Versindaba-oomblikke

  • 0

LitNet het ‘n aantal deelnemers aan vanjaar se Versindaba, wat van 6 tot 8 September op Stellenbosch gehou is, gevra om ‘n onvergeetlike oomblik tydens dié gebeurtenis met ons lesers te deel – deur ‘n herinnering, ‘n vers of 'n liriek. Kyk wat sê hulle ...

Henning Snyman

Henning Pieterse en Joan Hambidge

My onvergeetlike oomblik was uiteraard toe ek as “Henning Snyman” voorgestel is deur Riana Scheepers en Joan Hambidge bulder: “Jy moet lekker lees, Henning Snyman!” Ek was so dik van die lag dat ek moeite gehad het om my tekste voor te lees. Nog ’n oomblik was toe ek en Riku Lätti saam opgetree het (onvoorbereid). Ons het eenvoudig op die ingewing van die oomblik gegaan met stem, kitaar en didjeridoe en dit het gewerk.

Joan Hambidge
Joan en lede van haar skryfwerkswinkel

Hier is van die gedigte wat ek voorgelees het:

Villanelle vir haar

Sy het my vir altyd verlaat,
my allerliefling, sy is nou dood.
Sy het my vir altyd verlaat.

Gisteraand ontdek ek te laat,
‘n brief, uit ‘n ander oord.
Sy het my vir altyd verlaat.

Ek noem haar my toeverlaat,
my lief gekoppel aan moord.
Sy het my vir altyd verlaat.

Ek hunker nog, helaas te laat,
in herinneringe en gedigte voort.
Sy het my vir altyd verlaat.

Daar is niks meer oor vanaand,
‘n vers soos ‘n ragfyne koord.
Sy het my vir altyd verlaat.

Al versoek sy ek moet dit laat,
weet ek: soort soek soort.
Sy het my vir altyd verlaat,
Sy het my vir altyd verlaat.

Rondeau

Noudat jy weg is, wonder ek:
wie sal die goudvisse bad?
wie sal die internet afstof?
wie sal die uie laat huil?
O wie, o wie sal lag sonder berou?

En nou dat jy weg is, weet ek:
die goudvisse en internet sal google-google,
en die uie sal immer die oog laat traan.
O wie, o wie sal lag sonder berou?

En noudat jy weg is, besef ek:
goudvisse bly doelloos sirkel soos haaie,
die internet bly soekend, speurend,
en die uie speel pampoen-pampoen.
O wie, o wie sal lag sonder berou?
O wie, o wie sal lag sonder berou?

Dizain

Deesdae wanneer ek ‘n vrou ontmoet
op my hoede, kopsku, wonder nie meer
oor haar sagte mond of ander goed,
en of sy haar oë onderwaters, en so meer,
oop- of toehou en of sy gil vir meer,
sy haar kop (uiteindelik) finaal verloor.
Nee, ek bêre my bedelaarshoed, uit en oor
en wonder -by voor- en nabaat- stet!:
watter triek gaan sy uit die hoed toor:
Hoe my neerlê op waffer Prokustesbed?

Gilbert Gibson

1

Gilbert Gibsonpaderewski se Minuet In G (Menuet Celebre) is volgens my Casio G-Shock (model G8000B) 4 minute en twintig sekondes lank. presies.

2

die didjgridoe is en was 'n inboorlinginstrument, die aërofoon, in die sleutel van D tot F? 'n Mens kan egter ook blaasgeluide op die instrument voortbring. soms of dikwels.

3

luuk gruwez is 'n klavierstemmer. hy sou graag 'n sanger wou wees.

4

dans, uit die frans danser, verwys na beweging as manier van uitdrukking, of sosiale interaksie, of verhoog opflikkering van, deur en vir digters, soos louis en marlise.

5

dooie dokters dig nie.

6

wyn per glas is baie duurder as wyn per bottel.

7

physalis peruviana (appelliefie) is van die mooiste woorde in latyn.

8

anton goosen se basspeler kook. dolf se violis-seun ook.

9

riana scheepers het kort hare. riana barnard het lang hare.

10

protea boeke op stellenbosch is een van die beste boekwinkels in suid-afrika.

Bernard Odendaal
Bernard OdendaalEk ignoreer musiekproduksies in hierdie uitsondering van enkele hoogtepunte op Versindaba 2007. Nie dat ek dink sulke musiekproduksies het geen plek op versindabas nie; inteendeel. “Sang is verhewigde spraak,” het Hennie Aucamp iewers geskryf. Die bybring van musiek gee sulke produksies egter dikwels ’n "onregverdige" vermaaklikheidsvoordeel bo woordkunsvoordragte.

George Weideman se beheerste liriese voorlesings van sy fyn afgewerkte verse, so gewetensvol betrokke by misstande soos dit meermale is, was vir my dié hoogtepunt van die indaba. As woordkunstenaar én as mens openbaar Weideman ’n integriteit wat seldsaam is. Sy optrede by Versindaba 2007 het dié reputasie net versterk.

Johann Nel se voorlesings van die draaksteek- en seerknypgedigte van MM Walters, en in ’n effens mindere mate van wyle RK Belcher se guitige ryme, was die volgende uitstaande momente. Dit is natuurlik interessant om digters hulle eie werk te hoor voorlees. Te selde, egter, bewerkstellig hulle die interpretatiewe toeganklikheid waartoe ’n gedeë interpretator en voordragkunstenaar soos Nel in staat is. (Toegegee: die verse wat Nel gelees het, was reeds aan die meer toeganklike kant.)

Ek sou nog ’n hele paar optredes kon uitsonder. Ook was dit aangenaam om digters te leer ken wat tot dusver net woordkarakters vir my was.

Maar hiermee volstaan ek voorlopig.

Willem Fransman Jnr
Willem Fransman Jnr.Ek het dit verlede jaar geniet om deel te wees van Versindaba 2006. Vanjaar is my stoutste verwagtinge oortref.

Behalwe die wye blootstelling wat ek ontvang het, sal drie episodes my vir ewig bybly!

Louis Esterhuizen en sy span het my en my kinderskrywersheld, Dolf van Niekerk, die geleentheid gegee om met mekaar skouer te skuur. Ek was ook van daai kinders wat met "Skrik kom huis toe" opgegroei het. Ek kon selfs vir die skrywer grepe uit sy eie verhaal aanhaal! Ons het die verhaal in 1973 as Afrikaanse voorgeskrewe behandel. Hy was instrumenteel dat ek 'n skrywer sou word!

Die tweede moment was om prof Hans du Plessis weer na etlike jare in lewende lywe te sien. As Dolf die saadjie geplant het, dan het Hans my skrywersakkertjie water gegee en bemes! Ek was deel van ‘n groep van 11 ander aspirantskrywers wat deur hom onder hande geneem is in 'n slypskool wat hy aangebied het net na afloop van die Tweede Swart Afrikaanse Skrywerssimposium in 1995 te Paternoster! In ons groep was mense soos Kirby van der Merwe, Heindrich Wyngaard, Diana Ferrus, Edwina H Fransman, Leonard Koza, wat almal nou bekendes in skrywerskringe is! Baie van die verhale waarmee Hans my gehelp het, is gepubliseer. Twee is selfs voorgeskrewe verhale vir matrieks.

En die derde was my ontmoeting met prof Joan Hambidge. Sy het my die mooiste kompliment oor my digkuns gegee! Joan is van die min eerlike resensente wat ek ken ... daarom is haar mening vir 'n jong digter van onskatbare waarde!

Verblyf en ander reëlings het vlot verloop – ‘n duidelike teken dat die ondersteuningspan geweet het wat hulle moet doen.

Langenhoven het gesê dat 'n mens 'n goeie kok net een maal 'n kompliment moet gee, want doen jy dit te veel, mag hy dalk in die versoeking kom om die resep te verander! Vir Louis en Marlise wil ek net sê: Die resep is perfek! Doe zo voort!

Virrie Taal, innie Taal

Ou pêllie,
djy dink die Taal gat ve’dwyn,
extinct raak ampe soes’ie dinosaur,
soelat ôse kinnes se kinnes se laaitjies
ééndag ? anne Taal sil praat!

Am I right?
Issit soes djy argue?

Nei, ou Pêllie,
kô lat ôs ôse kant bring.

Maak ? placard,
staan oppie street corner … en
shout:

Shout
virrie govermint.
Shout
virrie teachers
Shout
virrie press.
Shout
vi' allie poets en writers wat
net soe wil sit en moan.
Shout
soema virrie wife’ie
offie girlfriend oek,
while you’re at it!

En as djy klaa' geshout het …
loep sit dan op djou gat, pêllie,
en skryf ? poem
virrie Taal,
innie Taal …
Dja skryf ‘it in ôse Township Afrikaans,

asseblief, pêllie.

Ek likes democracy

En soe prepare ôs toe ôsself
virrie eeste national democratic election.
Dis nou ekke, Johnny en Twallap.
Johnny sôre virrie papsak ennie kis,
Twallap virrie harre hout
en ek virrie pyp.
Lekke gratjang, want sien,
dis alles virrie eeste national democratic election.

Nei, my broe, ôs gat nettou vote
lattie mense vannie IEC net ee's die
banners ennie vote pampiere prepare,
’cause ôs gat nettou vote …
innie eeste national democratic election.

Net ees gou die papsak
? bietjie platter maak.
? Mens moet mos sôre lattie kop
lekke oepe is
soelat djy moet ? clear conscience
? regte vote kan cast …!
Innie eeste national democratic election.

Wena traai haa luck om ôs te halt,
but wie is sy ennyway?
Ôs moet mos ôsself prepare om
? regte ding reg te doen!

Dink maa net:
Dissie eeste kee lat ôs ?
vote kan cast wat ôse
future kan determine
en Wena sê ôs moettie
overboard gattie!
Maa sy is mos vannie pad af!

Ôs sit by Johnny se hys en
kap ? baard vannie papsak.
Twallap gie soema drie dubbele
shots vannie harrehout
while ek soe deurrie sypery
Die gratjang lekke mix virrie pyp

“Djulle moet loep vote!” skrie Jackie,
Johnny se longtime girlfriend.
Nei, my girlie,
ôs gat ees die pyp se cream afvat!

Twallap vattie pyp eeste.
Ek strike ’ie mêtjie.
Een skyf …
Ghoep … daa val hy op sy gevriet.
Lekke geëart, pyp in die hand.
Johnny grypit en try sy blêrrie luck.
Ghoep … daa neuk hy oek om,
oek lekke geëart.

Toe’t ek die pyp vi myself,
maa al die blêrrie cream is af!
Hell, maa wiet hoe enjoy ek toe vi my!

Toe Jackie half past nine die aand
kô sê lat die eeste results wit geannounce,
toe discover ôs
but ôs was mos nog nooit byrie voting station!

En soe het ôs toe nooit gevote
innie eeste national democratic election nie!

But who cares:
We got fond memories
Ôs was lekke gepis op daai dag!

En …

Next time,
Five years from now …
Dan kry ôs mos nogge kans …
Dis wat ek soe likes van democracy



Woordverklaring

kap ? baard - Om die wyn te deel met ander
papsak - Goedkoop wyn in 'n plastieksak
harre hout - Brandewyn of enige ander sterk drank
gratjang (Gebruik die gh-klank soos vir gholf) - Dagga- en Mandrax-mengsel
vannie pad af - Dwarstrekker
cream - Eerste rooktreksel van die daggapyp. Gewoonlik die voorreg van die een wat dit gekoop het of die een vir wie die rokers die meeste respek het!
geëart - Goed onder die invloed van die dwelm
gepis of deur die pis - Sterk onder die invloed van drank of gekoring

Roof Bezuidenhout


Roof BezuidenhoutDis net werk toe wat ek nog deur Hillbrow ry

Liewe Laetitia, ek het lanklaas geskryf,
jy weet, dinge gaan maar rof in hierdie bedryf,
geen tyd meer vir vriende, of tyd om te onthou,
? vinnige e-mail om kontak te hou.

My kitaar is vol stof waar dit staan in die hoek,
na die trek van die Kaap af is al my LP’s nou soek,
daar is bokse vol foto’s, leggers vol briewe,
die uitsorteer laat ek maar oor aan die diewe.

En ek weet nie meer vir wie om my hart te gee nie
en tog het ek nooit daai ou songs verleer nie.
Dis net werk toe wat ek nog deur Hillbrow ry,
dis net werk toe wat ek nog deur Hillbrow ry.

Ek ry nou die dag verby die Chelsea Hotel,
vensters toegespyker, haar dae is getel,
geen Mini-Cult Cinema, geen Estirol Books.
So, hoe gaan dit in Londen, het jy gevind wat jy soek?

En ek weet nie meer vir wie om my hart te gee nie
en tog het ek nooit daai ou songs verleer nie.
Dis net werk toe wat ek nog deur Hillbrow ry,
dis net werk toe wat ek nog deur Hillbrow ry.

Bernoldus en Kerkorrel is albei dood
en Kombuis se kinders is al amper groot.
Laetitia, ek weet ek moet jou keuse respekteer,
maar tog moet ek sê ek het iets geleer:

Al weet ek nie vir wie om my hart te gee nie
en al weet ek nie hoe het ek liefhê verleer nie.
Dis net huis toe wat ek deur Hillbrow ry
tog is ek vasgeanker, moet ek hier bly,
is ek deel van hierdie land met liefde en haat,
het ek te veel gegee en te veel gevat
om die donker land nou te verlaat,
om die donker, donker land nou te verlaat.

So nag, liewe Laetitia, jy moet lekker slaap,
ek druk alweer “Delete”, laat ons dit hierby laat,
droom sagte drome in die Noordelike nag,
in die Suide van Afrika sal ek vir jou wag.

Cas Vos
Cas VosVan 6 tot 8 September 2007 was Versindaba in Stellenbosch. Dit was soos water uit die oog van ’n bergfontein. Helder, skoon, vol ritme en musiek. Dorstiges kon dink en drink. Daar was soveel stemme en kleure. Ons het almal die wonder en verwondering van poësie beleef.

Ek het soveel hoop vir môre. Want môre is vol poësie. Daar is klank en ritme om te droom en ’n lewe te verbeel.

Een van die gedigte wat ek voorgelees het, was "Alzheimer’s" uit my nuwe bundel, Die afdruk van ons hande:

Alzheimer’s

Ek weet nie
hoe om vir jou te sê:
elke dag se gestadige dood,
verstomping van die sinne,
trae sloping,
gruwelike misverstand.

Die wind kniel in die stof
en snik ontroosbaar
omdat jy ’n wil-niks-weet geword het.

Uit jou mond het water gemurmel,
nou kou jy net droë korsies.
Jou hande was porseleinkelke
waarin ek my liefde kon skink,
en nou: verstrooide skerwe.

Ek wat so behendig
saam met jou die liefde gemaak het,
ek is nou vir jou ’n wildvreemde.
In ’n spieël gewaar jy vaag (en weg)
die buitelyne van ’n opgedoemde.

Ek weet nie
hoe om vir jou te sê nie:
ek sal jou altyd liefhê
totdat die dood jou,
liefste, van my afsny.

Hans du Plessis
Hans du PlessisKortliks: Die vuur was 'n vers en die vuurmakers was versmakers. Die belewenis was om om die vuur te sit saam met versvrinde van lankal en van nou. Met die ou Skrywersgilde in die graf is daar maar min kampvuurkonserte vir Afrikaanse digters. Toe kry ons 'n warmte by die Versindaba en ons sit om die Afrikaanse vuurtjie saam met die nuwes wat dig en wat sing en wat rap. En Afrikaans brand weer hoog. Dankie tog!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top