Verekry oor Afrikaans

  • 1

Daar was 'n tyd toe die onderrigtaal aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) oorwegend Afrikaans was. Die studente het toe studeer in die taal wat hulle die beste verstaan en nie in die taal wat hulle om politieke redes verkies of voorgee om te verstaan nie. Dit was 'n tyd toe hulle kultuur op daardie kampus geblom en in groter mate as tevore, of sedertdien, tot sy reg gekom het. Adam Small en later Jakes Gerwel was dosente daar. In daardie milieu het Small se bekende drama en sy ander skryfwerk ontstaan. Buite die bruin gemeenskap het erkenning vir sy literêre werk nie gou gekom nie. Dit is seker ook nie aktief nagestreef nie. As iemand in die waan verkeer het dat hy vinnig ver gevorder het, is gou gesê dat hy vere gekry het.

Dit is erg oordrewe om te beweer dat net of veral 'n enkele drama van iemand 'n wêreldfiguur maak. Shakespeare en Vondel het deurlopend oor dekades dramas gelewer voordat hulle erkenning ontvang het. Erkenning word nie afgedwing deur mense wat hulle "bekke" rek nie. By die toekenning van literêre pryse, soos die Hertzog- en die Nobel-prys, word sommige skrywers bevoordeel en ander benadeel. So 'n proses geskied dus nie foutloos nie. Dit kan vergesog wees om te beweer dat doelbewuste benadeling plaasgevind het en 'n onreg gepleeg is wat reggestel moet word. Maar as iemand na analogie van die politiek op 'n kruistog wil gaan om benadeling te neutraliseer en onreg reg te stel, moet dit verkieslik 'n inklusiewe proses wees. 'n Gejuig moet nie opgaan net wanneer 'n lid van sy etniese groep uiteindelik erkenning ontvang nie. Met dieselfde ywer moet stemming vir die regmaak van alle foute "van die verlede" (deesdae 'n gewilde slaansak) gemaak word.

Wanneer so iemand terugdink aan sy UWK-dae moet hy nie net Small en Gerwel noem en net hulle loof as sy dosente nie. As hy op die veelgeprese inklusiewe manier dink, sal hy besef dat daar baie ander en akademies beter dosente was wat nie in die klaskamer en elders sy politieke aspirasies verwoord het nie, maar hom op opvoedkundige en dus eintlik belangriker maniere geestelik gevorm het. Tot op hede kan so iemand bv besef dat moedertaalonderrig die beste of sinvol is. Dan kan hy besin oor waarom die UWK, nadat Richard van der Ross as rektor afgetree het, in 'n eentalige Engelse inrigting omskep is. Waarom moet baie UWK-studente deesdae die voordele van moedertaalonderrig ontbeer? Tydens die RSG-uitsending op 16 Maart is vaagweg beweer dat daar redes vir die UWK se huidige nie-inklusiewe eentaligheid is. Wat toe heftig maar onoortuigend ontken is, is die aantyging dat wanneer 'n bruin mens hoof van 'n universiteit in die nuwe Suid-Afrika word, Afrikaans die kreeftegang gaan.

Wanneer sprekers, soos op 16 laaslede, aan 'n radio- of televisieprogram oor Afrikaans deelneem, is dit myns insiens wenslik dat elkeen verplig word om aan die begin sy kaarte op die tafel te plaas. In hierdie geval moes elkeen gesê het wat sy huistaal is en in watter taal sy kinders skool- of universiteitsonderrig ontvang. Dit sou die deelnemers se werklike gesindheid teenoor Afrikaans openbaar het. Feitlik al hierdie deelnemers laat hulle gereeld oor Afrikaans uit. Maar wanneer verduidelik hulle waarom die UWK verengels het? Wanneer toon hulle aan dat Afrikaans aan die universiteite te Bloemfontein, Pretoria en Stellenbosch onder die leiding van bruin rektore nie agteruitgaan nie? Wanneer beywer hulle hulle vir die herstel van Afrikaans as onderrigtaal aan die UWK en aan die universiteit te Port Elizaberth, wat ook 'n bruin rektor het? Dieselfde geld die Universiteit Johannesburg, wat as teenvoeter vir Wits uitsluitlik Afrikaans was. Afrikaans as onderrigtaal is daar grootliks vernietig. Ook die universiteit se naam, Randse Afrikaanse Universiteit, het nie oorleef nie; mag nie voortbestaan nie.

By hierdie bruin mense wat hulle gereeld oor Afrikaans uitlaat, is die strategie dat alle soorte Afrikaans gelykwaardig is. Wat eerder beweer moet word, is dat variante van Afrikaans bestaan en dat daar nie wesenlike besware teen streekspraak soos Namakwalandse Afrikaans behoort te wees nie. Sodanige streekspraak hou geen bedreiging vir die voortbestaan van Afrikaans in nie. Maar Son- en 7de Laan-Afrikaans is nie gelykwaardig aan Standaardafrikaans nie. Engelse woorde is aanvanklik, moontlik veral om politieke redes, vryelik in Kaaps opgeneem. Hierdie ongesonde neiging is in die nuwe Suid-Afrika op 'n breër terrein voortgesit met die doel om veral die Afrikaner te verneder deur sy kultuur te ondermyn. Kragtige massamedia soos die radio, televisie en die pers word vir hierdie doel misbruik. Dwarsoor die wêreld stel hierdie massamedia hulle egter ten doel om die standaardtaal (bv die woordeskat en uitspraak) te bevorder. As in die nuwe Suid-Afrika na 'n normale samelewing gestreef word, sal Standaardafrikaans dus bevorder moet word en nie hibriede-Afrikaans deurspek met Engelse woorde nie. Met hibriede-Afrikaans word respek vir die taal afgetakel en die voortbestaan van Afrikaans bedreig. As bruin mense werklik lief vir Afrikaans is, werklik omgee, die taal koester, sal hulle hulle uitspreek teen die verbastering van Afrikaans met Engelse woorde en anglisistiese uitdrukkings. In hierdie sin is taalsuiwerheid 'n bate en nie 'n skande nie.

Dit is bekend dat 'n bruin mens wat 'n dosent in Afrikaans aan 'n oorwegend Afrikaanse universiteit was om politieke redes sy intreerede in Engels gelewer het. 'n Ander bruin mens wat 'n dosent in teologie aan 'n oorwegend Afrikaanse universiteit is, het om politieke redes sy intreerede in Engels gelewer. Na analogie van sy etnisiteit het hy in sy koerantrubriek hibriditeit tot 'n ideaal verhef wat deur almal in die nuwe Suid-Afrika nagestreef kan of moet word. Op hierdie manier het hy eintlik homself tot norm vir ons almal verklaar. Hibriede-etnisiteit is sekerlik nie 'n skande nie. 'n Huwelik oor etniese grense stel ekstra "uitdagings" maar behoort nie daarom veroordeel te word nie. Daar moet egter nie oorboord gegaan word deur so 'n gemengde huwelike utopies voor te stel nie. Die punt wat ek wil stel, is dat dit dwaas is om lof vir etniese hibriditeit na taalhibriteit oor te plaas as dit meebring dat die besoedeling van Afrikaans met Engelse woorde goedgepraat word. Daarmee word die ondergang van Afrikaans bevorder.

Johannes Comestor

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top