Vandag wil ek my blou skoene dra deur Koos Kombuis: ’n resensie

  • 2

Vandag wil ek my blou skoene dra
Koos Kombuis
Uitgewer: Naledi
ISBN: 9781928426080

Koos Kombuis is daardie cool dude met die kopdoek. Net vir ingeval die leser van die resensie nie weet wie hy is nie. (Dan is jy waarskynlik van ’n ander land of het pas uit ’n lang koma ontwaak.) Hy speel kitaar, skryf songs, was in ’n band saam met Johannes Kerkorrel en skryf Afrikaanse romans vol vloekwoorde wat al menige doppertannie uit haar perm geskok het. Het jy al Raka die roman (2005) of Seks & Drugs & Boeremusiek (2000) gelees? Indien nie, klim nóú in jou motor. Leen, koop of indien die nood druk, steel een. Dié man se romans laat jou tone krul van literêre leesgenot.

Moet hom egter nie met die kopdoekdraende doktor van Johannesburg verwar wat altyd politiek op die televisie praat nie. Nee hoor, Koos Kombuis praat politiek in sy songs, sy poetry en sy romans. Maar dis lekker politiek. Hy draai nie doekies om nie. Hy dwing jou as leser om introspeksie te doen en laat jou terselfdertyd skaterlag.

Na twee dekades (en seker baie wyn tydens die bepeinsing oor wat professor doktor Opperman as verruklike poësie sou beskou het) het ’n nuwe digbundel uit Koos se pen verskyn. Eers was daar André le Roux du Toit wat in 1981 saam met Daniel Hugo (sonder die deelteken – Joan Hambidge het my eens oor die vingers gepiets hieroor), Peter Snyders en Etienne van Heerden in Brekfis met vier sy poetry die wêreld ingestuur het. Onder die skuilnaam André Letoit (celebrities en poets moet skuilname gebruik, want hulle fans is lastig) het Suburbia in 1982 by Perskor verskyn, gevolg deur Die geel kafee in 1985. Allawêreld! Daar kom Afrikaans se eie Beat generation-poet toe na vore met sy lekker loslit vrye verse vol surrealisme en dekadensie.

Koos Kombuis (Foto: Naomi Bruwer)

Laasgenoemde bundels het Kombuis nou nie die Hertzogprys vir poësie besorg nie, maar het ’n hele paar geslaagde verse bevat. Dink maar aan gedigte soos “Gebed vir my vervreemde vrou”, “Ek is ’n Afrikaner” en “elegie vir my toekomstige vrou”. Die gedig “in en uit” is selfs vir IEB-skole voorgeskryf. (Nie dat dit belangrik is nie, maar dit is die enigste manier waarop digters actually geld met hul gedigte verdien.)

Met groot afwagting én opwinding het ek Kombuis se nuwe digbundel gegryp en my lippe afgelek vir my Kombuis-hero se nuutste toevoeging tot ons taaltjie se poetry-oeuvre. My opwinding was egter van korte duur, liewe leser. Die bundeltjie is maar aan die dun kant, met slegs 26 gedigte. As ’n digter twee dekades wag voor sy/haar volgende bundel verskyn, verwag lesers immers gedigte wat deeglik afgerond is en ’n bundel met meer as 26 gedigte. Helaas is dit nie die geval nie.

Die bundel in sy geheel bevat grotendeels gedigte waarin Kombuis besin oor die stand van sy eie lewe asook ’n veranderde Suid-Afrika. Op sy humoristiese wyse word daar intertekstueel in gesprek getree met Van Wyk Louw asook die Onse Vader in “vier gebede by jaargetye in die boland” (een van die beter gedigte in die bundel) en “oorlewingsgebed van die 21ste-eeuse kunstenaar”. Die titelgedig, “vandag wil ek my blou skoene dra”, is somber van aard, maar treffend. In “alles vergeel” fokus die digter op sy verganklikheid:

alles vergeel
wat vroeër belangrik was;
gister se heldedade en veldslae
verdor tot
boring statistieke
in stowwerige
familie-albums.

in my vorige lewe was ek ’n rockster.
in my vorige lewe was ek ’n matroos.
in my vorige lewe was ek
’n doos van bellville-oos.
wie gee om
wat ek was
as alles broos en droog word
soos gras? […]

Kombuis erken self in die bundel dat hy van rymdwang gebruik maak (sien voetnotas op ble 24 en 45). Daar is niks verkeerd met die gebruik van rymdwang nie, maar too much of a good thing is ook nie goed nie, nè. Die oordrewe gebruik van rymdwang kom studentikoos voor en klink meer na ’n popdeuntjie wat by die KKNK se musiektent ad infinitum herhaal word as ’n gedig wat iets om die lyf het.

Alhoewel daar enkele geslaagde gedigte (en volop humor) in die bundel is, is die bundel in sy geheel teleurstellend. Op die agterblad skryf Kombuis dat hy die bundel “vir [sy] eie plesier [geskryf het]”. Boonop word dit as sy “ryp-word-bundel” beskou. As kritiese leser verwag ek van ’n gerekende skrywer soos Kombuis om iets meer substansieel te lewer as sy “ryp-word”-werk. Met ’n gedig soos “pampoenkoekies” is ek nie oortuig dat hierdie bundel Kombuis se skryftalent reflekteer nie.

help
ek wil net
pampoenkoekies eet.

Hierdie bundel sou nie gepubliseer gewees het indien ’n onbekende digter die manuskrip aan ’n uitgewer voorgelê het nie. Met Vandag wil ek my blou skoene dra doen Kombuis afbreuk aan sy poëtiese oeuvre. Die bundel was nie gereed vir publikasie nie.

Dit gesê, sal sy fans steeds die bundel koop en heel moontlik geniet. Ongeslaagde bundel en al bly ek steeds een van Koos se fans.

Naskrif: Ek teken by voorbaat verskoning aan by al die taalpuriste wat ’n weersin in my taalgebruik het. Ek en Koos is baie lief vir Afrikaans. Maar wanneer jy oor Koos skryf, mag jy maar so bietjie jou tale mix. Terloops, Koos Kombuis is ook die enigste mens in die wêreld wat maar Crocs mag dra. Want hy is Koos Kombuis!

  • 2

Kommentaar

  • As 'n mens na 'n illustrasie van studentikoosheid soek, is hierdie resensie 'n skitterende voorbeeld. Litnet-lesers verwag sekerlik iets meer substansieel van sy resensente.

  • En wij in de Lage Landen blijven hongerig uitkijken naar mogelijkheden om hier aan de besproken boeken te komen. In het Afrikaans en niet in Nederlandse vertaling. 'Vlam in die sneeu' heb ik in de oorspronkelijke taal kunnen lezen omdat goeie vrienden een bezoekje aan de Kaap brachten en het boek voor me meebrachten. De Godin van de Schone Letteren moge hen daarvoor gulhartig belonen!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top