Van Rossem’s Troost

  • 0

In my herinneringe aan my jeugjare onthou ek dikwels die plekke en geboue beter as die mense. Party mense is maar net vae beelde, gesigloos, wat in dieselfde omgewing as jy beweeg het. Ander, soos die geliefdes wat naby aan jou was darem helderder, hier en daar die blosende wange en goue hare van ’n goeie vriend of vriendin. Of dan bruin hare en blou oë, die kleure maak nie saak nie, dit is die persoon, die geestigheid in hom of haar wat jy onthou. As ek Eugène Marais mag aanhaal:

…die hare wat die sonlig vang
en weergee in ’n goue gloed:
die oë vol van sterreprag …
 (Uit: Skoppensboer)

 As ek nou dink aan die losieshuis in Port Elizabeth waar ek in ’n stadium gewoon het, sien ek die roomkleurige vierkantige struktuur van die dubbelverdieping, met die lang sement paadjie na die hek, die gras, blomme en struike en die hoekie met die groot boom en bankie. En slegs vae figure van mense, behalwe vir ’n vriend of twee wat ek goed onthou. Miskien is ek dan nie ’n méns mens met baie vriende nie. Nee, ek het baie op my eentjie rondgeloop, gaan fliek, op die hawe gaan sit en kyk na die vissies in die water. Dikwels verlang na my familie in ’n ander stad.

Luukshede met my eerste klein salarissie was daar nie, ek moes loop of bus ry waar ek wou kom, maar ek kon darem bekostig om aan die einde van die maand vir my klein weeldeartikels te koop; van die duurder soort rookgoed. Klein blikkies Hollandse sigaartjies, Ritmeester Quick en Livarde, as ek die name reg onthou. En in die tabakwinkel bo teen die bult met Albanyweg uit, met die lieflike ryk geure van verskillende tabaksoorte, ’n paar onse Golden Rhodesian laat afweeg. Ook die swart sigarette, Sobranie Black Russian. Die sigarette is glad nie eers in Rusland gemaak nie, wel in Engeland meen ek, maar dit het jou laat voel dat jy iets eksoties rook, ’n skakel het met die massiewe Moeder Rusland, met al sy geheimenisse. Hoe het ek nie van die pragtige pype in die winkel begeer nie! Maar dit was gans te duur vir my.

'n Paar jaar later woon ek in Sunnyside, Pretoria, en op pad huis toe was daar ook ’n tabakwinkel, ek het nou die straat se naam vergeet. Hier het ek die blikkies Assegai-tabak leer ken en gekoop en soms, as ek dit kon bekostig, gemeng met die pakkies aromatiese Hollandse tabak wat jy destyds oral kon koop: Holland House, Amphora Aromatic en Van Rossem’s Troost.

Die Van Rossem’s Troost pakkie was so ’n gelerige kleur en dit het ’n prentjie gehad van ’n man wat gebukkend staan in een van daardie strafblokke waarin sy kop en hande gedruk en gesluit was. ’n Ander, lekker vet man staan voor hom en hou ’n pyp met ’n lang gekromde steel na hom toe uit waaraan hy dan natuurlik suig as ’n soort van troos, versagting van sy lyding.

Hoe helder onthou ek die mooi skoon Sunnyside! Soos op ’n fris lente-oggend waar ek langs die Apiesrivier-kanaal stap verby die varsgroen doringboompies op pad na die bushalte. Of op ’n soel somersnag die wit katjiepiering in die donker tuin!

Die ongeluk met herinneringe aan plekke en geboue is dat daar van elkeen ten minste twee bestaan: die een soos jy dit onthou soos dit was toe jy nog jonk en sterk was en die ander soos dit nou is, verander deur die jare, soos jy, en glad nie meer so mooi vir jou nie. Want destyds was jy nog vol lewenskrag en hoop, dít is waarom die herinneringe vir jou so aangenaam is, maar nou is jy al amper bejaard en het hulle die plek verander, sodat jy nooit weer daardie presiese gevoel en oomblik kan terugkry nie.

En die tabaksoorte het nog ’n lieflike geur, maar dit het vir jou ’n bedreiging geword, ’n gevaar, jou longe is verswak van vroeë emfiseem, dit troos jou nie meer nie, jy wens jy kan ophou daarmee. Ek sien ook glad nie meer die pakkies Van Rossem’s Troost op die winkelrakke nie en dit is goed so, want dit is nie ’n troos nie maar eerder ’n vloekLet op hoe lui daardie vers van Marais se gedig verder:

…is weerloos teen sy groter mag
Alreeds begin die rimpel sny;
Oor alles hou die wurm wag
En stof en as is al wat bly:
Want swart en droef,
Die hoogste troef
Oor ál wat roer,
Is Skoppensboer.

Groete

Tiens 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top