Ver weeskind

  • 0

Foto: Canva

Ver weeskind

Ver in die uithoeke
van diepste gedagtes
woon ’n nimf
’n soort beskermengel
wat my psiges in rye hou
twyfel ek
vra ek haar
daar waar sy skuil
agter huil en lag
om dan sag te antwoord
met wyse gedagtes
waaraan ek vashou

dit is eintlik al wat ek het
wat my sinne aanmekaar hou
my strofes laat gly
dan, as ek nie seker is nie,
kan die leestekens bly
later miskien
tog nou is hulle lastig

ek leer met elke letter
ek groei met elke woord
pleeg soms selfmoord
met dom gedagtes
op ’n natgereënde voetpad
wat my laat gly

soms val ek
soms leer ek
vastrap in elke hoek
ek vertroetel haar gedagte
met my ongetemde geheue
wat ek wegsteek
tog as die glas breek
weet ek hoekom
ook hoekom sy daar was
want eenkeer was daar ’n daisy
op my godeberg
toe ek baie alleen was
hier tussen woorde
tussen wrede mense
toe sy vir my lig gegee het.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top