Die pad tussen daar en daar lê vol van die na-middag se verkeer. Alhoewel dit baie vêr van die werklike metropool verkeersopeenhoping verwyder is, sukkel dit selfs in die uithoeke van die voorstede ook. Dis hier waar die einde van die dag se gedagtes die musiek hoorbaar afsluit en hul eie koers inslaan.
Die onlangse onderwerp vir skryfgoed, sluimer al ’n dag of wat in my gemoed. “Verandering”; sjoe, hoeveel meer kan ek daaroor skryf? Die vraag dwarrel so af-en-toe in my gedagtes rond en net soos ek dink dat dit in ’n rigting wil beur, dan wyk dit in ’n ander rigting weg. Die verandering waaroor die peinsing op hierdie middag in die motor gaan, is een wat my hare so een-een laat orent spring - moontlik ook bloot omdat enkele van die hare wat nog vasbyt, elkeen op sy eie kan opstaan!
Eendag lank-lank gelede, was daar ’n seun wat erg met sy selfbeeld gesukkel het. Hy wou ’n klomp dinge in sy lewe verander. Meer spiere, meer hare, meer klere, meer karre, meer geld, meer meisies (nie almal sal dit glo, maar juis), meer gewildheid, meer sukses. (My Moeder het altyd vertel dat ek nooit een lekkertjie of koekie wou vat nie, dit moes twee wees – een in elke hand.) Die vaal laerskoolseun met die hoenderborsie-bolyfie en dun beentjies het op ’n dag ’n stel oefeninge ontdek wat met bietjie inspanning, so sonder dat hy dit besef het, vir hom nogal ’n aantreklike jongmanslyf help vorm het. Waar ander seuns die spreekwoordelike kerfmes moes uitruk om die baba-vet-lyfie in ’n viriele oogtrekker te omskep, was dit by my andersom. Die lekker en aanhoudende geëet om die wurm in die spiertjies te voed, het besonders goed gewerk. Teen die einde van Matriek was ek meer as tevrede met die beeld in die spieël.
Met ’n oulike meisie op die arm elke naweek en skamerige flirtasies deur die week, was die begin van my studentedae een groot lekkerte. Die punte was goed, die hare genoeg, die kar nogal “kief” en skielik was hierdie vaalseun op die boonste trappe van die gewildheidsleer. Mense, dinge daar buite was kookwater!
Die studentedae is met eer, prestasie en lofsange afgesluit. Toekoms hou vas; ek is op pad! Die “lewenskaarte” vir my is net reg gedeel. So sonder veel seremonie of agting, kon dieselfde nie vir altyd vir sommige van die mense rondom my gesê word nie, maar dit is ’n skryfding vir ’n volgende onderwerp.
My werksloopbaan het my die regte blootstelling met sommer sakke vol gewildheid besorg en die jongman was op pad na belowende dinge. Hier-en-daar was daar ’n ou keerwalletjie in die pad na geluk, maar wat, dié is gou-gou oorgesteek en die lewe gaan voort. Êrens, hier diep in die onderkop, was daar egter nog ’n stuk gesukkel. Die geld was daar, maar net nie genoeg nie, die kar was nuut, maar nie luuks nie en die baas was goed vir my, maar sy nukke het gekrap en buitendien ..., ek wou self baas wees. Ja, dit sal die ding doen; “word jou eie baas, gaan groot of bly ...”
Deur die dale en heuwels van sukses kon ons agter ’n klomp lekker en nuwe lewenservaringe aanhardloop. Natuurlik met my gesinnetjie, wat nou-al uit vroutjie en 2 seuntjies bestaan, op sleeptou. By die siersteenhuis was daar, volgens almal siende, geen gebrek nie. Die geld was genoeg, die kospotte vol, die wynkanne gevul en die druppels heuning van die beloofde land was ’n noenmaal van wat in die nabye toekoms mag volg. Die moedertjie van ons seuns kon in die voetspore van haar voorsate volg en huis-huis speel en ek kon breë bors verkondig dat my vrou nie hoef te werk nie. Met ons het dit goed gegaan.
Ek ruk my gedagtedwaling terug tot by Amoré Bekker se resep vir die aand op RSG. Eienaardig, dink ek, hoe die refrain van lewensgebeure so wreed ’n mens se aandag ’n oomblik op ’n keer kan steel.
My gedagtes kies weer koers na die onderwerp van verandering. Ja, die suksesvolle aantreklike jongman wat nogal trots was op die feit dat die meisies gedink het, hy besit die mooiste agterstewe in die dorp; wat trots was op die feit dat die mense sonder uitsondering van hom gehou het en as onkreukbare persoon, wyd vertroue ingeboesem het. Met die verdere en dieper delwery in die gedagtes, is dit nogal verstommend hoe vinnig dit alles verander het. In terme van die geheel; amper in ’n oogwink!
Hier sit ek, ’n middeljarige werknemer, in ’n middelklas motor, op pad na ’n gemiddelde voorstadwoning. Die jare se gebrek aan onthouding en die meer sit-as-loop, het lankal die spiere ophou voed en sit nou om my middel en lag. Die yl haartjies op my bo-kop en die gryses op die slape, laat selfs die mees hoopvolle iets-in-die-dertigs se seuns en dogters vir my as “oom” aansien en –spreek. Maar … ek is gelukkig.
Aanleidend tot een oggend, moes al die padgetrapte opgestelde idees in my brein skielik omgekeer word en die breinspore met vars grond bedek word. Ek moes uit noodweer die worsteling van en met myself in ’n gekose verandering deurvoer. Iets wat uit God’s genade reeds twee jaar vantevore begin is, moes nou die deurbraak vir verandering lewer.
Jan Blohm sing “Ruby” uit die diepte van sy maag; so-by-so dat ek in my geestesoog die breinaald-dik-are op sy nek kan sien span ... en ek besef, dis die eerste keer die afgelope meer as tien kilometer wat ek die draadloos hoor. En met ’n dieplekker sug, sink ek dieper in die gemak van my enigste keuse vir ’n kar en die pad van daar na daar bring saligheid in my gemoed en ’n skaam glimlag vir myself.
Hennie Fritz


Kommentaar
Oulike stukkie!
Sou 'n foto of 2 saam dit waardeer het ...