Die Franse skrywer Gabriel Matzneff het miskien so gedink. Hy het immers nooit ’n geheim gemaak van sy voorkeur vir seks met minderjariges nie; inteendeel, hy het dekades lank sy ervarings met kinders in werke soos Les moins de seize ans (Die ondersestiens) (1974) omvattend beskryf. Dekades lank is hy deur die literêre milieu bewonder en selfs (so onlangs as 2013) vereer. Bitter min mense het die inhoud van sy gepubliseerde persoonlike dagboeke bevraagteken – totdat daar op 2 Januarie vanjaar ’n boek verskyn het wat ’n polisieondersoek en ’n literêre skandaal tot gevolg gehad het en die Franse volk opnuut laat besin het oor wat hulle bereid is om oor die hoof te sien in die naam van kuns.
Le Consentement (Toestemming) is Vanessa Springora se verhaal van 30 jaar gelede. Sy was 14 jaar oud toe haar enkelma haar op ’n dag na ’n uitgewersfunksie saamsleep. Skuins oorkant haar aan tafel sit ’n aantreklike kaalkopman van onbepaalde ouderdom.
"Sy blik hou my geringste bewegings dop en wanneer ek dit uiteindelik waag om vir hom te kyk, glimlag hy vir my met wat ek aanvanklik gedink het ’n vaderlike glimlag is. Dis ’n glimlag van ’n man en ’n pa – iets wat ek nie meer het nie" (bl 40; my vertaling).
V se verhouding met die gerekende skrywer, G, begin soos dit later sou eindig: per brief. Dit is ’n hofmakery wat vinnig van papier af in die werklikheid oorspoel en kort voor lank gaan haal die man van in die vyftig die tienermeisie smiddae by die skool en neem haar na sy woonstel, waar hulle ure in mekaar se arms deurbring. Sy is verlief op hom, en haar ma, ’n produk van die 1968-studente-opstande, aanvaar dit gelate.
Wat V nie besef nie, is dat G reeds in die sewentigerjare, ’n dekade voor hul ontmoeting, die anonieme outeur was van verskeie petisies in koerante om die Franse wette wat seksuele verhoudings tussen volwassenes en kinders verbied, te verslap en die ouderdom van seksuele volwassenheid tot niet te maak. Hoekom sou soveel bekendes uit linksgesinde literêre kringe (lees: Simone de Beauvoir, Jean-Paul Sartre, Roland Barthes en Louis Aragon, om ’n paar te noem) iets wat vandag as absoluut skokkend beskou word, met soveel entoesiasme ondersteun? "Dit was die jare sewentig," skryf Springora op bl 64. "In die naam van die Seksuele Revolusie en die bevryding van morele waardes, moes die vryheid van plesier vir álle liggame bevorder word."
In sy woonstel, waar hulle omring word deur honderde opgestapelde boeke, vra G op ’n dag: "Het jy geweet in die Antieke Tye is dit nie net aangemoedig nie, maar ook as ’n verantwoordelikheid gesien van volwassenes om jongmense seksueel te inisieer?" (59). Hy vra of sy weet dat klein Virginia net 13 jaar oud was toe Edgar Poe in die 19de eeu met haar getrou het, en hy wys vir haar die erotiese foto’s wat Irina Ionesco van haar dogter Eva geneem het. ’n Ander keer vaar hy uit teen die Amerikaners, "’n klomp Puriteine saamgebondel in hul seksuele frustrasie, wat die arme Roman Polanski vervolg om hom te verhinder om films te maak" (60). Polanski het in 1978 uit die VSA gevlug nadat hy aan onwettige seksuele omgang met ’n minderjarige skuldig bevind is. Hy het hom in Frankryk gevestig, waar hy voortgegaan het om films te vervaardig. Sy 2019-fliek J’accuse (An officer and a spy) is ondanks reuseprotesaksie uit #MeToo-kringe vir 12 Franse César-toekennings benoem.
Maar hierdie is die tagtigs, lank voor #MeToo. "Hoe kan ’n mens nie swig voor al G se bewyse nie?" vra V. "’n Veertienjarige meisie het die reg om lief te hê wie sy wil. Hy het my dit mooi laat verstaan. En as ’n bonus het my lewe in dié van ’n muse verander" (61).
Eers toe V haar in van sy boeke begin verdiep, besef sy: "Ek het nie naastenby eksklusiewe reg op hierdie epiese uitstortings nie." G huiwer nie om sy jong minnaresse se briewe in sy werk te reproduseer nie en die briewe lyk almal min of meer dieselfde. "Elkeen getuig van ’n liefde so hemels soos dié van Héloïse en Abélard, so vleeslik soos dié van Valmont en Tourvel." Die woordeskat verskil hemelsbreed van dié van haar ouderdomsgroep. "Dit is universele en tydlose terme van epistologiese liefdesliteratuur" (90).
G lê woorde in hul monde en hy stroop hulle van hul eie woorde. "Het alle jong meisies tussen 14 en 18 jaar met ’n voorliefde vir letterkunde dieselfde skryfstyl? Of is ek deur die uniforme styl van hierdie briewe beïnvloed nadat ek G se boeke gelees het?"
Springora vermoed die korrespondensie het ook as ’n skans gedien; ’n bewys dat hy nie ’n monster is nie. "Want in G se geval is die liefhebber van tieners ook die skrywer, en die outoriteit en sielkundige houvas wat hy geniet, is genoeg om die meisie van die oomblik skriftelik te laat bevestig dat sy tevrede is. ’n Brief laat ’n spoor, en dit moet beantwoord woord. Deur hierdie stille bevel maak die tiener dit haar missie om G gerus te stel wat betref die plesier wat hy verskaf, sodat indien die polisie opdaag, haar toestemming nooit in twyfel getrek kan word nie" (92).
"Is jy seker?" het V se ma gevra toe sy aankondig sy het die verhouding met G verbreek. "Hy is dan so mal oor jou." G het op sy beurt kompulsief hul verhouding begin dokumenteer. Tussen haar 16de en 25ste jaar verskyn daar ’n hele biblioteek romans uit G se pen waarin sy veronderstel is om die heldin te wees; daar is die publikasie van sy persoonlike dagboek wat oor die tydperk van hul verhouding strek en hy noem gereeld haar naam tydens media-onderhoude.
"Vir die res van die wêreld is dit ’n fladdering van vlindervlerke, maar vir my is dit ’n aardbewing" (168). V se lewe ontspoor. Vir jare worstel sy met die idee van slagofferskap, sonder om in staat te wees om haarself daarin te herken.
"Seksuele misbruik gebeur stadig maar seker, sonder dat ’n mens duidelik daarvan bewus is. Daar word nooit gepraat van seksuele misbruik tussen volwassenes nie. Daar is die uitbuiting van weerloses en kwesbares, soos oumense of gestremdes. Weerloosheid is waar die verskil lê. Daar is dieselfde ontkenning van realiteit: die weiering om jouself as ’n slagoffer te sien. Hoe kan jy toegee dat jy misbruik is, as jy nie kan ontken dat jy toestemming gegee het nie? Ek het gevoelens van begeerte vir hierdie volwassene gekoester, wat op sy beurt dit nie vinnig genoeg kon uitbuit nie" (163).
"Indien seksuele verhoudings tussen volwassenes en kinders jonger as 15 verbied word, hoekom word dit toegelaat wanneer die volwassene ’n fotograaf, ’n skrywer, regisseur of ’n skilder is?" vra Springora. "Dit wil voorkom of die kunstenaar tot ’n heel ander klas behoort, asof hy ’n wese van bomenslike deug is, aan wie ons onvoorwaardelike magtiging gee, en al wat ons in ruil verwag, is die voortbring van ’n oorspronklike, subversiewe oeuvre" (193).
Die bewaring van korrespondensie vir latere publikasie en die verewiging van die weerlose minnares op papier herinner sterk aan die liefdes-, woord- en magspel tussen die onaantasbare Brink en die kwesbare Jonker, hoewel meerderjarig.
"Mag ons Picasso se werk bemin ten spyte van die wyse waarop hy vroue behandel het?" vra Deborah Steinmair in haar Vrye Weekblad-artikel "Sy wás ’n klein maagd – bespiegelings oor sekspeste, genieë en André P Brink se spel van liefde" (24 Mei 2019). "Gelukkig is Hitler se skilderye swak en Steve Hofmeyr se liedjies schmaltzy, maar moet ons Wagner saam met die badwater weggooi? Mag net die moreel onaanvegbares skep? Is daar iemand op aarde wie se hande skoon is?" vra Steinmair.
In hierdie geval was die letterkunde ’n werktuig wat ’n belangrike rol in die uitvoer van die onreg gespeel het. Dit is hoekom Springora gevoel het Le Consentement is haar enigste uitweg: om die jagter in sy eie wip te vang en hom in ’n boek op te sluit.
"Deur te skryf het ek weer die hoofkarakter in my eie storie geword. ’n Storie wat vir te lank van my weggeneem is" (202).
Op 3 Januarie 2020 het die Franse vervolgingsgesag ’n ondersoek geloods en polisieklopjagte is op xGabriel Matzneff (83) se tuiste en die kantore van sy uitgewer, Gallimard, uitgevoer. Volgens die ondersoekendenuuswebtuiste Mediapart is daar beslag gelê op die kluis waarna hy in 2008 in media-onderhoude verwys het, waar daar glo tekste bewaar is wat hy as "te skandalig vir publikasie" beskou het. In ’n aparte regsaak sal Matzneff na verwagting op 28 September 2021 in die hof verskyn op aanklagte van "regverdiging van pedofilie" wat spruit uit sy reaksie op die bewerings wat Springora in haar boek gemaak het. Intussen het ’n tweede beweerde slagoffer na vore gekom. Francesca Gee het op 31 Maart in ’n openhartige onderhoud met die New York Times oor haar verhouding met Matzneff gesels. ’n Foto van haar as tienermeisie pryk op die voorblad van sy roman Ivre du vin perdu.




Kommentaar
Uitstekende artikel, dankie.
Lynné, jy is nooit bang vir kontroversie nie. Goed gedoen! Nog beter geskryf.
Raak 'n bietjie los.
https://youtu.be/YXvSCw52YdE