Ek wou nog byvoeg by wat ek gesê het in my vorige skryfsel in die verband, spesifiek oor die oefening wat 'n taal, net soos vir 'n organisme, gespierd maak.
Die feit dat ekonomiese verslae, wetenskaplike verslae (WNNR, SABS ens), bouspesifikasies, hofverslae en dies meer nie meer in Afrikaans gedoen word nie kom natuurlik ook neer op gebrek aan oefening. Hierdie gebrek aan oefening laat die taal sy spierkrag verloor, net soos die organisme agteruitgaan wanneer hy gaan lê. Nou sneeubal die storie: Afrikaanssprekers kom by die huis en, as hulle oor die werk praat, soos wat mens nou maar maak as mens by die huis kom, gebruik hulle die Engelse terme en begin naderhand ook sommer die Engelse sintaks gebruik, soos daardie verkeerde 'doen'.
Met die nou dat die ouers nou so Engfrikaans by die huis praat gee hulle hul kindertjies 'n 'voorsprong' deur hulle in 'n Engelse skool te sit en naderhand praat die kinders onder mekaar Engels en sommer met die ouers ook (vra my, ek weet). Terloops, weet hulle nie dat Engels as 'n vak verpligtend is in Afrikaanse skole nie? Die ouers troos hulle daaraan dat hulle darem nog in Afrikaans droom; 'n absurde stelling want mens droom of dink nie in 'n taal nie.
So word die taal dan net naderhand gebruik om te huislike opdragte te gee en te skinder. Radiogaste is 'n duidelike voorbeeld; luister maar op RSG hoe sukkel hulle met Afrikaans. Kort-kort hoor jy ' ..ek weet nou nie wat die Afrikaans is nie maar ...' Selfs die kruievrou van die Noord-Kaap praat nou die dag van 'n 'code of honour'. Baie van die omroepers se Afrikaans is ook maar uiters power.
Terselfdertyd is RSG besig met 'n intensiewe veldtog om Engels te stoot. Monitor en Spektrum se verslae is omtrent 70% Engels. Soos ek al vertel het, die verslaggewer / -geefster sê 'n sinnetjie en dan volg 'n ellelange skaars hoorbare relaas deur 'n minister of 'n staatsamptenaar, baie keer met 'n Afrikaanse aksent. Al hoe meer advertensies eindig met 'n Engelse slagspreuk en dit nogal met die Engelse 'r'. Dis belaglik en dit klink gedienstig en is heeltemal, jy kan maar sê, van die wysie af; klink vreemd.
Op die manier is dit dan duidelik hoekom Afrikaans so agteruitgaan. Hy oefen nie meer nie.
Jan Rap


Kommentaar
Jan