Versamelde Boesmanstories 2 is 'n kosbare skat in Afrikaans

  • 0

Versamelde Boesmanstories 2
GR von Wielligh
Uitgewer: Protea
ISBN: 9781869192891
Prys: R160
 

Klik hier en koop Versamelde Boesmanstories 2 nou by Protea Boekhuis!

Dit is aan die landmeter GR von Wielligh te danke dat ons vandag ’n kosbare skat Boesmanstories in Afrikaans besit. Von Wielligh, wat in 1903 as gevolg van ’n ongeluk byna heeltemal blind geword het, sodat hy alleen met ’n sterk bril en ’n dubbele vergrootglas kon lees, het volgehou om na te vors, te luister en dinge van kultuurhistoriese waarde op te teken. So is hy die skrywer van vier bundels Boesmanstories wat tussen 1919 en 1921 verskyn het. Verlede jaar het Protea Boekhuis, met Versamelde Boesmanstories 1, gesorg vir ’n heruitgawe van die eerste twee dele van sy Boesmanstories; so pas het Protea ook die derde en vierde dele uitgegee in Versamelde Boesmanstories 2. In die heruitgawe is die pragtige illustrasies van Hans Aschenborn behou.

Von Wielligh verduidelik die verband tussen die vier dele van sy Boesmanstories in die voorwoord tot Deel IV. Volgens Versamelde Boesmanstories 2, bl 137 het hy “eers die leser ’n kykie in die hart en gemoed van die Boesman laat werp. Hierdeur het ons kennis gemaak met sy manier van dink, wat sy begrip van lewe is, en ook in hoever hy hom in afgetrokke denkbeelde kan verdiep. Toe het ons nader na sy aandvuurtjie gestap om na sy stories, die vrug van sy skeppingskrag, te luister; daarna het ons getrag om hom voor te stel soos hy deur die bril van die beskawing gadegeslaan word. En nou in Deel IV bring ons hom op die toneel om te toon watter rol hy in die hedendaagse beskawing speel.”

Versamelde Boesmanstories 2 bevat (in Deel IV) hoofstukke met titels soos die volgende: “Die Boesman self”; “Die Boesmantaal”; “Hoe Boesmans vry en trou”; “Is Boesmans werklik so dom?”. Deel IV bevat onder andere hoofstukke oor die volgende onderwerpe: “’n Kommando teen Boesmans”; “Die wraak van ’n Boesman”; “Veg Boesmans onder mekaar?”; “Die krag van bygeloof”.

Helize van Vuuren wys in haar inleiding op die wetenskaplikheid van Von Wielligh se bydrae: hy dui byvoorbeeld telkens aan watter persoon die betrokke verhaal aan hom vertel het en ook waar en wanneer dit opgeteken is. Van Vuuren gaan ook in op die verband tussen die navorsing van Bleek en Lloyd en dié van Von Wielligh. Waar Bleek en Lloyd die /Xam-informant in ’n huis in Mowbray ondervra het, gee Von Wielligh die konteks van die stories – dit is “tonele van ware gebeure wat voor die leser se geesteoog opgevoer word” (Versamelde Boesmanstories 2, 14). In baie van die stories is die verteller ’n Boesman, wat bydra tot die outentisiteit. Verder noem Van Vuuren die belangrikheid van Afrikaans by die bestudering van die geskiedenis van die Boesmans. Baie van die boere het die Boesmantaal geken, en Boesmans het Afrikaans geken, sodat Afrikaans ’n merkbare invloed op hul taal en hul vertellings uitgeoefen het – aspekte wat by Bleek en Lloyd verbygegaan het. Daar is talle aanduidings dat “daar ’n ontbrekende skakel tussen die /Xam en Afrikaans was, wat nêrens deur die Bleek- en Lloyd-navorsing duidelik gemaak word nie” (aw, 14).

Von Wielligh plaas die Boesmans binne ’n historiese konteks. Hy wys daarop dat die Boesmans se beskawing tot die Steentydperk behoort, ’n tydperk wat ook die Westerse beskawing geken het – toe Julius Caesar met Engeland in ’n oorlog gewikkel was, het hy gevind dat “die Britte nes swart mense en Boesmans nog kaal loop”! – en dit het ook vir “die Duitsers en ander westelike Europese nasies” gegeld (aw, 29). “Daar bestaan geen nasie op aarde nie, of hulle voorouers was vir duisende jare terug barbare wat sonder klere rondgeloop het, wat geen ander werktuie kon maak nie as van klip, hout en horings” (128).

Hy wys tereg op die belang van die Boesmankultuur in die konteks van die Suid-Afrikaanse geskiedenis: “Sou vandag in Europa ’n klompie van die ou geslag uit die Steentydperk verskyn, let dan op watter ophef oor hulle sal gemaak word. Geleerdes van alle kant sal toestroom om kennis met die voorgeslag te maak ... Wel, hier in Suid-Afrika het ons onder ons vandag nog ’n menseras uit die Steenperiode, en min aandag word aan hulle deur die geleerde wêreld bestee: Ja, eendag sal die nageslag ons, die teenswoordige geslag, vir hierdie nalatigheid met reg grootliks blameer” (137). Hy wys op getuienis dat die Boesmans “honderde jare voor die blankes hier gekom het” (82); meer nog, “dat die Boesman die oorspronklike bewoner en baas van heel Afrika was” (83). Inderdaad, die Boesmankultuur bevat waardevolle inligting, nie net oor die vroeë Suid-Afrikaanse  en Afrika-geskiedenis nie, maar ook oor die oergeskiedenis van die hele mensdom. Gelukkig het Von Wielligh sy eie vermaning ter harte geneem en kosbare inligting oor die Boesmans ingewin en opgeteken.

Vanselfsprekend kyk Von Wielligh met Westerse, Afrikaner-oë na die Boesmans, en word hy veral getref deur dinge wat vir die Westerling vreemd is. Hy merk op dat hulle nie kan lees en skryf nie; hy wens die Boesmanvrou (soos ’n voorbeeldige volksmoeder!) “sal soveel respek hê om trou by haar volk te staan” – want “dan sal sy die redmiddel wees om die bestaan van die Boesman voort te plant” (132). Hy fokus op dit wat vir Westerlinge eienaardig is, soos die enorme hoeveelhede kos en water wat Boesmans kan verorber, skynbaar sonder om aan die dag van môre te dink. Hy meen dat die Boesman op sendingstasies “’n mislukking” was “omdat hy vir hoër begrippe onvatbaar is” (192), en merk nie die raakpunte tussen die Boesman-godsdiens en godsdienste wat later sou ontstaan nie.

Maar daarnaas openbaar Von Wielligh ’n merkwaardige openheid vir die perspektief van die Boesman. Hy begryp “waarom dit ’n moeilike ding vir ’n wilde Boesman is om te verstaan waarom die wit mense en basters mag vee aanhou en sê dat dit hulle eie is, terwyl hul aan die ander kant hulle eie reg gebruik om die Boesman se vee (die wild) te kom doodskiet of verjaag, waardeur die Boesmans moet honger ly ... Hulle meen dat die wit man maar in sy eie land moes gebly het om daar met sy vee te boer, en nie hiernatoe moes gekom het om die Boesmans se vee, gronde en waters af te neem nie” (190).

Von Wielligh reageer kennelik op ’n algemene diskoers van sy tyd wat die Boesmans as diere beskou het. Sy siening sluit aan by dié van SJ du Toit in Die koningin van Skeba – Von Wielligh stel feitlik presies dieselfde vrae wat in Du Toit se roman voorkom: Het ’n Boesman ’n taal? Kan ’n Boesman vuur maak? Kan ’n Boesman gereedskap maak? Hou ’n Boesman honde aan? Die implikasie is duidelik: Boesmans is nie diere nie. Von Wielligh tree dan ook herhaaldelik as apologeet vir die Boesmans op:

“Dit het by ons ’n vaste uitdrukking geword: Hy is so dom soos ’n Boesman; sy verstand is so kort as dié van ’n Boesman. Maar is hy nou so dom in alles?” (95). Die antwoord op die gestelde vraag word duidelik in die Boesmanstories, waarin die Boesmans se vaardigheid as ambagsmanne, die voortreflikheid van hul grotskilderinge en hul bedrewenheid as jagters herhaaldelik na vore kom.

In sy weergawe van die etiek van die Boesmans kom daar wyshede voor wat die moderne leser tot nadenke stem.

Die Boesmans het nie ’n regeringstelsel nie: “Ons het nie kapteins om vir ons te roep om oorlog te kom maak nie, en as niemand ons roep nie, wie sal dan gaan? Basie, die kapteins, dis hulle dié wat al die kwaad stook, en ander wat die rusie nie gemaak het  nie, dié moet oorlog maak” (183).

Ek eindig met ’n aanhaling uit Von Wielligh se inleiding tot Deel IV van die Boesmanstories. In die inleiding wys hy daarop dat die geskiedenis soos ’n “koue standbeeld” is; hy wil egter die lesers “met ’n lewendige ras in aanraking bring” (136). Hy sluit af met die opmerking: “Maar daar sal gewis ’n tyd aanbreek dat nie alleen kinders nie, maar meer as kinders hulle ore sal hou teen die blaaie van Boesmanstories om te luister na sprokies en vertellings asof die woorde direk en duidelik afkomstig is van die oorspronklike lippe wat hulle vertel het” (139).

Inderdaad profetiese woorde. Dit is nodig om te herhaal wat ek in my LitNet- resensie van Boesmanstories 1 geskryf het: “Saam met Hennie Aucamp wil ek die wens uitspreek dat die stories ook in Engels vertaal sal word, ‘sodat die nalatenskap van GR von Wielligh uiteindelik ingeskakel kan raak by ’n uitkringende diskoers, plaaslik maar ook wêreldwyd, oor die Boesman en sy kosmologie.’”

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top