Sanlam | LitNet-poësieslypskool by die US Woordfees 2015

  • 1

Die Sanlam/LitNet-poësieslypskool het op 7 Maart 2015 by die Protea Hotel in die Tegnopark-kompleks buite Stellenbosch plaasgevind.

Die gasheer vir die dag was die immergewilde Danie Marais en die program het bydraes van poësiekenners Lina Spies, Ronel Foster en Nini Bennett ingesluit.

Daar was deelnemers van alle ouderdomme en beroepe en die klem vir die dag was gerig op die deel van ervaring en kennis en die skryf en ontleding van Afrikaanse poësie.

Die geesdriftige deelnemers het die aanbieders vroeg reeds ingewag en moes vooraf hulle gedigte aan die paneel stuur vir bespreking deur die dag.

Danie Marais het met sy kenmerkende styl gou almal se aandag gehad toe hy die groep genooi het om saam te skryf aan ’n gedig – ’n proses waarvan die eindresultaat onmiddellik glimlagte by almal uitgelok het.

Dit was opvallend hoe vinnig Danie dit kon regkry om ’n gemeenskaplike verwysingsraamwerk vir almal te skep en die hoeveelheid kundigheid wat hy op sy eg menslike wyse met almal kon deel. Hy het openlik gesels oor sy eie digkuns en sy wedervarings as digter en ook medesamesteller van Nuwe Stemme.  Sy kennis van veral die hedendaagse populêre kultuur as skilderdoek vir poësie het baie beïndruk en deelnemers is meegevoer deur verskeie vertellings vanuit velde so uiteenlopend soos moderne Amerikaanse letterkunde, die beat generation, die rock- en folk-subkulture, die visuele kunste en die filmbedryf. Veral Bob Dylan en Tom Waits en hulle Afrikaanse ekwivalente, soos Gert Vlok Nel, Valiant Swart en Fokofpolisiekar, is voorgehou as denkgenote in die ontwikkeling van sy digkuns. Uit verwante aanhalings en verduidelikings het hy allerlei fokalisators in die poësie eerstehands geformuleer en beginsels geïllustreer wat gevorderde digterskap van beginnerwerk onderskei. Sy fasiliteringsrol tydens die res van die dag en die begrip waarmee hy deelnemers se behoeftes hanteer het, was ’n besliste hoogtepunt. Die digter en akademikus Lina Spies het geen bekendstelling nodig gehad nie en dit was ’n voorreg om ’n lewende legende vanuit die klassieke Opperman-laboratorium teenwoordig te hê om die pad wat sy geloop het en die lesse wat sy daaruit geleer het, te deel. Sy het ’n boeiende vertelling gedoen van haar oorlede pa wat haar die eerste keer aan poësie bekend gestel het deur klassieke verse aan haar voor te dra wanneer hulle saam gery het. Sy het ook vertel hoe sy as jong student aan die meester, Dirk Opperman, blootgestel is en hoe opgewonde sy was toe hy die eerste keer vir haar ’n brief gee van AP Grové waarin sy in kennis gestel is dat haar gedigte in ’n literêre tydskrif gepubliseer sou word. Haar werk is veral beïnvloed deur haar navorsing oor die lot van Jode in die Tweede Wêreldoorlog en ikoniese figure soos Anne Frank. Sy het ook verwys na die digterskap van Emily Dickinson en haar mentor, Thomas W Higginson, en het uittreksels uit korrespondensie tussen hulle bespreek. Wat opgeval het van Lina se aanbieding, was haar deurwinterdheid en die wyse waarop haar kennis en ervaring deur die jare tot groot wysheid gelei het.

Die skrywer en digmentor Nini Bennett het ’n uiters deeglike oorsig gegee oor die stand van poësie op die digitale media en die tendense wat binne die Afrikaanse samelewing ontstaan het om op vreemde nuwe maniere uitdrukking te gee aan poësie om sodoende die dilemmas en uitdagings van Afrikaanssprekendes te verwoord. Hierdie neiging het die afgelope vyf jaar tot verskeie nuwe verskynsels gelei, maar terselfdertyd die literêre gemeenskap die harnas in gejaag deur die gebrek aan gehaltebeheer en literêre standaarde. Nini het insiggewende afleidings uit hierdie tendense voorgehou en haar ervaring die afgelope twee jaar as aanlyn mentor vir aspirantdigters as verwysingsbron gebruik. As gevolg van haar belese en poësie-agtergrond is sy in staat om sinvolle gevolgtrekkings en vergelykings te maak tussen poësie op die sosiale media en in die digkanon. So byvoorbeeld het sy die behoefte van aanlyn digters om selfkoestering en versuikerde, belydenisagtige skrywes en die dryfvere daaragter in perspektief gestel. In die tweede deel van haar aanbieding het sy praktiese wenke aan die voornemende digters verskaf oor publikasiegeleenthede, die groot aantal selfpublikasies en die slaggate daaragter, asook die geleenthede wat e-publikasie bied. Sy het ook in haar samevatting heelwat raad aan voornemende digters verskaf oor hoe hulle te werk kan gaan om hulle digterskap uit te bou.

Die akademikus en poësiekenner Ronel Foster het ’n oorsig verskaf van die rol van mentors in die ontwikkeling van digters en hoe die voornemende digter die regte mentor moet kies. Sy het ’n interessante vergelyking (oorspronklik van Harold Bloom) tussen digters en mentors/rolmodelle en kinders en hulle ouers getref. Volgens hierdie model gaan digters gebuk onder dieselfde groeikurwe as kinders wat aanvanklik hulle ouers as helde beskou en later rebelleer. Die gedigte word ’n soort verwoording van die krisisse wat hierdie nakomelinge dan ondergaan. Sy het ook vertel hoe onlangse navorsingstudies die werk van debuutpryswenners ondersoek en gevolgtrekkings daaruit maak, hoe die moderne kultuur vermeng met poësie in die lirieke van Fokofpolisiekar en hoe nuwe navorsing vandag selfs die kletsrymbendes se invloed ondersoek.

Hierna het die deelnemers die geleentheid gehad om gedigte voor te lees wat onder die bekwame leiding van Danie en Nini geslyp is. Beide was dit eens dat die gedigte belofte inhou.

Toe die geleentheid ten einde loop, het twee beelde onwillekeurig by my opgekom. Eerstens, op pad uit die kompleks na die R44 het een van die motors van ’n deelnemer langs die pad gestaan. Wie het gestop om te hoor of hy kon help? Danie Marais. Tweedens het ek ’n bekende aanhaling van die legendariese Vlaamse liriekskrywer Jacques Brel onthou: “Talent is wanting to do something.”

Foto's deur Naomi Bruwer, tensy anders aangedui.

Foto: Nardus Engelbrecht

 

 

  • 1

Kommentaar

  • Nadat ek lank gewonder het, het ek besluit die naby-foto van die hand wat skryf is van Prof Ronel Foster.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top