Ver wink die Suiderkruis se heruitgawe ’n welkome verrassing vir storieliefhebbers

  • 0

Ver wink die Suiderkruis
Irma Joubert
Kategorie: Historiese liefdesroman
Formaat: Sagteband; 129 x 198 mm
Bladsye: 312
ISBN: 9780799343472

Klik hier en koop Ver wink die Suiderkruis nou by kalahari.net

In 2007 het Irma Joubert baie lesers winduit geslaan met Tussen Stasies, die meesleurende verhaal van ’n Duitse oorlogwesie wat ná vele ontberinge Suid-Afrika toe gestuur word om hier geluk te kom vind. Met die lees van dié roman het dit gou duidelik geword dat Afrikaans ’n ryk vertellerstem bygekry het en dat Irma Joubert sal kan saampraat met die grootste skrywers wat Afrikaans al opgelewer het (dit sluit natuurlik die “hogere letterkunde” uit, daardie ontoeganklike, pretensieuse liederlikhede wat dikwels besing en bekroon, maar selde gelees word en gelukkig al hoe minder dikwels boekwinkelrakke ontsier). Saam met boeke soos Chris Karsten se Frats en Connie Luyt se Lang Skaduwees in Afrika het Tussen Stasies bewys dat die sogenaamde “middelmootroman” besig is om ’n stewige “comeback” te maak en dalk gou net so sterk sal staan soos vóór die Sestigers alles kom befoeter het. Met sulke boeke het lesers geen keuse as om te aanvaar ’n werklik goeie boek hoef nie ’n vervelige, ontoeganklike relaas te wees nie.
         
Maar voor Tussen Stasies was daar Ver wink die Suiderkruis. Dié roman het aanvanklik in 2006 verskyn en is onlangs, waarskynlik te danke aan Tussen Stasies se sukses, heruitgegee. Die twee boeke sluit bymekaar aan, deurdat Suiderkruis die verhaal vertel van Kate Woodroffe en Bernard Neethling, twee karakters wat ook in Stasies hul verskyning maak. Joubert se sterk, kenmerkende vertellerstem is in albei boeke teenwoordig, maar Suiderkruis is by uitstek ’n liefdesverhaal, terwyl Stasies op ’n breër doek geskilder en op ’n wyer mark gerig is.
         
Suiderkruis speel hom in Suid-Afrika voor die Twee Wêreldoorlog af, in ’n Johannesburg wat geteister word deur die depressie, mynstakings en die sogenaamde armblanke-vraagstuk – ’n greep uit ons geskiedenis wat feitlik vergete geraak het en wat laas, as ek dit reg het, deur Lerina Erasmus in ’n roman opgeroep is. Geskiedenis is Irma Joubert se kos: sy was jare lank ’n geskiedenis- en taalonderwyser en haar skryfwerk bied die ideale geleentheid om dié twee passies saam te snoer. Navorsing is harde werk, en om ’n vervloë tydsgreep geloofwaardig in ’n roman te herskep, is nie kinderspeletjies nie, maar dis juis dié aspek van Joubert se werk wat die meeste beïndruk.
         
Wat die storie self betref: Kate Woodroffe, die beeldskone en skrander dogter van ’n ryk mynmagnaat, doen navorsing oor die armblanke-vraagstuk vir haar tesis. Ter wille van volledigheid moet sy ook eerstehandse, praktiese kennis oor die lewenswyse van die armes opdoen en probeer vasstel hoekom dié mense nie hulself kan “ophef” nie.
         
Ten spyte van Duncan, Kate se kêrel wat ’n hoë pos in haar pa se maatskappy beklee, se beswaar oorreed Kate haar pa om haar toe te laat om Johannesburg se armmansbuurte in vaar. Maar daar is ’n voorwaarde: sy moet vergesel word van Bernard Neethling. Bernard is, soos lesers dit sal wil hê, aantreklik en gespierd. Hy is ’n mynwerker en het self ’n armblanke-agtergrond – hy is die ideale gids en sal ook as Kate se lyfwag diens doen. En John Woodroffe is nie dom nie: Bernard Neethling staan aan die voorpunt van onderhandelings om hoër salarisse vir mynwerkers te beding en hy maak die wêreld vir die Woodroffes warm. Om hom verantwoordelik te maak vir Kate se veiligheid, is ’n doeltreffende manier om hom uit die raadsaal te kry.
         
Wanneer Kate later besluit om haar veldwerk na die platteland uit te brei, word dit weer aan Bernard opgedra om haar te vergesel en op te pas. Natuurlik duur dit nie lank voor Bernard méér as ’n gids en lyfwag vir Kate word nie, maar hy is arm terwyl sy gewoond is aan rykdom en al die gerief wat daarmee gekoop kan word … Sal ’n rykmansdogter soos sy op liefde en koue water kan oorleef?
         
Daar is heelwat voorbeelde van Joubert se pragtige, idiomatiese taalgebruik, soos “Die maan is ’n vierpondkaas …” (p 242). Op p 227 is daar ’n goeie voorbeeld van die skrywer se vermoë om ’n beeld binne slegs een kort paragrafie treffend op te roep: "Kassie Pypers se oudste seun: ongekam, ongewas, ongeskeer, met ’n vrypostige houding en ’n brutale uitdrukking in die klein, swart ogies. Hy kyk Kate se klere van haar lyf af."
         
Maar dan moet daar ook gewys word op die enkele gevalle waar die skrywer se vermoë haar in die steek laat, en die gevolg is ’n paar liederlike stylfoute, soos op p 287: “sy woorde is sekure vuurpyle”, en “Haar hart breek klankloos” op die volgende bladsy (kan ’n mens noodwendig hóór wanneer iemand se hart breek?).
         
Die liefdesverhouding tussen Kate se ouers en hoe dié verhouding tot stand gekom het, is ’n storie op sy eie en voeg heelwat waarde tot die boek, ook die feit dat die problematiek wat John en Susan Woodroffe se liefde vir mekaar opgelewer het, ná baie jare steeds nie opgelos is nie.

Maar daar is ook “gate” in die roman. ’n Mate van voorspelbaarheid is kenmerkend van die genre en ek sou niemand se pret bederf deur te sê dat Duncan se hand weldra in die as geslaan word nie; maar die gesprek waarin Kate hom finaal afsê, word om een of ander rede van die leser weerhou.
         
Die aangrypende (’n mens neem aan dit was aangrypend) herontmoeting tussen ma en dogter naby die einde van die boek word weer eens eenvoudig nie aan die leser beskryf nie.

Ver wink die Suiderkruis is nogtans ’n boeiende verhaal wat verdien het om heruitgegee te word – met ’n treffende nuwe omslagontwerp deur die vernuftige Douw van Heerden. Hoewel die boek nie probeer voorgee om meer te wees as ’n lekkerlees-liefdesverhaal met ’n historiese inslag nie, sal dit geniet word deur enigiemand wat ’n stórie onweerstaanbaar vind … veral wanneer dit geskryf is deur iemand met ’n ooglopende passie vir die soetste taal.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top