van Stellen- tot Plettenberg

  • 0

tussen julle, Van der Stelle, Oudtshoorns,
Plette, is mede-Mens, gewetenloos uitg’wis,
dis g’wis, julle’t korte mette gemaak, koloniaal,
vryburgerlik, voortrekkerlik, van Eerste Mens,
van weerstand, wat sonner twyfel sy of haar,
kop uitg’steek’t, bosoorlog in Namibangola,
definitief nie eerste een, ter plaatse, dus

met ander woorde, in deeske Moederland
in Azania, ‘s Afrikane soos “Boesnots” verdryf,
orals waar hul vlug, groot teenspoed oppie lyf,
geloop, gehardloop, berge in, voor honne uit,
voor gevangenskap, slawerny van meester,
heerser uit vreemde, oor Eerstes en alles

tussen verskillende goewerneurstydperke,
is Kolonie van alle Eerste Menslikheid b’vry,
ontset uit greep van ongeletterdes, primitief,
wilde mense, nie gesiviliseerd of Godgeleerd,
oorlewendes sprekers van jongste Afrika-taal

histories, linguisties, voorouers se waarhede,
vir ewig verlore, van taal, kultuur g’n spore,
vir Eerste Mens, identiteit te probeer vind,
terug te vind, post-Gewete-herwinning,
as inwoners van dees skone Suiderland,
post-volksmoord-struktuurgewelddadig,
traumaties, psigologies, tyotyombiägtig,
tot half-Mens, “boschmens”, gereduseer,
tot inheems inwoner van “Boesnot”-land,
tot burger sonner reg, op besitreg, Eie,
op uitroei van Self-destruksiesindroom

lat Mens indringers, inkommers, refugees,
vir eie Vryheid, Verlossing, uit bose,
uit “Duiwelspiek”-dissipelagtigheid,
submissief, moet pleit, smeek, soebat:

eish, inboorling is ook mos geregtig,
op sy of haar eie stuk volstruisvleis,
wat anners sal Mens in Volstruisstad,
in KKNK-HK, “isiBhulu”-bazaarfees,
in liefde en vrede, vredig kan nuttig?

want sedert Goewerneurs se bevele,
ter illustrasie van eg toegewydheid,
bereidheid, Eerste Mens so te dood,
m’t Stellenbosse boys-ondersteuning,
doodsbevel fier, kwasi-vurig, formeel,
swierig, volstruisverig, te onderteken,
goed vertroud, m’t super-kolonisasie-X,
m’t implementeer, van struktuurgeweld,
deur amper allie missionarisse takties,
“ter wille van Gods Wet”, teologies,
ultra-antropologies, onderskraag

Jacobus Faasen

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top