Van toeka af die toekoms in deur Angelique van Niekerk en ander: ’n resensie

  • 4

Van toeka af die toekoms in – Die geskiedenis van Afrikaans-Nederlands aan die Universiteit van die Vrystaat 1918-2023
Angelique van Niekerk, Henning Pieterse en Jaap Steyn (reds)
Uitgewer: Naledi
ISBN: 9781991256584 

Die toekoms van Afrikaans as onderrigtaal aan Suid-Afrikaanse openbare universiteite was die afgelope drie dekades ’n onderwerp wat op talle universiteitskampusse, in die pers asook op verskeie ander platforms soos aktualiteitsprogramme en akademiese konferensies tot hewige debatvoering gelei het. Sedert 1994 is veral die hoër funksies van Afrikaans stelselmatig afgeskaf weens die bevoorregte posisie wat die taal voor 1994 geniet het. Die Grondwet (Wet 108 van 1996) erken Afrikaans as een van Suid-Afrika se 11 amptelike landstale. In die praktyk het Engels by uitstek die voorkeurtaal in die regering en sakesektor geword. Die aantal Afrikaansmedium skole het sedert 1994 drasties afgeneem. Gevolglik is dit geen verrassing dat die aantal studente wat vir Afrikaans-Nederlands of slegs Afrikaans as vak inskryf, drasties gedaal het nie.

Die afskaling van Afrikaans se hoër funksies in die tersiêre-onderwyssektor is veral sigbaar in Afrikaansdepartemente wat met dalende studentegetalle ongekende uitdagings in die gesig staar. Talle departemente is gedwing om maatreëls in te stel om poste te behou en nuwe inkomstestrome te genereer. Gevestigde Afrikaansdepartemente soos by die Universiteit van die Witwatersrand en die Universiteit van KwaZulu-Natal (voorheen bekend as die Universiteit van Natal) moes weens dalende studentegetalle hul deure sluit. Die Universiteit van Fort Hare se Afrikaansdepartement bestaan sedert 2021 slegs op papier, terwyl Walter Sisulu Universiteit enkele studente sonder enige voltydse dosent vir Afrikaans akkommodeer. Die Universiteite van Johannesburg (voorheen RAU), Kaapstad, Pretoria en Stellenbosch se studentegetalle het drasties gedaal en bygedra tot kleiner departemente of departemente wat met ander moes saamsmelt. In teenstelling met laasgenoemde departemente floreer die Afrikaansdepartement van die Universiteit van Wes-Kaapland asook dié van die Universiteit van Suid-Afrika met studentegetalle wat gesond daarna uitsien. In ’n neutedop is dit egter duidelik dat die toekoms van Afrikaansdepartemente aan talle Suid-Afrikaanse universiteite in die weegskaal lê.

Op 8 Mei 1925 is Afrikaans tydens ’n gesamentlike sitting van die Volksraad en Senaat as amptelike landstaal naas Engels en Nederlands (oftewel Hollands soos amptelik daarna verwys is) erken nadat artikel 137 van die Suid-Afrika Wet van 1909 gewysig is (Pienaar 1943:267–8). Wet 8 van 1925 was terugwerkend van toepassing sedert Uniewording op 31 Mei 1910. Voortaan sou “Hollands” ook Afrikaans insluit soos oorspronklik in artikel 137 van die Suid-Afrika Wet van 1909 gedefinieer. In 2025 word die erkenning van Afrikaans as amptelike landstaal gevier. Die eeufeesvieringe sal op verskeie maniere geskied met beoogde publikasies en gemeenskapsprojekte wat beplan word. Dié mylpaal is ongetwyfeld ’n rede om fees te vier, maar terselfdertyd hang daar ’n donker wolk oor die voortbestaan van Afrikaans se hoëre funksies wat deur verskeie faktore negatief beïnvloed word. Afrikaans kan moontlik teen 2125 terug “kombuis toe” gedwing word. ’n Enkele positiewe aspek is die stigting van Akademia, waar studente hul tersiêre studie in Afrikaans kan voltooi. Die stigting van ’n Afrikaansdepartement word eersdaags aan dié universiteit van stapel gestuur.

In 2020 verskyn Onverdrote vlyt: ’n geskiedenis in beeld van die Departement Afrikaans, Universiteit van Pretoria 1908–2020. Hierdie koffietafelboek vertel die verhaal van die eertydse Transvaalse Universiteitskollege en die ontwikkelingsgang van die Departement Afrikaans aan die Universiteit van Pretoria. Die publikasie van dié boek het heel moontlik impetus verleen aan die skryf van Van toeka af die toekoms in – die geskiedenis van Afrikaans-Nederlands aan die Universiteit van die Vrystaat 1918–2023 wat tydens dié departement se eerste departementele vergadering van 2021 gekonseptualiseer is. Hierdie publikasie is nodig geag om die geskiedenis van een van die oudste Afrikaansdepartemente in die land op te teken.

By uitstek is hierdie magistrale publikasie nie alleen prysenswaardig nie, maar ook van besondere historiese belang. Die pragpublikasie bevat naas inligting rondom die totstandkoming van wat vandag as die Universiteit van die Vrystaat bekend staan ook die geskiedenis van die Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans (soos dit tans bekend staan) van 1918 tot 2023. Alhoewel die Departement Duits en Frans sedert 1998 deel vorm van die Afrikaansdepartement, fokus die boek hoofsaaklik op Afrikaans en Nederlands met kort bydraes wat op Duits en Frans fokus.

Die handgeskrewe kennisgewing deur DF Malherbe wat op die voorplat afgedruk is, lui: “Studente word tans toegelaat om Afrikaans als medium te gebruik bÿ alle eksamens van die Universiteit Suidafrika – DF Malherbe (2/8/18).” Hierdie historiese dokument dui op die begin van die oudste Afrikaansdepartement in Suid-Afrika. Op 6 September 1918 word DF Malherbe deur die Raad van die Grey-Universiteitskollege (soos die UV toe bekend gestaan het) tot professor in Afrikaans benoem. Sodoende word die eerste leerstoel in Afrikaans gevestig. Hierdie belangrike gebeurtenis is die begin van ’n Afrikaansdepartement waarby van Suid-Afrika se grootste Afrikaanse literêre en taalkundige reuse, soos Gerhard Beukes, Elizabeth Conradie, Theo du Plessis, Daniel Hugo, Charles Malan, Marisa Keuris, Bernard Odendaal, JC Steyn, CM van den Heever, HP van Coller en Christo van Rensburg (om enkeles te noem) gewerk het. Bekende alumni sluit in die digters Philip de Vos, Louis Esterhuizen, Merwe Scholtz, Susan Smith, Dolf van Niekerk en GA Watermeyer, asook skrywers soos Jaco Jacobs, Sophia Kapp, Antjie Krog, Maretha Maartens, Riana Scheepers en Alexander Strachan.

Die boek bestaan uit ses hoofstukke wat volgens periodes (1890–1929, 1930–1949, 1950–1975, 1976–1994, 1995–2023 en “Dit is hoe dit nou is”) ingedeel is. Die tydperke is doelbewus gekies, aangesien dit met belangrike historiese gebeure in die Suid-Afrikaanse konteks gepaard gaan. Die outeurs het geen moeite ontsien om ’n deeglike en sover moontlik volledige geskiedkundige weergawe van die departement se werksaamhede te boekstaaf nie. ’n Wye verskeidenheid bronne, soos die departementele nuusbrief Dolos, onderhoude met oudkollegas en -studente, argivale bronne asook rekords van die UV se menslikehulpbron-afdeling, is geraadpleeg om inligting te bekom.

Verskeie interessante anekdotes kom in die teks aan bod. As dosent was DF Malherbe glo ’n “moeilike man” (43), en wie sou kon raai dat CM van den Heever se Laat vrugte tot so laat as die negentigerjare voorgeskryf sou word. Studente het nie net in 2015–2016 gestaak nie, maar ook in die dertigerjare. Die “Groot Staking” aan die einde van Augustus 1939 het tien dae lank geduur en het geëindig toe die universiteitsbestuur ten volle aan die eise van die studente toegegee het. Die groot digter en literêre kritikus WEG Louw is in 1942 vir die departementshoofskap oor die hoof gesien. Louw beskryf sy onderhoud as “giftig en venynig” (75). Die gebeurtenis kan deels toegeskryf word aan ’n Afrikaner-nasionalistiese gedig getiteld “Aan die Renegaat” wat in 1936 in Die Huisgenoot verskyn het. In die vroeë sestigerjare was Karel Schoeman en Philip de Vos klasgenote.

Een van die grootste skandale wat die departement getref het, was die Jack Verster-sage. Ina Wolfaard-Gräbe (toe junior lektor aan die destydse Universiteit van Port Elizabeth, nou NMU) het in Standpunte beweer dat slegs ses van die 136 bladsye van Verster se proefskrif “oorspronklike werk” was. Volgens Gräbe was Verster se proefskrif grootliks vertaal. Op 28 Julie 1975 het Verster bedank en afstand gedoen van sy doktorsgraad en professoraat. Ten spyte van hierdie ongelukkige gebeurtenis, blyk dit uit die studentestemme van onder andere Louis Esterhuizen en Antjie Krog dat Verster as dosent geliefd was onder die studente en nie gehuiwer het om die status quo uit te daag nie.

Op sy beurt het Gerhard Beukes sy studente as “My dierbare vriend” aangespreek. Beukes se gewildheid blyk duidelik te spruit uit sy doel, naamlik “om studente te leer hoe om te dink en nie wat om te dink nie” (126). Daniel Hugo vertel van Jaap Steyn wat een van sy eie gedigte in sy bundel Die grammatika van liefhê (1975) met ’n potlood doodgetrek en opgemerk het: “Dis louter stront” (151). Verskeie Afrikaanse digters en skrywers het op voorstel van die Afrikaansdepartement eredoktorsgrade van die universiteit ontvang. Ontvangers sluit in die uitgewer Koos (JJ) Human, die skrywer Jan Rabie, en die digter Ernst van Heerden.

Die publikasie self is keurig versorg wat uitleg, inhoud en taalversorging betref. Slegs ’n enkele tikfout kom voor, op bl 151. Elke afdeling word afgesluit met ’n versameling kleurfoto’s wat op glanspapier gedruk is en sodoende die teks met visuele materiaal komplementeer. Van toeka af die toekoms in – die geskiedenis van Afrikaans-Nederlands aan die Universiteit van die Vrystaat 1918-2023 is ’n pragpublikasie wat as verwysingsbron of koffietafelboek kan dien. Menige leser wat in die geskiedenis, of die geskiedenis van die UV of die ontwikkeling van Afrikaans as vakdissipline belang stel, sal die boek interessant en verrykend vind. Die skryfstyl is toeganklik vir nie-akademiese lesers en in sy geheel lees die teks soos ’n storie.

Alhoewel die toekoms van Afrikaansdepartemente aan talle Suid-Afrikaanse universiteite in die weegskaal verkeer, dui dié publikasie daarop dat die Afrikaansdepartement aan die UV nog lank nie boedel oorgegee het nie. Deur middel van nuwe kursusse, kreatiwiteit en kollegiale samewerking word korte mette gemaak van enige uitdaging wat dié departement in die gesig staar. Soos die Universiteit van Pretoria met “onverdrote vlyt” toekomstige uitdagings aanpak, is daar hopelik nog ’n lang geskiedenis wat in die toekoms vir die UV se Afrikaansdepartement geskryf sal word.

Bronnelys

Klopper, T en H Willemse. 2020. Onverdrote vlyt: ’n geskiedenis in beeld van die Departement Afrikaans, Universiteit van Pretoria 1908–2020. Wildernis: abrile doman uitgewers.

Pienaar, EC. 1943. Die triomf van Afrikaans. Historiese oorsig van die wording, ontwikkeling, skriftelike gebruik en geleidelike erkenning van ons taal. Kaapstad: Nasionale Pers.

  • 4

Kommentaar

  • Helize van Vuuren

    'n Koue huiwering loop oor die vel, by die lees van paragraaf twee hierbo se tweede laaste sin [dat slegs UNISA en Wes-Kaapland se Afrikaanse departemente "gesond" lyk ("lyk" 'n diep-ongelukkige woord om hier oor Afrikaans se gebruik)].

    Maar dankie vir die resensie, Dewald. Dit gee skerp insae in die status quo.

  • Barend van der Merwe

    Dit was vir baie jare voorspel, gewaarsku, en terselfdetyd afgemaak en afgelag, want daar is mos so baie sangers, so baie boeke en die "solank dit gepraat word"-rympie. Dit word egter nou realiteit, ja.

  • Barend van der Merwe

    Dankie, Dewald. Wonderlike artikel van jou. Waar en hoe weet ek nie, maar iewers sal ek die ene ook onder oë moet kry. In my jare daar as student het ons ook 'n CM van den Heever-boek as voorgeskrewe werk gekry, maar dit was "Somer" en nie "Laat vrugte" nie. Dit was in die jare 2005 - 2007. Het nooit by Steyn klas gehad nie, maar wel by Van Niekerk/Odendaal/Van Coller.

  • Te koop via Naledi se webblad, of via die dept Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, UV (0514012816), of by Protea-uitgewers se boekwinkel in Bfn.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top