldrekening, waarna God en mens as’t ware kiets is.

’n Meer klassieke Christelike siening van versoening word voorgestel soos verwoord deur ’n kerkvader soos Athanasius in 296 n.C.: “God het mens geword sodat mense gode kan word.” Hiervolgens is versoening nie die afbetaling van ’n skuldrekening nie, maar die herstel van die onnatuurlike skeiding tussen God en mens, waarna die term theosis (vergoddeliking) verwys, en waarvolgens die mens sy of haar Godgegewe potensiaal om vry en liefdevol te lewe, kan verwesenlik (kyk onder andere Zizioulas 1985:83–9).

Alhoewel teen die Ockhamistiese Godsbeeld gewaak moet word, is dit tog duidelik dat Paulus die plaasvervanging in die versoening met God juis as die herstel van die gebroke verhouding weens die sonde insluit. Hierop sal meer indringend teruggekeer word. Die wyse waarop die versoening gestalte kry, word verskillend geïnterpreteer.

5.2 Interpretasies van plaasvervanging

In die vroeë kerk was daar reeds bepaalde interpretasies van die versoening wat grootliks in vier beskouings uiteenloop. Die een beskouing is dat Christus die plaasvervanger is wat in die plek van die sondaar optree om die versoening te bewerkstellig; ’n tweede is dat Christus ons laat deelneem in sy heilshandeling (partisipasie); die derde dat Hy die voorbeeld stel van hoe daar in navolging van Hom heil bereik kan word; en dan vierdens ook vereniging met God.

5.2.1 God se toorn afgewend

Plaasvervanging het deur Anselmus (s.j.) ’n bepaalde juridiese beginsel verkry. Hy beklemtoon dat die versoening met God plaasvind wanneer Jesus Christus as Seun van God die toorn van God wegneem deur Homself te offer en so die versoening tussen God en mens te bewerkstellig. Anselmus beklemtoon dat aan God se reg voldoen moet word en dat die toorn van God gestil moet word. Christus staan as Middelaar by die mense om God, wat vanweë die sonde toornig is, se toorn te stil en sodoende die vrede tussen God en mens te bewerkstellig. Anselmus beskou dit as ’n wonder van God wat groot vreugde vir die mens bring. Daar was vanuit verskillende hoeke beswaar teen Anselmus se gedagtes.

5.2.2 Deelname

Die gedagte van deelneming is vroeg beklemtoon. Dit sou beteken dat Christus die plaasvervanger is, maar dat die mens moet deel in dié plaasvervanging deur aan die wonder van Christus se optrede deel te neem. Deelneming lei volgens Dunn (1998:395) ook duidelik tot die volle implikasies van Paulus se teologie. Sy begrip van die doop en die liggaam van Christus is ingebed in sy begrip van die deelneming met Christus.

Irenaeus van Lyon,  (Adv Haereses) het die gedagte verder uitgebou.

In die versoeningsleer meen Van de Beek (2012:400 e.v.) dat die gedagte van versoening in deelneming aan die lyding van Christus gesetel is, en dat die verlossing deur deelneming aan die lyding van Christus bewerkstellig word. Dit beteken dat die versoening nie soseer verwesenlik word in die aanvaarding van iets wat afgehandel is, as ’n offer wat plaasgevind het nie, maar wel in deelname aan die lyding van Christus. Die besondere betekenis van die lyding en deelname daaraan, bewerkstellig die mens se verlossing. Hierdie verlossing vind nie in die toesegging van die verlossing plaas nie, maar word deur die hele proses van deelneming wat daarmee saamgaan, beskryf. Die Heilige Gees speel ’n beslissende rol hierin. Van de Beek (2012:414) skryf:

In de werkelijkheid van de zonde functioneerd de wet als de dood. De wet is goed, maar ik ben verkocht onder de zonde en zo leidt de wet mij tot de dood. In de werkelijkheid van de Geest functioneert de wet als leven: in de vrijheid van Christus die de wet van zijn vloek heeft ontdaan en mij geplaast heeft in een nieuwe werkelijkheid. Wie in Christus Jezus is, is nieuwe schepping.

Die ou mens sterf; die nuwe mens word deur die Heilige Gees deel van Jesus gemaak. So vind deelname aan die heilswerk van Christus plaas.

5.2.3 Navolging

Die gedagte van navolging het deur Abelaerdus (vgl. Williams 2004:258 e.v.) weer besondere aandag verkry. Daarvolgens is Christus die voorbeeld wat gevolg moet word. Wiersinga (1971:190) beklemtoon en dra Jesus se dood voor as ’n skokeffek op die mens wat dan tot inkeer moet kom:

Dit verhaal van mensen, die het opeens zien en in deze konfrontatie met het feitelijke en gepredikte kruis tot inkeer en omkeer komen, gaat dóór als de geschokte ooggetuigen aan leiders en stadgenoten, aan dichtbijen en verren het verhaal van de Gekruisigde doen. Het bloed van de Gekruisigde dat over de aarde stroomt heeft een stem; het roept tot inkeer en omkeer. Het heeft een shock-effekt.

Die belangrikste beswaar teen die gedagte van plaasvervangende-offer-geregtigheid kom van die sogenaamde Christus Victor-standpunt. Daarvolgens is die versoening nie bewerkstellig deur die feit dat Christus ’n offer bring wat versoening tussen God en mens bring nie, maar word daar beklemtoon dat die versoening daarin plaasvind dat Christus ’n oorwinning oor die sonde behaal. Weaver (2001:225) skryf dat die versoening wat op offer-versoening berus, op Goddelik-gesanksioneerde “retributive” geweld berus. Die saak wat voorgedra word, naamlik dat God se reg of wet of God se eer of God se syn self deur die dood van Christus herstel moet word, word sterk deur Weaver (2001:225) teengestaan. Omdat God nie as gewelddadig beskou moet word nie, wil Weaver (2001:225) van Anselmus se voorstel afsien. Weaver (2001:226) stel voor dat Christus se oorwinning iets word wat nagevolg kan word:

Proposing narrative Christus Victor as an alternative to satisfaction atonement is to propose a how explanation that focuses on Jesus’ life as the reign of God rather than on Jesus’ death as an act of God. Narrative Christus Victor is a biblical way of understanding the salvific work of Jesus without imaging God as one who abuses the perfect Son for the benefit of others. The God of narrative Christus Victor does suffer with Jesus in making the reign of God visible in the world. But this suffering was not the specific purpose of Jesus’ mission, nor was it required by a divine equation.

Dit is nie in die eerste plek ’n versoening wat bewerkstellig word deurdat Christus in die plek van andere sterf en so deur sy dood vir andere die heil bring nie, maar eerder die standpunt dat Christus Victor die oorwinning oor die sonde behaal en nagevolg moet word. Daar kan aangevoer word dat die gedagte van die navolging van Christus potensieel Pelagies is (redding uit eie krag), aangesien geen mens Christus se voorbeeld
kán navolg nie. Redding is ook nie dat die mens “soos” Christus word nie.

5.2.4 Vereniging met God

Die versoening tussen God en mens word ook beliggaam in die mens se deelname aan die liggaam van Christus, oftewel die Kerk. Die mens en God beleef in die nagmaal die hoogste vorm van aardse eenwording, wat dan ook die oermotief van die Christelike lewe van gemeenskap, liefde en vryheid is, wat juis deur Christus vir die mens verwerf word. Dit beteken dat die mens in God vergoddelik word, wat ook beteken dat die hoogste Godgegewe potensiaal van menswees vervul word. Zizioulas (1985:49 e.v.) beskryf hoedat die plaasvervanging juis beteken dat ’n persoon van die biologiese bestaan na die bestaan in die Kerk in die eenheid van die nagmaal met God verenig. Die syn van die persoon vind sy vervulling in die eenheid met God. Zizioulas (1985:97) verduidelik die betekenis van die inkarnasie soos volg: ”The incarnate Christ is so identical to the ultimate will of God’s love, that the meaning of created being and the purpose of history are simply the incarnate Christ” (kursief Ziziuoulas). Dit beteken dat die inkarnasie sou plaasgevind het of die sondeval voorgekom het of nie. In Christus word die mens in die nagmaal wat hom/haar aan die kruis verbind, dus met God verenig. Die gevaar van vergoddeliking van die mens is hier egter groot. Die nugter hantering van versoening deur Paulus lê die klem op die Een vir die ander.

5.3 Verskeie perspektiewe

Daar bestaan verskeie perspektiewe oor die versoening in die Bybel. Dunn (1998:410) skryf:

In this case any attempt to harmonize the diversity of Paul’s imagery and to resolve the inconsistencies of different images straining against each other would be to our loss rather than our gain. Better let the richness of the vision, its poetry and harmonies, capture heart and spirit, even if conceptual clarity remains elusive.

Die essensiële van die plaasvervanging is egter so oorweldigend dat dit moeilik vermy kan word. Telkemale moet bevestig word dat God in die kruis van Christus teenwoordig is en dat daar nie sprake van verlossing sonder die kruis is nie.

 

6. Teologiese beskouing en 30 Nagte in Amsterdam

In 30 Nagte in Amsterdam word die gedagtes van plaasvervangende versoening intensief hanteer: soms uitgedaag en soms aangewend om betekenis te genereer en te ontsluit.
Op interessante wyse word Zan, wat aanvanklik ’n bepaalde beskouing van die plaasvervanging kritiseer en verwerp, self die sondebok-argetipe. Sy dra selfs die ganse familie se laste (23). Die sondebok-argetipe word egter ook verder uitgebou wanneer Zan deelnemer word aan die lyding van Wehmeyer. Hierdie motief kom ook buite die Christendom voor. Dit leef selfs kollektief in die onbewuste van die hele mensheid (Frazer 1919:160-95). Van Heerden benut hierdie gegewens om, in die kritiek teen die starre vorme van plaasvervanging en versoening, op ’n unieke manier die begrip van een in die plek van ander om die skuld en verraad op te los, aan te bied. Wehmeyer en Zan is dus selfs in ’n sekere sin afbeeldings van Christus, alhoewel Zan dit op totaal ander wyse as Christus volbring.

Dit is duidelik dat die vraag na God opnuut gevra word. Die wyse waarop God se versoenende geregtigheid dan juis in hierdie geskiedenis wat in Suid-Afrika afgespeel het, geïnterpreteer en verstaan moet word, word voorgedra. Hoe moet die versoening verreken word en watter betekenis moet daaraan geheg word? Die vraag word ook gevra hoe God in die werklikheid in die algemeen, maar ook spesifiek in Suid-Afrika, ingegryp het. Daar moet dus ook gestreef word na ’n antwoord op die vrae wat deur die verskrikking van die werklikheid opgeroep word. Die skrywer neem volledig kennis van die gebrokenheid van die werklikheid, reageer daarop en interpreteer die menslike bestaan in die lig van die gebrokenheid. Sake word aan die orde gestel en beoordeel. Sommige skrywers bied oplossings aan, ander skets bloot die werklikheid soos wat dit gebroke voorkom.

Dit is dus ’n vraag of die estetiese noodwendig tot katarsis lei. In 30 Nagte in Amsterdam is dit juis debatteerbaar of daar wel ’n oplossing aangedui word, of selfs katarsis voorkom. Juis hierdie aspek noop my om ’n apologetiese benadering ten opsigte van die versoening met God voor te dra. Die plaasvervanging in die kruis van Christus is natuurlik self ook skrikwekkend, maar kan daar enigsins ’n ander antwoord gegee word?

In 30 Nagte in Amsterdam word hierdie vraagstuk juis sterk beklemtoon. Aan die einde van die boek word ’n antwoord op die probleem van die bestaan van die mens in verhouding met God gesoek.

’n Indringende debat vind tans tussen Van Coller en John plaas rakende die terapeutiese lees van literêre tekste. ’n Belangrike artikel van Van Coller (1997) oor die verwerking van skuld en historiese ellende binne die Afrikaanse letterkunde, het dit ingelui.  John (2010) staan egter uiters negatief teenoor die terapeutiese lees van tekste. Van Coller dui aan dat literatuur juis in die narratief van die onsegbare die moontlikheid van terapie skep.Van Coller en Van den Berg (2009:44) skryf dan ook:

Maar indien trauma gesien word as onrepresenteerbaar – in hoeverre is ’n (terapeutiese) representasie daarvan enigsins moontlik sonder om die unieke aard van trauma te verraai? Verwerking moet semioties gelees word as die sinvolle interpretasie en assimilasie van trauma, wat noodwendig die potensiële enkodering daarvan insluit.

Verder skryf Van Coller en Van den Berg (2010:158):

Maar dit is juis die self-refleksiewe representasie van die onrepresenteerbaarheid van trauma wat uiteindelik ’n produktiewe omgang daarmee beteken. Want self-refleksiewe representasie verhoed die verdringing, geskiedenis, narratiwiteit en tweedegenerasie-trauma.

Dit is egter juis in 30 Nagte in Amsterdam dat die perspektief van John (2010:199) na vore kom. Hy kies téén ’n terapeutiese lees van die gebeure en sou dus ook nie die eindtoneel wou beskryf as versoening wat die leser tot heling bring nie. Die estetiese gaan volgens hom nie net oor die mooi, skone, welgevormde, genot en troos nie:

Die estetiese, wanneer dit suksesvol gerealiseer word, gaan ook nie noodwendig oor ”helderheid” nie, maar baie keer oor die openbaring van die ondeursigtigheid van die sigbare, of die onplooibaarheid van die oënskynlik makabere, hoe mens dit ook al wil stel. En met risiko en onstabiliteit. (John 2010:198).

Volgens Van der Merwe (2007:105)is dit egter aantoonbaar dat John nie die nuanses van Van Coller se voorstel raaksien nie en die terapeutiese lees van tekste verskraal:

John sluit hom aan by die opvattings van die sogenaamde New Critics van die vyftiger- en sestigerjare van die vorige eeu, en is van mening dat die sentrale belang van die estetiese element in die letterkunde daarvan ’n unieke en outonome verskynsel maak. Dit is egter ’n vraag of die literatuur (of enige ander kennisveld) as volledig outonome verskynsel gesien kan word.

Van Coller en Strauss (2006:79 e.v.) vra dan ook inderdaad dat die volle reikwydte van die wetenskap in die hantering van die estetiese implikasies van literatuur erken moet word.

Daar moet egter nie ’n keuse in hierdie verband tussen Van Coller en John gemaak word nie. Die slottoneel is ’n oop toneel wat wel terapeuties gelees sou kon word indien ’n mens Zan se optrede as katarsis van ’n wrede en skrikwekkende verlede sou beskou. Die banaliteit van die toneel skep egter ook vrae en dit bly dus ’n oop toneel waarin die verlede juis weer in die hede die moontlikheid van versoening bevraagteken. Die argument sou dus wel gevoer kon word dat Van Heerden dit hier stel dat die versoening nie bereik word nie en dat plaasvervanging bevraagteken word, al sou Zan self ’n plaasvervanger-figuur word. John (2010:200) is van mening dat die slottoneel nie afsluiting van pyn en onreg van die verlede veronderstel nie, maar juis daarop dui dat die wonde van die geskiedenis steeds nie geheel is nie en dat die makabere dans aantoon dat die heling nie plaasvind nie. Met betrekking tot die artikel sou mens die vraag kon vra of die plaasvervanging dus ooit geslaagd sal wees. John (2010:199) wil die toneel esteties lees en juis die onbepaaldheid van die uitbeelding herken: “Slegs ’n lesing wat op die moontlikheid van so ’n onbepaaldheid en semantiese onstabiliteit bedag is, sal ’n kans staan om die kompleksiteit van die uitbeelding enigsins eer aan te doen.”

Volgens John (2010:201) is daar die begeerte om die onreg van die verlede te herstel, maar hy is van mening dat die terapeutiese lees gefnuik word deurdat die barbaarsheid voortduur. Hierdie aspek kan indringend beredeneer word en die vraag is of John reg laat geskied aan die kompleksiteit van die toneel, wat wel ook op katarsis dui. In hierdie verband sou Van Coller tog kon aandui dat die makabere dans tog immers vir Zan tot ’n bepaalde afsluiting bring.

Human (2009) lewer interessante perspektiewe wat daarop dui dat hy die moontlikheid van ’n terapeutiese lees nie uitsluit nie, maar tog ook versigtig is om dit wel as bepaalde moment van heling te beskou. Hy dui wel aan dat die koherensie van die romanverhaal kommunikasie moontlik maak. In die identifikasie met elemente van die narratief kan die getraumatiseerde wel bevestiging van sy/haar eie trauma vind, en kan daar dus tog uit die isolasie van die trauma wegbeweeg word (2009:28). Hy bly egter van mening dat dit nie noodwendig tot heling lei nie. Alhoewel hy nie die moontlikheid van heling ontken nie, waarsku hy wel teen oorvereenvoudiging van vertelling tot ’n metode waarin heling en genesing te maklik veronderstel word (2009:29).

Die plaasvervangende element van Wehmeyer se dood is egter nooit volledig nie, en Van Heerden behou sy kritiek op die bepaalde voorbeeld van plaasvervanging waarteen Zan in verset kom. Van Heerden skep egter in sy karakters die moontlikheid om die plaasvervanging nuut te interpreteer.

Vanuit ’n diepgaande beoordeling en evaluering van die skriftuurlike getuienis moet die wesenlike van die versoening ernstig bejeën word, soos byvoorbeeld dat daar in Romeine sterk beklemtoon word dat alle mense gesondig het en dat dit hulle aan die heerlikheid van God ontbreek. Mense kan daarom nie self hulle saak met God regstel nie, tensy dit reggestel word deur Christus wat in die plek van die mens kom en die heil vir die mens bring. Christus is die Een in die plek van die ander, die Een ter wille van die ander. Hierdie plaasvervangende lyding van Christus is heilbrengend vir die mens en moet betekenisvol geïnterpreteer word. Die plaasvervangende optrede van Christus beteken dat hy die versoening is.

Romeine 5 speel in hierdie verband ’n beslissende rol, want daarin word gesê dat God die mens liefgehad het terwyl hulle nog sondaars was en heil vir die mens bewerk het terwyl hulle nog sondaars was. Daar is dus reeds die duidelike aanduiding dat die liefde van God juis vir sy vyande radikaal is! Jesus as die tweede Adam bring dit mee. Die eerste Adam het deur sy sonde in die werklikheid die ellende gebring, maar Jesus Christus as die tweede Adam het deur dit wat Hy gebring het, veel groter heil verwerk: totale heil vir die mens. Volgens Paulus, en met betrekking tot sy begrip van die oorsprongsverhale, is die tweede Adam se heil soveel heerliker as die onheil wat die eerste Adam gebring het. Dit sluit totale verlossing in; hierdie heil is radikaal en volkome. Versoening met God staan sentraal hierin. In 2 Kor. 5:11–21 word dit dus duidelik dat Christus die Een word ter wille van die ander, die Een in die plek van die ander, die Een wat gesterf het ter wille van die ander, sodat die ander nie meer moet sterwe nie, maar moet lewe vir Hom wat vir hulle gesterf het. Dit beteken wel dat die kritiek van Zan teen ’n star vorm van versoening, waar ’n wrede God sy seun tot slagoffer maak, met volle erns bejeën moet word. In Christus, wat ons versoening is, word God se liefde egter openbaar. In die nagmaal word ons aan God verbind, alhoewel ons nie self vergoddelik nie. Daar moet gewaak word teen ’n modernistiese benadering waar in strakke terme oor God, die plaasvervanging en die versoening gedink word. Gillespie (2008:23) toon aan dat die Ockhamistiese  Godsbeeld, waar God se wil as die enigste absolute noodsaaklikheid beskou word, ’n beslissende invloed op beskouings oor die versoening gehad het. Gillespie skryf (2008:23): “In defending such a radical notion of omnipotence, Ockham and his followers came very close to denying the truth of revelation.” Daarteenoor moet die plaasvervanging dus altyd in die lig van die openbaring van God gelees word.

Die implikasies daarvan is dus dat daar vanuit die erkenning van die versoening
’n lofuiting oor die eer van God uitgespreek moet word. Die lofuiting se erkenning van die heerlikheid van die verlossing wat in Christus plaasvind, en wat die heerlikheid vir die mens bewerkstellig, moet beklemtoon word. Die vraag moet gestel word of daar by Van Heerden aan die einde van die roman erkenning van die een in die plek van die ander kan wees wanneer Wehmeyer as’t ware die offer word vir alles wat in die roman gebeur, asook die geskiedenis van Suid-Afrika oor die afgelope tyd. Die plaasvervanging en versoening moet as die middelpunt van die bespreking gestel word. Daarin help Van Heerden ons.

’n Diepgaande Christelike antwoord mag egter eweneens nie agterweë bly nie. Jesus Christus as die Een ter wille van die ander, wat juis in Sy dood versoening bewerkstellig, gee aan plaasvervanging en versoening die diepte wat nie bloot met kritiek teen die wreedheid daarvan afgewys kan word nie. Dit roep eerder tot verwondering en eerbied wat weer tot ’n lofuiting op God se heerlikheid aanleiding gee. In Rom. 11:33 beteken dit dat Paulus uitroep: “O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele, hoe onnaspeurlik sy weë!”

 

7. Slot

Dit is die skrywer se goeie reg om dogmatiese leerstellings te bevraagteken en selfs te betwyfel; die teologie doen dit ook. Dit is egter ook die teoloog se goeie reg om apologeties daarop vanuit die skriftuurlike beginsels te antwoord. Hierdie gesprek tussen skrywer en teoloog kan met vrug inwerk op die soeke na ’n suiwerder begrip van God se optrede in die werklikheid. God openbaar egter self Sy heerlikheid. Daarom breek Paulus uit in ’n lofuiting op die heerlikheid van die plaasvervanging in die versoening.

 

 

Bibliografie

Anselmus. s.j. Cur Deus Homohttp://server1.myservermatrix.com/~facebook/connect/browse.php?u=Oi8vMTJrb2VyYmUuZGUvcGFuL2N1cmRldXMxLmh0bQ==&b=7 (26 Julie 2012 geraadpleeg).

Brower, J.E. en K. Guilfoy (reds.). 2004. The Cambridge Companion to Abelard. Cambridge: Cambridge University Press.

Cochrane, N. 2009. 30 Nagte in Amsterdam deur Etienne van Heerden. http://leeskring.lefora.com/2009/04/08/30-nagte-in-amsterdam-etienne-van-heerden-3 (26 Julie 2012 geraadpleeg).

De Villiers, D. 2009. 30 Nagte in Amsterdam deur Etienne van Heerden. http://teo.co.za (26 Julie 2012 geraadpleeg).

De Vries, W. 2009. Van Heerden raap die pryse op. Die Burger,10 Oktober, bl. 13.

Die Bybel: Nuwe Afrikaanse Vertaling. 1983. Kaapstad: Bybelgenootskap van Suid-Afrika.

Dunn, J.D.G. 1998. The theology of Paul the apostle. Edinburgh: T&T Clark.

Erasmus, M. 2006. Etienne van Heerden (1954-). In Van Coller (red.) 2006.

Frazer, J.G. 1919. The golden bough: a study in magic and religion. Deel 111. The dying God. Londen: MacMillan.

Gillespie, M.A. 2008. The theological origins of modernity. Chicago: University of Chicago Press.

Gundry, R.H. 2011. Commentary on Second Corinthians. Grand Rapids, Mi.: Baker Academic. www.bakeracademic.com (26 Julie 2012 geraadpleeg).

Human, T. 2008. 30 Nagte in Amsterdam: Vernuftig én verbeeldingryk. http://www.argief.litnet.co.za/cgi-bin/giga.cgi?cmd=cause_dir_news_item&news_id=56975 &cause_id=1270 (26 Julie 2012 geraadpleeg).

Human, T. 2009. “Te hel met heling, Niggie!”: Wanneer traumanarratiewe tekort skiet. LitNet Akademies 6(3):16-32. https://www.litnet.co.za/Article/te-hel-met-heling-niggie-wanneer-traumanarratiewe-tekort-skiet

Irenaeus van Lyon. (Adv Haereses) http://www.earlychristianwritings.com/irenaeus.html (26 Julie 2012 geraadpleeg).

John, P. 2010. Die "Terapeutiese perspektief" en die "Agtstekleurgekekkel" van 30 Nagte in Amsterdam deur Etienne van Heerden (2009). Stilet,21(1):187–203.

Kruse, C.G. 1996. Paul, the law and justification. Leicester: Apollos.

Migliore, D.L. 2004. Faith seeking understanding: an introduction to Christian theology. Grand Rapids, Mi.: Eerdmans.

Nell, J. 1994. Die raaisel as narratiewe kode inEtienne van Heerden se Toorberg. Bloemfontein: Universiteit van die Oranje-Vrystaat. Ongepubliseerde MA-verhandeling.

Painter, D. 2008. 30 Nagte in Amsterdam deur Etienne van Heerden. Die Burger, 16 November 2008. www.dieburger.com (26 Julie 2012 geraadpleeg).

Rosenthal, J. 2010. 30 Nagte in Amsterdam. Mail & Guardian. 26 Februarie 2010. http://mg.co.za/article/2010-02-26-30-nagte-in-amsterdam (26 Julie 2012 geraadpleeg).

Schnelle, U. 2005. Apostle Paul: his life and theology.(Vertaal deur M.E. Boring). Grand Rapids, Mi.: Baker Academic.

Van de Beek, A. 2012. Lichaam en Geest van Christus: De theologie van de kerk en de Heilige Geest. Zoetermeer: Meinema.

Van Coller, H.P. 1997. Die waarheidskommissie in die Afrikaanse letterkunde: die Afrikaanse prosa in die jare negentig. Stilet,9(1):9-21.

Van Coller, H.P. en D.F.M. Strauss. 2006. Die dissonansie van die dissidente diskoers: Oor metodologie en vakbeoefening in die Geesteswetenskappe. Tydskrif vir Letterkunde, 43(2):79-90.

Van Coller, H. en C. van den Berg. 2009. Trauma, verlies en die semiotiese bewussyn in Karolina Ferreira en Niggie van Ingrid Winterbach. Stilet, 21(2):29-51.

—. 2010. Geskiedenis, narratiwiteit en tweedegenerasie-trauma: Die problematiek van traumarepresentasie in La place de la Bastille deur Leon de Winter. Stilet,22(1):147-64.

Van Coller, H.P. (red.). 2006. Perspektief en profiel: ’n Afrikaanse literatuurgeskiedenis 2. Pretoria: Van Schaik.

Van der Merwe, C. 2007. ’n “Terapeutiese perspektief” op Etienne van Heerden se In stede van die liefde (2005). Stilet, 19(1):103-14.

Van der Westhuizen, C. 2009. 30 Nagte in Amsterdam – Etienne van Heerden. http://mykopop.wordpress.com/2009/07/29/30-nagte-in-amsterdam-etienne-van-heerden (26 Julie 2012 geraadpleeg).

Van Heerden, Etienne. 1986. Toorberg.Kaapstad: Tafelberg.

?. 2000. Die swye van Mario Salviati.Kaapstad: Tafelberg.

?.2005. In stede van die liefde.Kaapstad: Tafelberg.

?. 2008. 30 Nagte in Amsterdam. Kaapstad: Tafelberg.

Weaver, J.D. 2001. The Nonviolent atonement. Grand Rapids, Mi.: Eerdmans.

Wiersinga, H. 1971. De verzoening in de theologische diskussie. Kampen: Kok.

Williams, T. 2004. Sin, grace and redemption. In Brower en Guilfoy (reds.) 2004.

Zizioulas, J.D. 1985. Being as communion: studies in personhood and the church. Crestwood, New York: St Vladimir’s Seminary Press.

 

 

Eindnota

1 Bladsynommers sonder meer verwys deurgaans na bladsye in 30 Nagte in Amsterdam.

 

 



  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top