VANDEESWEEK se oes

  • 2

Blou bloed deur Daniël Lötter

Resensent: Carla van der Spuy (LitNet)

Carla van der Spuy benut die voordele wat LitNet vir die resensent inhou en skryf ’n soort resensie-artikel wat wyd loop. Van der Spuy se dikwels informele styl (sy noem bv dat Jan Smuts “lekker hand om die blaas met ’n hele paar gekroondes” was) word gelukkig nie oordoen nie. Sulke informaliteit, en die verklap van dinge wat mens seker as die boek se “skatte” kan beskou, laat wel die vermoede ontstaan dat die doel van die resensie-artikel nie soseer is om potensiële kopers vir die boek aan te spoor om dit te koop nie, maar om die webleser genoeg materiaal te gee om te kan saampraat oor die boek. Hoe voel Carla van der Spuy oor die adel en hoekom? Het Daniël Lötter se boek haar tot ander insigte gebring? Haar artikel lees lekker, maar ’n goeie resensie is dit beslis nie. 3/10 

Al wat tel deur Irma Venter

Resensent: Willemien Aukema (Boeke24)

So ’n belowende inleiding, en daarna laat Willemien Aukema elke woord tel om ons te oortuig dat sy die boek gelees het en die verhaal onder die knie het. Die paar keer wat ek Aukema se resensies gelees het, het sy beïndruk met haar formulerings. Ek vermoed sy het ’n groter visie, en dit is jammer dat sy nie ’n slag anders begin dink oor die wyse waarop sy resenseer nie. Hierdie keer maak sy haar belangrikste opmerking in die laaste sin: “Vir ons almal se onthalwe moet hierdie soort fiksie oor ons land se politieke en geregtelike stelsels nie bloot fiksie bly nie.” Dit impliseer dat sy daarvan bewus is dat die soort gebeure wat in die boek beskryf word, ’n geïdealiseerde politieke en regstelsel omvat. Dat dinge nie is soos Irma Venter dit beskryf nie en dat dit goed sal wees as daar mense soos Ami Prinsloo is wat die dinge doen wat sy doen. Is daar, byvoorbeeld, nog joernaliste soos Prinsloo wat by die Afrikaanse media doenig is, ’n storie kan uitsnuffel en uit die kantoor kom om dit oop te vlek? Aukema kon ’n baie interessanter resensie geskryf het en Irma Venter as skrywer op heeltemal ’n ander vlak beoordeel het as iemand wat misdaadfiksie vir die leser se ontvlugtingsbehoeftes aanbied. Daar is ’n visionêre element, asook ’n sosiale gewete in die skryfwerk van Deon Meyer, Irma Venter, Sidney Gilroy, Marie Lotz en so meer. ’n Resensent sal veel meer respek aan ’n skrywer betoon deur sulke dinge raak te sien en te beskryf – veel meer as wat getoon word deur ’n premis van die verhaal en ’n trillende gejuig oor die heldin. 4/10

Die beweging van bloed deur Pieter Stoffberg

Resensent: Emile Joubert (Rapport Boeke)

Joubert is een van die ouer geslag koerantresensente wat al hoe minder aktief is op die resensieblaaie. Wat jammer is. Hy het ’n eie stem, soms effe té Jaco Kirsten-rig, maar hy skryf op ’n manier wat jou betrek en behou. Al het hy hom in hierdie geval ook gewend tot die verfoeilike nuk van die verhaal opsom. ’n Paar dekades gelede het Joubert sy koerantlesers op die spoor geplaas van skrywers soos Carl Hiaasen, Thomas McGuane en Elmore Leonard, en dit sou wonderlik gewees het as hy sy belesenheid ook hier kon inspan om iets anders te doen as om die verhaal van die roman op te som. Ek is seker Pieter Stoffberg sou ook wou weet hoe sy werk, spesifiek die aansny van die pornografiese spektrum, vergelyk met dié van Tom Perrotta en Dave Connis. 4/10

Christina Landman: ’n lewe deur Christina Landman

Resensent: Barend van der Merwe (LitNet)

In die ou dae het ons altyd gespot dat dit joernaliste se taak is om hul lesers te vertel dat “John Smith who used to be alive is now dead”. Christina Landman se outobiografie gee miskien die teken dat sy nou minder aktief is. Gelukkig laat Barend van der Merwe reg geskied aan haar voortdurende invloed; sy is een van die min Suid-Afrikaners wat ek graag as rolmodel beskou. Van der Merwe probeer nie om volledig verslag van die boek se inhoud te gee nie, en die los drade wat hy noem, sou ’n aanknopingspunt wees vir meer uitvoerige reaksie deur Landman. Dalk in die webruimte van LitNet? Hopelik! Wat ek ook wil aanteken, is dat gegee LitNet se resensie-opset, waar iemand soos Barend van der Merwe hierdie resensie uit eie beweging geskryf en voorgelê het, dit betekenisvol is dat daar geen soortgelyke vroulike reaksie vanuit kerkgeledere was nie. 6/10 

Sing, Mamma, sing deur Theresa Papenfus

Resensent: Trisa Hugo (Rapport Boeke)

Laat ek net belange verklaar: Ek ken die Papenfus-gesin, en Theresa se boek het my diep aangeraak. Ek kan verstaan hoekom Trisa Hugo dit ook aanbied as eerbetoon aan die Papenfus-gesin. Dié tweeledige aard van haar resensie maak die oormatige onthulling van die boek se inhoud verskoonbaar. Hugo bied haar reaksie sonder verhulling aan, en die emosie daarin is so fyn gespan dat dit die enigste deel van die Sondagkoerant was waaroor ek nie my oë laat gly het nie. Mens lees soms net opskrifte. Maar “Emosies soos mooi legkaart in dié boek uiteengesit” het ek gelees en herlees. As enigiemand al ooit gewonder het oor die waarde van emotiewe skryfwerk as kern van resensies, sal hulle hierna nie twyfel daaroor nie. Dan is mens nie vitterig oor dinge soos taal- en stylfoute nie – en daarvan is daar heelwat in hierdie resensie. Was Hugo se eerste sin by enige subredakteur se oë verby? 6/10

Kuborg deur Martina Klopper

Resensent: Louise Viljoen (Rapport Boeke)

Ek gebruik mymind, ’n app waarmee ek skakels plak na dinge wat ek later wil lees. Louise Viljoen se resensie wag vir my wanneer ek eendag Kuborg koop en lees. Vir die doeleindes van hierdie blog het ek die resensie wel nou gelees, en Viljoen se deeglikheid beïndruk my opnuut. Opvallende gebrek: Té min aanhalings uit die gedigte self. Nietemin, wanneer ek die bundel voor my oop het, sal hierdie resensie my begeleier wees. Die probleem met akademies-georiënteerde resensies soos hierdie een is vir my wesentlik: Hoeveel mense gaan dieselfde moeite as ek op ’n Sondag doen om die hele resensie te lees? Omdat ek so ’n hoë dunk van Viljoen het, weet ek dat sy indringend oor enige van die vele aspekte wat sy identifiseer, sal kan skryf. As ’n mens dan ’n akademiese inslag verkies, sou ek gedink het sy kon die bundel as kapstok gebruik het om oor kunsmatige intelligensie en die digkuns te skryf, of die emosionele kompleksiteit wat dié poësie onderlê, of sy kon effens wyer gekyk het en die bundel gebruik het om te skryf oor die toekoms van digkuns binne ’n omgewing waar die rekenaar maklike oplossings aangee. 6/10

Nuwe begin deur Karel Schoeman

Resensent: Gert van der Westhuizen (Boeke24)

Tussen alles wat Van der Westhuizen vra oor die erkenning van Schoeman as geskiedskrywer, is dit moontlik juis Van der Westhuizen se uiteensetting daarvan wat veel meer vir die koerantleser onthul as sy gloeiende bespreking van Nuwe begin. Geskiedenis vir die “gewone leser”. Wat sou die jong Schoeman daarvan dink? Lesers van Schoeman se Imperiale somer-reeks weet teen hierdie tyd ook dat dit Schoeman in die skemertyd van sy lewe en skrywerskap is. Van der Westhuizen se kritieklose ophemeling maak my net ongemaklik. Die saak word vererger deur stilistiese slordigheid in die resensie. Kyk maar bv na die herhaling van “verstom” en “genoeg erkenning”, en die resensent se voorkeur vir oordrewe trant deurentyd. Om in alle erns te praat van “Schoeman se ongelooflike beskrywings” sonder om ’n enkele een daarvan aan te haal, is doodgewoon die teken van ’n lui resensent. 2/10

  • 2

Kommentaar

  • Dis alles goed en gaaf, Crito, maar ons wag nog in spanning vir jou beloofde gids tot resensering. Resensente het gewoonlik drie weke om 'n boek te lees en die resensie te skryf. Ons wag nou al langer as dit vir jou meesterstuk. Dalk kan jy jou riglyne sommer ook prakties illustreer deur self 'n resensie te skryf. Verkieslik een van 'n digbundel vir Rapport, aangesien jy "huiwer om te vra hoekom resensies van digbundels sulke uiters vervelige leesstof op ’n Sondagoggend maak". Selfs Viljoen moes nie die bundel geresenseer het nie, maar "die bundel as kapstok gebruik het om oor kunsmatige intelligensie en die digkuns te skryf". Wys dan vir ons hoe mens moet maak om 10/10 by Crito te kry!

  • Etiket of nie, ek wil sê: Dankie, Crito. Want ek steur my wel aan jou mening as dit op hierdie manier van die afgelope weke aangebied word. Ek waardeer jou woorde.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top