Vasgekeer

  • 0

Simoné du Plessis is 'n graad 5-leerder en die skrywer van hierdie kortverhaal.


“Riana, Riana, word wakker.“ Liza skud aan Riana. Sy is ’n fyn vyfjarige dogtertjie met goue lokke wat rustig op haar skouers rus.

“Uhuh, ek wil nog slaap!” Riana draai om en slaap verder.

“Ag Riana, slaap maar, dan gaan jy nie kamp nie.” Riana se groot blou oë sukkel oop; sy strek haar lang bene onder die swaar wolkombers uit.

“O ja, ons gaan vandag kamp,” sê sy nog half aan die slaap. Sy gee ’n lang gaap en sak dan terug teen haar kussings.

“Is als gepak en almal reg?” vra Riana se ma.

“Ja Ma!” sê Dewald vies en druk sy oorfone terug in sy ore. Kamp in die skoolvakansie is allesbehalwe wat hy wil doen.

“Reg, als is in. Ons kan maar gaan,” bevestig Riana se pa. Hy is ’n groot man met ’n stoppelbaard wat plek-plek grys word. Riana gee haar hondjie ’n soen op die voorkop, gee hom ’n stywe drukkie en sit hom terug op sy kussing.

Hulle is op pad.

Dewald haal sy oorfone uit, leun vorentoe en vra: “Ma, hoe lank nog?”

“Seker nog so ’n halfuur se ry, seun.” Riana se ma kyk om na haar seun wat so baie na sy pa lyk.

“’n Halfjaar se ry?” vra Liza geskok.

Riana lag vir haar kleinsus. “’n Halfúúr se ry, pampoen.”

“O, sjoe! Gelukkig nie ’n halfjaar nie. Ek kan nie meer wag nie,” sê die klein dogtertjie langs Riana. Sy wip op en af op haar sitplek.

***

“Dewald, haal jou oorfone uit en help afpak,” sê Riana se pa en gee ’n streng kyk in sy seun se rigting.

“Ja Pa.” Dewald haal sy oorfone uit en druk dit in sy sak.

“As ons klaar is hier, moet ons die meisies se tent opslaan,” las Dewald se pa by.

***

“Mamma, alles is afgepak. Kan ek en Liza gaan stap?”

“Nie sonder Dewald nie, Riana, jy kan die reël.” Riana se ma is vasberade.

“Ek gaan nie saamstap nie; Riana is al groot, sy kan self gaan stap!”

“Dewald, jy gaan saamstap!” Riana se ma is nie lus vir onderhandel nie. Dewald draai dikbek om en gaan sit sy foon in die tent.

***

 “Waar is ons?”

“Kyk daai boom.”

“Hoe laat is dit?” wil Liza weet.

“Liza, bly so ’n bietjie stil. Ons wil in stilte stap, asseblief.” Riana is sommer geïrriteerd.

“Reg so.” Liza maak asof sy haar mond sluit en gee die sleutel vir Riana.

“Dankie.” sê Riana sarkasties en gooi die onsigbare sleutel weg.

***

“Dit begin toetrek, hier kom ’n storm,” sê Dewald effe bekommerd.

“Ons sal moet omdraai en terug kamp toe gaan,” stel Riana voor en kyk met groot oë na Dewald.

“Ons kan nie nou nie, die kamp is te ver.” Dewald dink vir ’n oomblik. “Ons sal ’n skuilplek moet soek tot die storm verby is.” Hy wys dit nie, maar hy is regtig bekommerd.

Met soekende oë kyk die kinders vir ’n skuilplek.

“Kyk, daar’s ’n grot,” wys Liza met haar vingertjie in die rigting van die krans waar die groot grot agter bosse skuil. Die kinders beweeg vinnig na die grot toe, net betyds om weg te kom van die reën. Hulle het nie geweet daar is los klippe al om die grot nie.

“Moet ons net hier wag tot die storm verby is?” vra Liza met ’n bewerige stemmetjie. Sy gaan sit op die grond en trek haar knieë tot teen haar bors.

Dewald gaan staan teen die grotmuur en probeer gerusstellend sê: “Ja, dan kan ons terug kamp toe gaan.” Die drie sit teen die grot se muur; hulle kyk na die blitse en luister hoe die donderweer slaan.

“Julle, ek dink nie ons gaan vanaand by die huis kom nie,” sê Liza bang. Dan, skielik, begin die klippe kraak onder die swaar reën en verwoestende winde. Al drie die kinders se koppe draai gelyk. “Die klippe val!” skree Liza deur die geraas.

“Die grot se ingang begin toeval,” sê Riana. Sy is doodsbleek en lyk benoud.

“Ons moet hier uitkom voor hy toe is,” roep Dewald uit. Hy gryp sy klein sussie se hand en hardloop na die bek van die grot. Riana is kort op sy hakke.

***

“Ek wonder waar die kinders so lank bly,” wonder Riana se ma hardop terwyl sy die wolke dophou. “Dit raak al laat en die reën al swaarder.”

“Ek is nie seker nie, hulle sal sekerlik enige oomblik hier wees,” antwoord meneer Botha.

“Ja, jy’s reg. Kom ons wag nog so ’n bietjie. Dewald is darem saam,” troos sy haarself. Sy is skaars klaar gepraat toe ’n koue rilling by haar rug afgly. “Here, hou asseblief my kinders veilig,” bid sy sag.

Die grot is donker en koud. Hulle was te laat om uit te kom. “Ek kan nie glo die grot is toe nie,” sê Riana. Sy kyk af na Liza, wat op haar skoot aan die slaap geraak het. Sy is so oulik as sy slaap, sy lyk nes ’n engeltjie uit die hemel.

“Wag jy hier, ek gaan kyk of daar nie ’n uitgang is nie,” sê Dewald en begin die grot dieper binnestap.

Dit is al donker buite en die reën hou nie op nie. Riana laat haar kop teen die muur rus; haar oë begin nou die donkerte gewoond raak. Sy maak haar oë toe. Oomblikke later hoor sy ’n geritsel naby haar. Sy maak haar oë vinnig oop en kyk vreesbevange af. Tussen die groot klippe beweeg iets. Dit is ’n slang! Dit voel asof Riana se hart vir ’n oomblik gaan staan. Sy probeer stadig en ongemerk opskuif, maar met Liza op haar skoot gaan dit moeilik. Die slang seil stadig nader. Sy voel hoe die koue sweet teen haar rug afrol. Sy maak haar rug hol en gil: “Dewald, kom help!” Die slang stop. Riana probeer vir Liza wakkermaak en haar oë gaan stadig oop. Die eerste ding wat sy sien is die slang – hy staar haar in die oë, sy tong flits in en uit, in en uit. Sy druk op die grond om op te staan en hou die slang versigtig dop. Skielik kom die slang reguit, met sy kop bak, reg om aan te val. Riana besef hulle is in gevaar en die slang voel bedreig. Binne ’n oogwink kom die slang nader en pik vir Liza op die been, en haar skerp gil weergalm deur die grot. Sy sak weer neer.

“Liza, is jy reg?” Riana kyk bekommerd af na die bleek gesiggie en stadig dring dit tot haar deur wat so pas gebeur het.

“Here, help ons asseblief, Here!” smeek Riana hardop. Liza draai haar kop stadig na Riana.

“Die slang het my gepik!” sê sy met ’n bewerige stemmetjie. Dit is asof haar woorde dit bevestig. Voordat Riana iets kan sê, kom Dewald aangestorm.

“Ek het julle hoor skree, wat het gebeur?” Dewald sien sy klein sussie se bleek gesiggie en weet dan dat iets verkeerd is. “Wat het gebeur?” vra Dewald weer terwyl hy op sy knieë neersak.

“’n S-slang het v-vir Liza g-gepik,” kom dit sukkel-sukkel uit Riana se mond. Liza knik haar kop benoud en kyk na haar been. Die bewyse is duidelik – daar sit twee gaaitjies op haar kuit.

“Jy moet net doodstil sit sodat die gif nie versprei nie,” beveel Dewald.

“Dewald, waar is jou foon? Ons moet vir Mamma bel sodat Liza hospitaal toe gevat kan word,” sê Riana.

Dewald soek rond in sy sakke, maar kry nie sy foon nie. Dan onthou hy hy het dit in die tent gaan sit net voor hulle weg is.

“Die een keer wat ek nie my foon by my het nie,” sug Dewald en gaan sit langs sy klein sussie. Hy hou haar hand styf in syne vas.

“Kom ons bid,” sê Riana vol vertroue, wetend dat God hulle sal help.

“Ja, ek dink ook so,” sê Liza, steeds met ’n bewerige stemmetjie.

Riana vat ook Liza se hand vas en vra: “Dewald sal jy vir ons bid?”

Dewald weet dat sy sussies op hom staatmaak. Die kinders sluit hulle oë en met bewerige hande begin hy bid: “Liewe Vader, ons is vandag hier voor U om hulp te vra. U weet ’n slang het vir Liza gepik en dat ons vasgekeer is in die grot. Asseblief help ons, Here. U is ons Vader en ons weet dat U vir ons sal sorg. Stuur asseblief iemand om te kom help. Ek vra dit in Jesus Naam, Amen.”

“Dankie Dewald.” Liza se stemmetjie is flou. Sy is bleek en klam. Riana voel hulpeloos.

“Hulp sal nou kom, sus, ons moet vasstaan in geloof,” sê Riana bemoedigend.

***

“Hendrik, ek is bekommerd oor die kinders, hulle is nou al lank weg en ek dink ons moet die kampeienaar gaan vra om iemand te stuur om die kinders te gaan soek.” Riana se ma trek haar gesig op ’n plooi en die kommer wys duidelik.

“Ja, ons sal moet gaan hoor.” Riana se pa trek sy reënjas aan en maak die tent oop.

Riana se ma en pa stop by die ontvangskantoor. Daar is ’n noodnommer op die deur. Riana se pa soek dringend na sy foon. Die parkeienaar verduidelik aan hulle waar sy huis is.

“Goeienaand, waarmee kan ek help?” vra die jong dame wat die deur oopmaak.

“Goeienaand, ek wil asseblief met die eienaar praat.”

“Ek sal hom gou gaan kry, wag net ’n oomblik.”

Riana se ouers is ongeduldig en trippel rond by die oop deur.

“Toemaar vrou, ek glo die Here is met die kinders,” probeer meneer Botha gerusstellend sê.

“Is daar ’n probleem dat julle my soek?” vra die groot, sterkgeboude man wat nader stap.

“Uhm, ja, ons kinders het gaan stap, toe breek die storm los en ons weet nie waar hulle is nie.” Riana se ma kyk op, die vrees duidelik in haar oë.

“O, goeiste! Dit is ’n probleem! Ek sal dadelik mense uitstuur om hulle te gaan soek. Intussen kan julle inkom – kom drink gerus iets warms.”

***

“Wanneer gaan ons hier uitkom?” vra Riana rusteloos. Liza is swakker en haar oë is flou.

“Bly net glo, sus, die Here sal iemand stuur om ons te kom soek.” Dewald laat sy kop teen die klip rus. Hy weet hulp sal kom.

Oomblikke na sy woorde hoor hulle stemme aan die anderkant van die klippe. Daar verskyn ’n glimlag op Riana en Dewald se gesigte.

“Iemand is hier, Liza, die Here het iemand gestuur!” roep Riana. Riana hardloop opgewonde nader. Sy sien ’n liggie wat deur ’n gaatjie tussen die klippe inskyn.

“Ek sien iets!” ’n Mens kan die opwinding in haar stem hoor.

Die kinders bly doodstil en hoor hoe die mense die klippe begin afpak en wegskuif voor die grot. Riana bid saggies by haarself: “Dankie Liewe Here, ek het geweet U sal ons help.”

Die tonnel waardeur die kinders moet kruip, is nou. Hulle stoot eerste vir Liza deur, daarna volg Riana en laaste Dewald.

“Is julle beseer?” vra die reddingswerker besorgd.

“Net Liza,” sê Dewald, “’n slang het haar gepik.”

“Kom saam met ons, ons sal haar help en julle na julle ouers neem,” sê die lang maer man met die snor.

Riana hou die sambreel oor haar en Dewald. Dewald dra vir Liza in sy arms en kyk besorgd oor haar neer. Hulle beweeg vinnig deur die reën.

“Hoe het julle ons gekry?” vra Dewald in die motor.

“Daar het ’n helder lig op die grot geskyn,” sê die reddingswerker. “Seker die volmaan.”

By die huis aangekom, sê die lang maer man met ’n rustige stem: “Ons gaan gou julle ouers kry. Liza is versorg en die teenmiddel sal nou begin werk,” vertel hy vol vertroue.

Riana knik haar kop en sê: “Dankie Oom.”

“Riana! Dewald! Ek is bly julle is veilig!” roep Riana se ma toe hulle die vertrek binnekom.

Riana spring op. “Mamma, Pappa,” sê sy en omhels hulle. “Ek is bly om Mamma-hulle te sien,” kom dit verlig uit.

“Ons julle ook!” Hulle druk vir Riana styf vas.

“Waar is Liza?”

“Daar by Dewald.” Riana wys na die klein lam lyfie op die bank.

“Meneer Botha, Liza het reeds die teenmiddel ontvang en het begin reageer daarop. Sy sal binnekort weer haarself wees.”

Liza se ogies gaan vir die eerste keer in ’n lang ruk oop, en daar verskyn ’n flou glimlaggie.

“Mamma, Pappa,” fluister sy.

“Liza, hoe voel jy?” vra haar ma. Haar oë blink, sy is vol hoop.

“Uhm, ek voel baie beter dankie.” Sy druk saggies aan Riana se hand en kyk na Dewald met liefde in haar oë en sê: “Dankie Boeta.”

Meneer Botha streel sy groot hand oor sy seun se kop, druk saggies aan sy nek en sê: “Ons is trots op jou, ou bul!”

“Ek is so bly om jou weer vrolik te sien, kleinsus,” volg Riana en glimlag breed vir haar sussie.

“Kom,” sê meneer Botha en hou sy hande uit. Die gesin weet wat dit beteken. Hulle vat hande en sluit hulle oë. “Hemelse Vader,” begin Riana se pa met sy growwe stem bid. “Ons kom in ewige dankbaarheid voor U. Ons dank U dat U ons kinders gespaar en bewaar het in die storm. Ook, dankie Vader dat U Liza se gesondheid weer herstel het. Dankie dat ons weer as gesin saam kan wees. Ons loof U Heilige Naam. In Jesus Naam, Amen.”

Simoné du Plessis
Graad 5
2014

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top