verdwene grafstene

  • 0

slawe’s aan noordwestekant van Stad,
buite Buitengracht-kant, verby duine,
seekant van hangpaal, Kaap se Golgotha,
in sagte grond ter Aard’ bestel, neergelê,
waar vleisvreters saans rondgesluip het

waai Kaapse Dokter toe al suid-oostelik,
klank see toe, weg vannie Kaapsche Vlek,
ver van voorstoep van Van Riebeeck-gesin,
Jan en Maria, slavinne, peetkind Krotoa,
teetyd-rustiglik uitbreiding, wording,
van beschavingsprojek, Afrika-kolonie,
imperialisties betrag, gade slaan, sien,
super-elite, Fort se vooraanstaandes,
vol vrees vir inboorling, dier, wildernis

waai Kaapse Dokter toe al so suid-oostelik,
verby Krotoa Havgard, attaché, se ambassade,
haar kommunikasie-agentskap, veewerfmissie,
haar interkultureel sambreel, waaronner Eva,
dogmaties submissief, haar koloniaal plig,
na goeddunke van Jan, Kompanjie, verrig,
bydrae lewer tot vestiging, uitbreiding,
vannie VOIC se struktuurgeweldsmag,
slawernyverslaafdheid, inboekstelsel,
nagwagte, slootgrawers, waterdraers,
houthakkers, amokmakers, bandiete,
drosters, uit stres van Maatschappij,
uit apartheid uit, uit kil imperialisme,
kwasi-pseudo-superioriteitsbewustheid,
ultra-onkunde-ontkenningsfondamente

vir slawegrafte toe nog nooit so iets,
soos histories herkenbaar koppenente

Jacobus Faasen

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top