Venter die taalsmid

  • 1

Ek’s terug van siekteverlof. Dis al wat julle hoef te weet. Lekker baie tyd gehad vir dink. En wat ek dink, is dat dit geweldig vervelend is om net oor resensies te skryf. Crito se visie is soveel groter, al druis dit heeltemal teen my nederige aard in om so iets te erken. Mits dese, soos die digter gesê het, wil ek sê dat ek nog ekke is, maar dat ek van nou af ’n ander outfit of twee gaan dra.

*

Vir die soveelste keer het Annelise Erasmus ’n resensie geskryf wat soveel dinge aanroer wat in my gedagtes bly weerklink dat ek lus gevoel het om uit my bed op te staan en “Bravo!” te gil. Ek praat van haar bespreking in Rapport van Wiaan Janse van Rensburg se Die kerkseun.

Bravo 1: Dit is “die soveelste boek waar die sensasionele lokteks of flapteks vals inligting gee of nie die kern van die boek uitlig nie”. Ek het opgehou om die goed te lees. Te veel aaklige ondervindings. Voorstel: Kan die skrywers van die flaptekste hulle name daarby plaas? Hoekom nie?

Bravo 2: “Nóg erger, hy word ook geboelie deur die gemeenskap van die gelowiges.” Nie ’n aangename gedagte om te verwerk nie, maar Erasmus raak hier iets aan wat na die wese van baie mense se geloofsbekerings sny. Dis makliker om te sê jy glo, dan hou die geboelie op alle fronte op. Good luck vir enigeen wat dít in ’n flapteks probeer sê! Hiermee hang saam haar verdere opmerking: “Dit is werklikhede in ons samelewing – om geloof te gebruik as ’n vuis waarmee geboelie word en om só die boelie te regverdig.”

Bravissimo: “Die kritiek tot hier moet geensins die indruk skep dat dit ’n swak boek is nie, maar dit kon beter wees.” Dis só ’n laid-back sinnetjie. Miskien het Erasmus net baie goeie maniere. Die gedagte wat dadelik by my opgekom het toe ek dit lees, word in die daaropvolgende paragraaf deur Erasmus verhelder: “Terwyl die skrywer (of sy versorgers) dalk kan slyp aan party tegniese dele van sy skryfwerk …” Is dit nie ’n uitgewer se taak om te sorg dat ’n manuskrip behoorlik geredigeer moet word nie? Mens doen ’n jong skrywer soos Wiaan Janse van Rensburg, wat Die kerkseun in matriek geskryf het, absoluut geen guns deur hom nie te help en te lei om die beste moontlike weergawe van sy roman te publiseer nie.

*

Dit begin na ’n uitgemaakte saak lyk dat Eben Venter se Decima die Afrikaanse roman van die jaar gaan wees. Dit het selfs vir Andries Visagie uit sy resensiehibernasie laat kom, wat my net weer herinner het aan hoe baie ek sy resensies in die verlede waardeer het. Hopelik kry hy ’n kans om iewers die stilistiese veranderinge in Venter se romans te bespreek – dis wat Venter met taal doen wat vir my hier heerlik was, hoekom dit so “anders” lees as die Venter-romans waarna Visagie in sy resensie in Rapport verwys het. Venter die taalsmid. Perspektief, distansie en verbeelding. Die laaste woord is nog nie gespreek nie.

My laaste woorde aan Daily Maverick, wat my toegooi met e-posse om my aan te moedig om ‘n intekenaar te word: Gee aandag aan die Engelse uitgawe van Decima. Dis ’n skande dat die enigste leesbare Engelse koerant in Suid-Afrika nie genoeg aandag aan (alle) boeke gee nie. Julle raak agter by Vrye Weekblad.

*

Mens moet oppas vir woorde. Dié wat aanvanklik lekker knal, dra weens herhaalde gebruik later net soveel impak as ’n fluitwindjie.

Dink byvoorbeeld aan die woord geweldig. “Sy steun ook geweldig op waremisdaadboeke,” skryf Klerksdorp se Stefaans Coetzee in ’n resensie in Boeke24. In ’n ander plasing in Netwerk24 vertel Johann Rossouw van Bfx dat Karel Schoeman ’n “geweldige” indruk op sy menswees gemaak het.

Crito het vanjaar die woord al vier keer gebruik in hierdie blog, teenoor 30 keer in 2022 en 27 keer in 2021. Mammamoerhandjies!

Die teensy hiervan is daardie resensies wat só gelaai is met beleënheid dat ’n mens soms jou oë tot orde moet roep sodat jy ’n sin weer kan lees. Vroeg in Jonathan Amid se behandeling van Zeus van Wyngaardt en die Amasone van Atlantis, Julio Agrella se jongste ZvW-roman (Boeke24), skryf hy: “Die eerste boek in enige misdaadreeks wat sy sout werd is, moet die begin van ’n lang liefdesverhaal met die hoofkarakter en ruimtes wees.” Huh? By herlees en nogmaals herlees snap ek hy wou gesê het: “Die eerste boek in enige misdaadreeks wat sy sout werd is, moet vir die leser die begin van ’n lang liefdesverhaal met die hoofkarakter en ruimtes wees.”

Maar steeds is daar ’n kortsluiting. Ek weet wat hy wil sê, maar dis nie dáár nie.

Kan dit dalk wees “Die eerste boek in enige misdaadreeks wat sy sout werd is, moet vir die leser die begin van ’n lang liefdesverhouding met die hoofkarakter en ruimtes wees”?

Nog steeds ’n bietjie lomp, maar semanties maak dit meer sin.

Die resensie waaruit hierdie aanhaling gelig is, is die moeite werd om te lees. Soms herinner dit aan ’n commendatio vir ’n literêre prys. Wat moontlik verklaar hoekom Amid nie ’n beknopte opsomming van die verhaal gee nie, maar dit besonder subtiel in sy argumentasie verwerk.

Die afwesigheid van daardie opsomming is vir my ’n teken dat Amid nou sy resensies tot ’n hoër vlak geneem het. Mens raak so moeg vir Afrikaanse resensies wat bloot die boek se storie oorvertel.

*

Goue sterretjie op die voorkop aan Jaco Jacobs. Die internasionale regte van sy Die meisie met vlerke is pas aan Oneworld Publications verkoop. As hy nie die mees suksesvolle Afrikaanse skrywer van hierdie era is nie, wil ek graag weet wie is. Uit sy pen het reeds 260 boeke vir kinders verskyn. Meer as ’n miljoen eksemplare is al van sy boeke verkoop.

Dis jammer dat daai literêre kommissie van die SA Akademies vir Wetenskap en Kuns nie die Hertzogprys aan skrywers van kinderboeke toeken nie. Komaan! Vir sy oeuvre? Absoluut. Ja, ek weet daar is ’n Tienie Holloway-prys (-medalje? -oorkonde? lek op die voorkop?), maar ek skat Jacobs het meer mense laat Afrikaans lees as die meeste van die onlangse wenners van die prys vir goue oues. Hy verdien groter eer.

*

Melvyn Minnaar is ’n vryskutjoernalis van Kaapstad. Hy het op Boeke24 se blad ’n baie welkome artikel geskryf oor André Brink se Kennis van die aand. Op ’n plek praat hy van regters Van Wyk, Steyn en Diemont, wat volgens hom “dienswillige beamptes van die regime” was. Ek neem aan hy verwys na die ou apartheidsregime, nie die teenswoordige ene nie.

Daardie verwysing laat my, in alle erns, wonder of daar nie ruimte is vir ’n boek getiteld Dienswillige die uwe – die Suid-Afrikaanse regbank 1948–1994 nie. Daar is soveel kleurryke figure, soos die “hanging judge” van Windhoek, of die regter wat 11 jaar lank aan ’n verslag gearbei het, en so vele meer.

Herman Lategan skryf heel innig oor sy oom die regter in Hoerkind. Miskien is Dienswillige die uwe – die Suid-Afrikaanse regbank 1948–1994 die groot boek waarvoor hy bestem is.

*

Terug by Andries Visagie, wat in Rapport-Boeke die tweede digbundel deur Pieter Odendaal, Ontaard, vir ons ontsluit. Ek is veral bly dat hy heelwat daaruit aanhaal – dit oortuig mens van die grein van Odendaal se digterskap.

Dis beduidend dat Afrikaanse digters van uiteenlopende oriënteringshoeke so sterk in die rigting van ekopoësie beweeg. Hopelik is die bundels slegs elektronies beskikbaar.

*

Ander goeie nuus is dat Ronelda Kamfer se digbundel Chinatown in Frans vertaal is danksy die ondersteuning van PEN Afrikaans se vertaalfonds. Pierre-Marie Finkelstein is die vertaler.

Kamfer het ’n skerp siening oor die kritiese benadering tot haar werk: “Dis iets wat gereeld gebeur met my werk in Afrikaans – dit word deur ’n defensive lens benader en nie deur die poëtiese een nie, asof daar nie poetry in die ordinary is nie. Maar ek skryf boeke wat ek wil hê lesers moet enjoy en hopefully iets van hulleself daarin sien, dit is al.”

Sou alle digters dieselfde strewe hê? Miskien nie. Waaroor ek wel wonder, is hoe dit deesdae met die verkope van Afrikaanse digbundels gaan. Is daar enigiemand wat statistieke het? Deel is slaggie, toe!

  • 1

Kommentaar

  • Deborah Steinmair

    Crito, u moet ook oppas vir woorde. ‘n Gerekende literator het my laat weet Crito skryf ons by Vrye Weekblad raak agter. Toe ek dit lees, besef ek dis eerder ‘n backhanded compliment: Crito spreek Daily Maverick aan. Sou dit nie beter gewees het om te sê: Julle steek af teen VWB nie? Of lees ek dit verkeerd?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top