Dambuza se manne het voor Pretorius se laer gesit, totdat die son die donker verdryf en alle dou laat verdamp het. Die kommando’s se kruit was toe droog, en dit was helder lig. Met generaal Ndlela se linkerhoring veilig aan die anderkant van die rivier, ver weg van geweervuur, het die slag begin. Dambuza se manne het onder die invloed van oorlogsmedisyne veels te na aan die laer gesit, en met die kommando’s se eerste musketskote van vyf loodballe per voorlaaierloop, het die eienaardige geveg begin.
Dingaan se generaal en hoof-indoena Ndlela was uiters ervare, want hy het ook onder Sjaka gedien. Ndlela het tevore by Vegkop aangetoon dat ’n laer slegs in die nag aangeval moet word, of eerder glad nie. By Italeni het generaal Ndlela sukses behaal deur ’n kommando by die nekvernouïng in te wag, eerder as om ’n goed geleë walaer aan te val. Desnieteenstaande het generaal Ndlela vir Dambuza op ’n reënvrye-dag ’n kommandolaer laat aanval, een oshoring alleen, en dit by die Ncomerivier nog ver voor Italeni.
By Ncome-Bloedrivier kon Dingaan se gevegswaarnemers egter glad nie generaal Ndlela se abnormale optrede rapporteer nie, want kanonkoeëls van Pretorius het die ander twee Zoeloeprinse en hooggeplaastes uitgewis. By Bloedrivier het Dingaan se generaal Ndlela dus Dambuza se regimente, Dingaan se hele regterhoring, sowel as prins Mpande se kroonkompetisie uitgewis. So het generaal Ndlela prins Mpande se pad oopgemaak om met twintigduisend soldate teen Dingaan in opstand te kom, en openlik in die Pretorius-Mpande-alliansie vir ’n vlugtende Dingaan aan te val. Die slag van Bloedrivier was die begin van ’n volskaalse burgeroorlog tussen koning Dingaan en prins Mpande, soos ondersteun deur Pretorius.
Dingaan is gedwing om te vlug deur ’n onbekende persoon wat opdrag gegee het om Umgungunglovu aan die brand te steek. Na Bloedrivier was dit vir Mpande en Pretorius maklik om met die vlugtende Dingaan af te reken en hom te onttroon. Na die daaropvolgende slag van Maqongqe het Pretorius persoonlik vir sy vriend Mpande tot koning in Pietermaritzburg gekroon.
Die Pretorius-Mpande-alliansie was baie vrugbaar. Die deur Mpande-Pretorius gevestigde koningshuis in Kwazulu-Natal, is ’n trotse steunpunt vir ons staatspresident, ook ’n tradisionele Zoeloe.
Die Mpande-Pretorius-alliansie se verrassende sukses teen ’n magtige Dingaan, het Andries Pretorius gedugte aansien by Brittanje verleen. Toe die Britte jare later verneem dat Pretorius weer ’n alliansie teen Brittanje oorweeg, hierdie keer saam met koning Mosjesj, het die daaropvolgende Sandrivierkonvensie die ontwikkeling van ’n onafhanklike Pretoria moontlik gemaak.
As adjunk-staatspresident het meneer Zuma die nuwe Ndlela-monument in Kwazulu-Natal onthul, om persoonlik hulde te bring aan generaal Ndlela, wat sy lewe opgeoffer het deur vir Mpande te veg. Generaal Ndlela wat die verskriklike opvolgstryd tussen Shaka en Dingaan oorleef het, se motief was om soos die Britte ’n stabiele koningshuis deur middel van prins Mpande en sy nasate daar te stel. Daardeur het Ndlela die Zoeloe-nasie gered, asook die trekkervolk van Pretorius.
In Andries Pretorius se religieuse denke van daardie tyd, was Ndlela as het ware God se generaal. In sy Gelofte gee Pretorius aan God alle eer vir wat generaal Ndlela ’n week later vir die Pretorius-Mpande alliansie sou doen.
Generaal Ndlela, die briljante Bloedrivier-bevelvoerder verdien ’n nasionale naam, soos Pretoria. Volgens die VF+ is dit te danke aan staatspresident Zuma dat Pretoria vandag nog na Pretorius vernoem word.
Verander Pretoria dus na Ndlela, eerder as na Tswhane?
Ran Doodt

