Titel: Kerkenberg tot Bloedrivier
Skrywer: Louise Prinsloo
Uitgewer: LouDanis Pen
Die verhaal speel af van Januarie 1838 tot 16 Desember 1838 – dus ’n aksiebelaaide tyd tydens die Groot Trek. Piet Retief word op 6 Februarie 1838 vermoor en die Bloukransmoorde vind op 17 Februarie plaas. Die verhaal wat Louise Prinsloo hieromheen weef, is ‘n denkbeeldige trek onder leiding van Gerhardus Scheepers wat aansluit by die trekgeselskap van Gerrit Maritz, Hans (Dons) de Lange, Sarel Cilliers, Piet Uys en Hendrik Potgieter en ten slotte Andries Pretorius. Sy slaag voortreflik daarin om teen hierdie agtergrond ’n geloofwaardige verhaal te skep.
Alhoewel volwasse lesers die boek sal geniet, is die werklike teikenmark waarskynlik eerder die jeug. Die moderne konsep is ’n "oorkruisroman", wat bemark word as boeke vir beide leesgroepe.
Die hoofkarakter is die 14-jarige Arnoldus Joubert, ’n weeskind van ’n bywoner. Sy pa, ma en susters is aan die Oosgrens deur die Xhosas vermoor.
Ek het dadelik gewonder of daar bywoners op die Trek was, omdat ek bywoners eerder met die situasie na die Anglo-Boereoorlog (1899–1902) en Depressie in die 1930’s in verband gebring het. Ek het by Jan Visagie, Groot Trek-kenner, navraag gedoen. Ek haal volledig aan uit sy reaksie: “Daar was al ‘Bywoners’ in die 17e eeu, dikwels nie in ’n negatiewe sin nie. Sommige welaf mense wat in Kaapstad en omgewing gewoon het, het bywoners op hul plase aan die Oosgrens of Karoo gehad.” ’n Spesifieke geval waarna Visagie verwys in sy boek Voortrekkerstamouers is Roelof Petrus Gerhardus Dreyer, wat op veldkommandant Cornelis Meyer se plaas Meyerskraal (tans distrik Bedford) geboer het. Dreyer was ’n Voortrekker en het waarskynlik later sy eie plaas in die binneland gekry.
Louise skep ’n wêreld in die kleine – en bevolk dit op ’n oortuigende wyse. In die hedendaagse jeugliteratuur is die gebrek aan ’n vader, die sogenaamde "Vatersuche", die verlange na ’n afwesige vader, ’n gewilde tema. Louise Prinsloo sluit hierby aan wanneer Arnoldus moet besluit of hy hom met die aflê van die Gelofte vereenselwig of nie. In sy hunkering na ’n vader neem hy die besluit: "Stadig daal ’n innerlike kalmte oor Arnoldus neer. Hy weet sy pa sou die Gelofte saam met die ander mans afgelê het. Nou weet hy wat om te doen" (208).
Die bekende kinderheld Dirkie Uys, as ouderdomsgenoot van die hoofkarakter Arnoldus en ander seuns, se belewing van die Trek – hulle persoonlike verhoudinge en wedywering vir die mooie Poppie Vermaak se guns, sal jeugdige lesers boei.
Die gebruik van kontras – soos ’n vrolike dansparty wat gevolg word deur die tyding van Piet Retief se moord – hou die leser bewus van die onheilspellende en gevaarlike toestande wat die Trekkers daagliks ervaar het. Voortdurend herinner die skrywer mens daaraan deur byvoorbeeld die jong seuns se verantwoordelikhede – soos om elke nag wag te staan. Die opleiding van die seuns onder leiding van Hans Dons herinner onwillekeurig aan die inisiasieskole van ons medelandsburgers, of dié van die dienspligtiges in die 1980's. Die Voortrekkerbeweging se selfbehoud- en oorlewingskampe by Lunsklip en ander plekke, waar tieners ook met hulle eie uithouvermoë gekonfronteer word, sal ook vir jonger lesers ‘n begrip van die gebeure in die boek gee.
Die gevaar van roofdiere word vroeg reeds onder die aandag gebring – en as tema behou. Die leeu wat Arnoldus geskiet het se vel word met die hulp van die onderwyser, Meester Vogel, gebrei. Arnoldus vra kort voor die vertrek na Bloedrivier dat die vel gereed moet wees as ’n geskenk aan Poppie. Ander deurlopende drade van die verhaal word ook op vernuftige wyse deur die ervare skrywer bymekaar gebring.
Op 11 April 1838 het die Slag van Italeni plaasgevind – hierdie boek se bekendstellingsdatum is dus baie amper dag en datum 175 jaar later.
Ouer mense onthou die verromantiseerde werke oor die Kaap (sal ek Pardon Mijnheer ooit vergeet); en oor die Anglo-Boereoorlog het onder meer Jeanette Ferreira se twee bundels kortverhale die afgelope jare – sowel as ander pragpublikasies – verskyn. Die Groot Trek is as tema nog afgeskeep. Van ons vroeëre digters, soos Jan Celliers, AD Keet, CL Leipoldt, DF Malherbe, AG Visser, JD Kestell, Totius en ander, het wel ook oor die Groot Trek gedig, en die werk van skrywers van vroeër, soos PW Grobbelaar, DF Malherbe, MER (met haar Die tweeling trek saam), Louis Nel en CR Swart, en later PG Nel met sy Groot Trek Gedenkboek en Celestine Pretorius met haar Op Trek,bly standaardwerke. Daar is egter steeds ’n behoefte aan fiksie oor die Groot Trek – en Louise se Van Kerkenberg tot Bloedrivier is ’n tydige toevoeging in hierdie jaar waarin die Trek na 175 jaar herdenk word.
Besonder waardevol is die behoud van kultuurhistoriese gegewens. Louise beskryf byvoorbeeld die voorbereiding van kos, die inspan van die osse, skool en kerk en voorskrifte in dié verband, en die besoek van die smous, as integrale dele van die verhaal. Die magteloosheid van die Trekkers wanneer masels in die laer uitbreek en die begrafnisse wat daarop volg, word op simpatieke wyse hanteer.
Die oortog oor die Drakensberg (ek weet Estelle Pretorius en ander word bedank vir die toestemming om die WH Coetzer-skildery as treffende voorblad te gebruik – dankie daarvoor) is ook die behoud van ons erfenis. Ook hier skep Louise karakters wat mense is – soos Thys de Beer, ook die leier van ’n "denkbeeldige trek", wat sy humeur verloor en veroorsaak dat een van sy twee waens met osse en vrag die Drakensberg afstort. Sy verwytende vrou – haar stinkhouthuisraad is vernietig – wek simpatie by die leser. Dat van die jong meisies en vroue hulle rokke bymekaar gevat het en teen die hellings afgegly het, is gedokumenteer, en hierdie kennis word ook deur die skrywer benut.
Die aflê van die Gelofte en die Slag van Bloedrivier is die klimaks – ook hier word wetenswaardighede oor die Zoeloes en hulle tradisionele oorlogvoering op ’n vars manier deur Louise aangebied.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.