Buitekant die vensters tussen hulle en ons,
daar waar kar-uitlate en toeters gons,
dwaal die asemlose spoke.
Hulle stemme soos plakkate verweer
deur die kil gesigte in die verkeer.
Hulle gesigte oud gebrand,
onterf van hierdie land.
Gee hulle vandag hul daaglikse brood,
enige krummels in die nood.
Êrens het hulle bestemmings ontspoor,
daar waar die maan sy lig verloor.
Van menslikheid gestroop,
in vernedering gedoop.
En anderkant die duur vensters is ons gesigte
afwaarts gekeer in skuld-ongeduld,
maar sien tóg die lyf geboë
en die skaam, pleitende oë.
Kaalvoet loop ’n seuntjie die
vuurdoop van skroeiende teer.
Die man, nou oud en blind,
bly aan sy gloriedae verbind,
want onder sy belt
dra hy die bloed van ’n oorlogsheld.
En dag na dag loer hulle binne die vensters,
want soms is daar ’n genade wat kom
onder ’n soel, ongenaakbare son.
Ander kere is die vensters se skyn
’n fop-oase in ’n betonwoestyn
en wanneer die lig dan weer groen word,
weerkaats dit net ’n blink-leë bord.