vandag is dit vir hom duidelik:
herfs het gekom
om te bly
vere lê verdor onder die bome
die asem wat tik
in die blare oorval hom
hy slaan sy kloue
sluimerend in die wortels.
vandag dryf hy
soos ‘n valk
gesig na onder
op die poel van sy droom.
hopelik vind
die engel wat buig
oor die kleim van sy hande
hom hier meer gelowig
as gister
toe die woord alleen wet was
(mag haar soen se donker vinne
hul vlerke kleinkant deur hom sprei).
vandag
lankal meer
geen prediker nie
maar priester
vee hy skielik
oor die oë
wat die blou vlam steeds sneller aangee tussen mekaar,
draai in sy vel
en prys die plafon.

