Verhale as dubbelfoto’s

  • 0


Titel: Dubbelfoto
Skrywer: Cas Wepener
Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 9781869199678

 

Koop Dubbelfoto by Kalahari.com.

Cas Wepener se debuutbundel kortverhale, Dubbelfoto, wat pas by Protea Boekhuis verskyn het, is ’n bundel wat, in die terminologie van Botes en Cochrane (LitNet 2011), as ’n kortverhaalsiklus beskryf kan word. Verhale wat deurlopend inspeel op mekaar, vooruit en terug verwys na karakters en gebeure, en ’n innerlike verweefdheid vertoon, wat die leser dwing tot noukeurige lees.

Die titel en die motto uit Roland Barthes se Camera Lucida dui reeds op die belangrikheid van foto’s en die noue verwantskap tussen toeskouer/leser en die gefotografeerde: “A sort of umbilical cord links the body of the photographed thing to my gaze …” Die karakters en landskap in hierdie kortverhale word nie net deur foto’s soos in ’n familie-album verbind nie, maar ook deur die gedeelde landskap: “En tog is ons almal verbind aan mekaar deur hierdie landskap” (82).

Die eerste verhaal, “Momento mori”, beskryf die dubbelfoto waarna die titel van die bundel verwys: “Wat die foto anders maak as al die ander, is die kombinasie: twee foto’s van dieselfde blonde seuntjie op een stuk karton. Links sit en glimlag die blonde seuntjie met sy engelgesiggie vir die fotograaf. Sy mond glimlag, nie sy groot, ligte oë nie. Regs lê hy in ’n klein wit doodskissie (12). Hierdie foto skep by die verteller terugskouend die begrip van lewe en dood op een foto, maar ook die besef (en vrees) dat die dood reeds in elke foto aanwesig is, ’n moontlikheid is (14). Om weer vir Barthes aan te haal: “It is because each photograph always contains this imperious sign of my death …” (Camera Lucida, 97).

Die kortverhale, party besonder kort, word vertel vanuit ’n verskeidenheid perspektiewe en tye, maar dikwels verwys dit direk of indirek na van dieselfde karakters en kerngebeure, selfs lede van dieselfde familie wat kennis dra van, of teenwoordig was by, gebeure soos die dood van die blonde seuntjie, ’n doopgeleentheid, ’n troue, ’n begrafnis. Die bentwood-stoel wat prominent in die eerste verhaal beskryf word, word ook deurlopend as motief aangedui as illustrasie saam met die titels van al die verhale.

Sodoende kom ’n familiegeskiedenis stuk vir stuk en verhaal vir verhaal tot stand.

Met die lees van die verhale word ’n progressie in tyd en ruimte duidelik: van die begin van die vorige eeu tot die moderne tyd van breking; van die Groot Karoo, veral die Graaff-Reinet- en Steytlerville-omgewing, tot die stad; van voorgeslagte tot agterkleinkinders. Dit word ook duidelik dat die een verhaal inspeel op en vooruit- of terugverwys na ander, sodat familiegeheime en -identiteite vir die leser al hoe duideliker word. Die herhaling van verwysings na dieselfde gebeure, die besonderhede van landskap en intiemer ruimtes, ’n uitbeelding van dieselfde gewoontes, word ’n uitnodiging vir die leser om die verskillende sleutels en skakels met mekaar te verbind. Sodoende word hierdie verhale óók dubbelfoto’s wat naas en onder mekaar geplaas is. Op dieselfde wyse word soms ook die treffende slot van verhale verwysings na die inhoud en betekenis van ander.

In hierdie verhale kan die mees natuurlike en konkrete voorwerpe en handelinge dien as skakels tussen verhale: ’n stoel, die handeling van brei, donderwolke, ’n seisoenkaartjie na Nuweland, ’n wit rok, ’n driewiel, ’n geel Mazda-bakkie en ’n jagtog. Struktuurelemente soos titels, vertelperspektiewe en die tydsverwysings dien dieselfde doel. Hierdie begrip van verweefdheid tussen verhale, gebeure, landskap en karakters neem algaande toe met die lees van die bundel, totdat die slotverhaal uitdruklik verwys na die “naelstring van ons landskap” en die Sondagsrivier wat “steeds soos ’n slagaar deur ons almal” loop (95). Die metafoor van die ondergrondse are kan ook op die bundel toegepas word: “Meneer Fourie het duidelik een aar raakgesien en drie plekke op die bepaalde aar gemerk; enigeen van die drie sou water uit dieselfde aar oplewer” (94).

Om terug te keer na die bundeltitel en foto’s: die verwysing na en bespreking van foto’s is een van die belangrikste deurlopende motiewe, en dus bindingsmiddels, in dié kortverhale, soos reeds deur die titel en motto voor in die bundel aangedui. Daar is byvoorbeeld die direkte skakel tussen verhale en ’n bepaalde foto soos tussen “Momento mori”, “Blink vosperd” en “Die troue”; tussen “As” en “ Die kind se suster”. Sommige verhale, soos “Hotel California”, skep die indruk van die beskrywing van ’n foto. Daar is heelwat verwysings na die sogenaamde familie-fotoalbum en dat die storie van die plaas daarin saamgevat word. Sommige geleenthede word aangedui as dié sonder foto’s, terwyl ander, soos ’n troue, weer ’n “oorvloed van foto’s” opgelewer het (20); op ’n yskasdeur is daar onder die magnete spesifieke foto’s van “jóú tussen-swart-en-wit-tye”, en daar is selfs ’n selfoonfoto van ander foto’s (83).

Die betekenis van hierdie foto’s word ook beskryf as onder andere herinneringe, “lig van die verlede” (11); dat dit vertel, wýs en verbloem (19); dat die fotograaf se gedagtes soos die flits van ’n kamera is (23) die dag toe hy die dooie seuntjie moes afneem; dat hy reeds die vooruitwysing na die dood in die seuntjie se oë gesien het van agter sy lens toe hy hom nog lewend afgeneem het (27): “Hy’t gesterwe al was hy eintlik klaar dood” (29).

Cas Wepener toon in hierdie debuutbundel ’n fyn aanvoeling vir die beskrywing van atmosfeer, karakter en landskap. Hy het ’n oog vir die kleinste besonderhede en hy skep ’n interessante konteks met ’n web van inligting wat deur die betrokke leser noukeurig gevolg moet word om die geheim van teks en intrige te ontrafel.

Ek sien uit na sy volgende verhale.


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.
 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top