Verplasing

  • 1

Die week in woorde

Soms is die enigste manier om ’n ding gedoen te kry om jouself heel letterlik uit jou omgewing te verplaas. 

Dit wil lyk of geen mens in die stad ’n boek geskryf kan kry nie. Buiten werk is daar in die stad soesji-restaurante, filmteaters en verkeer wat jou aandag aftrek. Niemand kan ’n boek skryf as hulle in een naweek vier keer gaan fliek (Shame, Salmon Fishing in the Yemen, Quiet Chaos en The Artist − almal wonderlike films) en twee keer soesji eet nie (altyd net avo maki en  vegetariese California rolls).

Dit is daarom dat hierdie soesjiverslaafde filmpatat besluit het om eersdaags uit te wyk na die plaas. Sien, dis stil op die plaas, as ’n mens vir Jan FE Cilliers wil glo. Kyk byvoorbeeld dié fragment uit "Martjie":

Dis warm ...
en stil.
Stil ook in die grote boerehuis onder die eike;
geslote ten halwe die luike 
...

In hierdie tipe stilte, reken ek, kan ’n mens dalk genoeg van jou eie gedagtes hoor om dit op papier neer te kry voor dit uitgedoof word deur die gedruis van verkeer. Miskien, sonder die onderbreking van gedurige vermaak, kan ’n mens lank genoeg stilsit om ’n kwatryn te skryf, of ten minste dan ’n versreël.

Die plan is dat ek vir ’n paar maande op my ouers se plaas in die Overberge gaan sit, met my hanslammers Wolraad en Woltemade kommunikeer, in die veld stap en tussendeur my tesis en digbundel ore aansit. Ek sal darem ook ’n paar ure per week aan PoësieNet afstaan om seker te maak daar is altyd nuwe gedigte en kortverhale op LitNet, maar meestal gaan ek by die venster uitstaar en op die see uitkyk wat in die verte op sy eie stories lê en broei. 

Die lank en kort daarvan is dat daar nou geen verskonings meer sal wees as ek nie geskryf kry nie. Dis ’n vreesaanjaende gedagte. Wit velle papier en leë rekenaarskerms so wyd en oop soos die grasvlaktes.

Volgende week skryf ek van die plaas af.

Tot dan

Bibi

Voorgeskrewe leesstof

Ek het op hierdie kostelike webblad afgekom wat toegewy/wei is aan hooi in kuns. Op hierdie blad word hooi in die digkuns bespreek, en daar is skakels na ’n wye verskeidenheid gedigte, oa deur Ted Hughes en Seamus Heaney.

Ek hou van hierdie gedig deur Joyce Suthpen: My father's farm

Vir almal wat nie na die plaas kan uitwyk nie, maar ten minste die gevoel wil skep in die stad – hier is ’n gids om ’n stedelike groentetuin aan te lê.

Gedigte op LitNet

Klik hier vir alle nuwe poësie op LitNet.


 

  • 1

Kommentaar

  • Johann de Lange

    Lieflike foto met die bale & die lappie bome op die horison. Ek het skielik só 'n behoefte om dáár in daardie onbegrensde landskap te wees, & net aan te hou loop & loop.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top