Om te begin skryf deur net in ’n koffiekroeg te sit, kan dalk genoeg van ’n stimulasie wees om ’n hele kortverhaal of selfs roman in só ’n ruimte te laat afspeel. Ek het onlangs ’n roman gelees wat byna uitsluitlik in ’n koffiekroeg afspeel en wat ’n blik bied op die veranderende stad waarin dit plaasvind deur hierdie ruimte as milieu te gebruik.
Die roman is Ivan Vladislavi? se The Restless Supermarket (oorspronklik in 2011 gepubliseer, maar in 2012 deur Umuzi heruitgegee). Die stad is Johannesburg, die stadsdeel Hillbrow en die jaar 1994. En die koffiekroeg waarin die gebeure plaasvind, is die Café Europa, gesien vanuit die oogpunt van ’n brommerige bitterbek, ’n afgetrede blanke man wat sy lewe lank gewerk het as proefleser van die Johannesburgse telefoongids.
Hy het dus sy lewe gewy aan die eliminasie van foute, aan die handhawing van “standaarde”, en spesifiek aan die handhawing van orde van die telefoonnommers van mense in ’n telefoongids – wat natuurlik mense in informele woongebiede uitsluit. Sy obsessie met taal is ’n sentrale element in die roman en die verswakking in taalgebruik wat hy waarneem in die wêreld rondom hom, asook die toenemende gebruik van swart tale, wat hy nié kan proeflees nie, is vir hom ’n metafoor van die algehele ineenstorting van sy wêreld.
Aubrey Tearle (ons nooddruftige proefleser) was nog nooit in Europa nie, maar sien homself as onverbeterlike Europeër – wat ook speel met die naam van die koffiekroeg waar hy sy dae en nagte deurbring. 1994 is ’n tyd van politieke verandering en arme ou Tearle hanteer dit nie goed nie. Op die muur van die koffiekroeg is die muurskildery van die verbeelde Europese stad Alibia – ’n beeld wat vir Tearle ’n verbeelde tuisstad, ’n Europese utopia voorstel. Wanneer hy dus hoor dat die koffiekroeg gaan toemaak, om ’n hoerhuis of “chicken outlet” (bladsy 11) te word, is hy krampagtig bevrees dat hy hierdie fantasie van elderswat die koffiekroeg vir hom was, gaan verloor.
![]() |
|
|
Hiilbrow vanaf die Ponté gebou |
Foto: Stefan Arno Möhl |
Kom ons spring gou na feite: Hillbrow is een van die min buurte in Suid-Afrika wat verander het van ’n ”Slegs blankes”-stadsdeel in die apartheidsjare na ’n buurt wat byna uitsluitlik swart inwoners – en veral buitelanders – het. Meer as 23 000 mense van die Kongo en 3 000 mense van Nigerië woon vandag byvoorbeeld in die hoofsaaklik vervalle woonstelblokke van Hillbrow. Die roman speel natuurlik af in ’n tyd toe Hillbrow hierdie veranderinge begin meemaak het – en dit is baie belangrik, want dit is die fokus van dié rubriek – toe die ruimte daarvan fisies begin verander het. Omdat al die roman-gebeure in ’n koffiekroeg afspeel, word dit ’n simbool van ’n groter ruimte – te groot om effektief in die vorm van die roman te beskryf. Die koffiekroeg in die roman skep dus ’n fiksionele netwerk die veranderende Hillbrow in die middel-1990’s beskou word.
Ek was verlede jaar by die Mail & Guardian literêre fees in Newtown, 28 Augustus tot 2 September 2012. In ’n gesprek oor fiksie wat oor Joburg gaan, het een van die mense in die gehoor, haar hand opgesteek en gevra waarom sy so lank laas ’n roman in Afrikaans gelees het wat in Johannesburg afspeel.
En dis waar: vele romans wat in Johannesburg, en ook in Hillbrow, afspeel, het die afgelope jare in Engels verskyn. Ek dink byvoorbeeld aan Zoo City van Lauren Beukes, Welcome to our Hillbrow (2000) van Phaswane Mpe, Muff Anderson se Bite of the Banshee (2002), Niq Mhlongo se Dog Eat Dog (2004), The Release (2012) van Eric Miyeni en The Landscape Painter van Craig Higginson. Maar waarom nie ook in Afrikaans nie? Is dit omdat daar geen meer “Café Europas” in Hillbrow is van waar ons veilig ons omgewing kan bespied nie?
In studies van Johannesburg word dié stad dikwels as “boos” beskou. As plek waar elkeen maar net soek vir sy brokkie goud, as plek van uitbuiting, segregasie, as gewelddadige plek, wat soos ’n tronk is met sy hemelhoë mure en sekuriteitsalarms. ’n Plek met cut-en-paste-sekuriteitskomplekse met ryk moderne mynmagnate aan die één kant en met vele ontheemde mense van elders, immigrasiewerkers en werkloses aan die ander (waarvan Hillbrow seker die mees treffende voorbeelde het).
![]() |
| Foto: Stefan Arno Möhl |
Maar is dit alles nie juis perfekte stof vir indrukwekkende romans, kortverhale of gedigte nie? Sit ons nie met stof reg onder ons neuse wat spreekwoordelik tot literêre goud omskep kan word nie? Is dit nie eerder waar die wérklik interessante karakters rondloop nie – waarom soek skrywers dit nog so dikwels op die plaas – of in die boorde van die Boland? Selfs al word ’n vervelige ou suurbek soos meneer Tearle as hoofkarakter gebruik: deur hom in Hillbrow te plaas, is die kontras skrynend en die roman onmiddellik meer boeiend.
Hillbrow, toegegee, is ’n plek waarvoor deesdae behoorlike moed en waaghalsigheid nodig is. Om as buitestander (en spesifiek as ’n vrou) daar rond te drentel, is beslis nie kinderspeletjies nie. Ek sal volgende week meer skryf oor my eie ervaring in dié besondere stadsdeel.
Maar vir nou: die blote gedagte om Hillbrow as ruimte vir fiksie in Afrikaans te oorweeg. Baudelaire het ons verlede week die verantwoordelikheid gegee om as skrywers die leegte van die stad en sy karakters binne te gaan om te kan skryf. En watter plek het meer gate om oor te skryf as Hillbrow? Het Johannes Kerkorrel ons nie spesifiek beveel om ons harte vir Hillbrow te gee nie?
Tot volgende week!
Rentia




Kommentaar
Hey Rentia - dit is baie interessant en net die tipe ding wat my tans interesseer en waaroor ek probeer navorsing doen. Ek sien uit na jou volgende rubriek.
(o, dit is Bibi Burger, nie Slippers nie)
Haai Bibi. Ek is bly jy vind dit interessant! Ek hoor regtig graag jou kommentaar/ idees.