Varkspek; ons simpatie en medelye ...

  • 0

Beste Varkspek

Ek deel jou hartseer.

Jy tik:

Ek voel amper ons moet ’n nasionale gedenkdag hou vir hierdie arme bloedjies wat so wreed dood is. Wat kan mens doen om sulke voorvalle te keer? Om te gee aan welsynsorganisasies is omtrent al wat ek aan kan dink, en om dan te bid dit kom by die regte plekke uit: Díe wat dit nodig het.

Varkspek, menige dag deel ek jou magteloosheid. Telkens as ek daaraan dink, dan spoel daar so 'n seesiek gevoel deur my kop.

As kind het ek saam met my boetie en nefies in die veld aan die hange van Magaliesberge gespeel. Ek het sulke maatjies soos die Mmupele-kindertjies; twee-, ses-, sewe- en nege jaar oud geken. Ons het gereeld en maklik lang afstande weg van die huis saam tussen plotte en plase deur gespeel. Oral was vrugte boorde en groente tuine wat die seisoene oordra het. Perskes in die somer en nartjies in die winter. Dan was daar soet wortels en tamaties oog nog oral te pluk. En al die fonteine en watervalletjies borrelend met heerlike koue water ...

Ek raak totaal verbysterd as ek dink hoe Verdwaal se klein liggaampies op hul waagtog van soveel kilometer in die bloedige Noord-Wes hitte kos gaan soek het, en nooit weer iets te ete gekry nie.

Drie seuntjies en ’n dogtertjie; twee-, ses-, sewe- en nege jaar oud ...

Het enige hart hier 'n idee hoe klein en weerloos hierdie spannetjie was (nog uitgeteer daarby)?

En toe hul lewelose liggaampies in die veld gevind is, was daar geen twyfel dat hulle aan honger en dors alleen in die veld en hittige 32ºC daardie dag ontkom het nie.

Varkspek, daar is ‘n verskil tussen simpatie en medelye.

Simpatie is bloot ‘n onbetrokke handeling om jou eie pyn te verlig.

Medelye is ‘n aktiewe en empatiese handeling. Medelye impliseer dat as jy ‘n boemelaar sien; vas ‘n paar dae, trek jou oudste, vuilste, en stukkende klere aan (skeur en mors as jy nie het nie), gaan slaap ‘n nag in ‘n koue stormwaterpyp, en dink dan hoe kan jy die boemelaar help.

Dis (mede)lye – (saam)ly ...

Simpatie is om te "ag siestog", ‘n munt te laat val, en ‘n kilometer of wat aan die arme skepsel langs die pad te dink (... en selfs so ‘n soetsappige storietjie of wat vir die werf daarvan te tik ...)

Ek is ewe skuldig Varkspek.

My gedagtes maal aan 'n oplossing ... daar's niks ... dis leeg ...

Maar een ding raak vir my duidelik; ek is ewe gatvol vir enige vorm van rassisme hier aan Mzansi. Daar is hardvogtiges wat allerlei rasoordele aan die ramp probeer koppel; wat hulself aanhef in hul materiële voorspoed.

Ek het intussen in so 'n mate bygekom dat selfs waar 'n roekelose taxibestuurder my pad kruis, ek liefs aan die moontlikheid van 'n gesin wat vir hom by die huis wag dink en dan in my woede wegkyk van sy sonde sodra ek weer veilig is (ek is in ieder geval 'n veel meer ervare en beter bestuurder as menig taxibestuurder – nie dat daar dalk 'n stukkie teer vir my ook wag nie ...)

Dankie vir jou deelsaamheid Varkspek.

Namaste!

Hindoe-, Moslem-, Joodse, katolieke en Boeddhistiese groete,

Cornelius Henn

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top