Verraad

  • 0

Foto: Canva

Verraad

jy gaan nie meer saam met my nie
my beminde behoort nie aan my nie
ek is nie net joune nie

snags lê ek op ons bed
maar ek verlang nie na jou nie
ek gaan nie uit om na jou te soek nie
ek bind jou vas, blinddoek jou

want ek laat my lammers tussen jakkalse wei

ek staan nie meer op om na jou te soek nie
want alles aan jou het verdor
jou skoonheid is oortrek van melaatsheid
die skalkse kyk van jou oë betower my nie meer nie

want ek laat my lammers tussen jakkalse wei

ek behoort nie meer aan jou nie
jou halssnoer wurg my
jou mond smaak bitter
alles aan jou stoot my af

want ek laat my lammers tussen jakkalse wei

jy is nie net myne nie
jou wellus brand soos vuur
hoe veragtelik is jy tog, beminde
ek stoot jou van my weg
moet my nie teen jou vashou nie
jy skeur ons seëlring uit my bors
verkoop die seëlring aan jou vinger

want jy laat jou lammers tussen jakkalse wei

laat ek my deur vir jou sluit
want jou nardus bekoor my nie
mense om jou weeklaag oor jou
wyn is veel beter as jou liefde

want jy laat jou lammers tussen jakkalse wei

jou vriende het jou verlaat
mense verag en verstoot jou
jy besit die liefde nie

want jy laat jou lammers tussen jakkalse wei

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top