Valsrivier – 'n lesersindruk vanuit 'n sielkundige perspektief

  • 5

Titel: Valsrivier
Skrywer: Dominique Botha
Uitgewer: Umuzi
ISBN: 9781415203804

Koop Valsrivier by Kalahari.com.

Dominique Botha se debuutroman, Valsrivier, handel oor die skrywer en haar ouer broer, Paul, se grootwordjare op 'n Vrystaatse plaas en sy afsterwe op 'n jong ouderdom aan substansverwante oorsake. Die skrywer beskryf die boek as 'n roman oor haar verhouding met Paul, waarin sy beide die verteller en die karakter Dominique Botha is. Daar is reeds heelwat oor die boek geskryf op LitNet en ek gaan nie hierop uitbrei nie, maar wil tog 'n bydrae maak oor my ervaring van die roman.

Die skrywer sê dat sy die boek geskryf het om haar broer te onthou, waarin sy sekerlik suksesvol was, maar ook om iets uit die verlies van sy dood te maak, en dis hierin waar die teleurstelling van die roman vir my lê. Die beskrywings van die karakters se ervarings is uitgebreid en omvattend, maar daar word feitlik geen erkenning aan hulle emosionele belewenis gegee nie. Die karakter Dominique noem baie selde hoe sy voel, gee geen refleksie op wat sy dink ander voel, of wat sy dink haar broer se gevoelens mag wees nie.

Waar emosies wel soms uitgespreek word, is dit vyandig en negatief, byvoorbeeld op ble 108 en 109, waar sy sê die pa-karakter beskryf hul gereeld as "bleddie bederf" en hy sê van Paul "daai stront studeer kamstig in Kaapstad". (En dan word hy deur die meer reflektiewe kuiergas oor die vingers getik: "Weet jy, Driesie, ek is lief vir jou maar jy moenie jou seun 'n stront noem nie.")

Daar kan baie redes wees waarom Paul vervreemd gevoel het en alles word beskryf, byvoorbeeld hulle familie, die kosskool, weermag, politiek en die familie se verhouding met die gemeenskap, maar daar word nooit kommentaar gelewer oor die impak wat die ontkenning van emosie op Paul gehad het nie. Die karakter Dominique beskryf haarself ook op 'n baie passiewe en amper afgestompte manier, asof sy nie 'n stem in die familie en lewe gehad het nie, byvoorbeeld die episode waar sy seks het met die doktersvriend van Paul. Dit laat die leser met dieselfde gevoel van hartseer en eensaamheid wat sy en haar broer moes ervaar het.

'n Mens kan seker argumenteer dat sy eintlik slim is en dieselfde tegniek gebruik om die ontkenning van emosie in hulle huis aan die leser te illustreer, maar dis nie vir my duidelik tot watter mate sy bewus is hiervan nie.

Dit mag ook wees dat sy mense wat steeds lewe, wil beskerm deur diskreet te wees, maar dit maak nie sin vir my nie, aangesien die hele boek baie persoonlik en intiem is. Dit is natuurlik ook baie meer normaal dat baie gesinne in vorige generasies op die verdediging oor emosionele belewenisse was, maar in hierdie tyd sou ek meer refleksie wou gehad het van 'n skrywer (let wel: ek bedoel nie interpretasie nie). Met ander woorde, ek verwag nie noodwendig dat die skrywer 'n ontleding van almal se psiges moet gee nie, maar sy moet ten minste die belangrikheid van emosie (of die ontkenning daarvan) in die verhaal erken. Sy kom vir my die naaste daaraan as sy in 'n onderhoud sê: "Vervreemding – baie subtiele ding – kan binne jou gemeenskap en familie wees, tog is bande steeds heg.

As mens dit byvoorbeeld vergelyk met 'n roman soos Lost Ground deur Michiel Heyns, wat 'n baie beter gevoel van konneksie met die leser skep (waar, ironies, die hoofkarakter deur sy metgesel verlaat word agv gebrek aan uitdrukking van emosie), vind mens deurgaans verwysings na gevoelens. Ek dink dis een van hoofredes hoekom my aandag baie beter behou is deur Lost Ground as deur Valsrivier.

Ek probeer natuurlik nie hiermee sê dat elke roman 'n ontleding van emosies benodig om by die leser gevoel op te wek nie (hier dink ek byvoorbeeld aan die wonderlike ervaring wat Diary of a bad year van JM Coetzee bied). Ek dink net dat hierdie 'n beskrywing van 'n hartseer storie is, sonder die verstaan wat nodig is om 'n herhaling van generasie tot generasie te voorkom.

Lees ook hierdie resensie van Valsrivier.

Lees ook hierdie resensie deur Steve Hofmeyr.

* Dié lesersindruk is deur 'n psigiater geskryf wat om professionele redes anoniem wil bly.

  • 5

Kommentaar

  • Ek het die Engelse weergawe (False River) onmiddellik veslind.

    Snaaks genoeg ek, wat 'n aspirant kortverhaalskrywer is, het dieselfde gewaarwording as anonieme psigiater beleef en het dit onbewustelik toegeskryf aan die moontlikheid dat die 'tekortkoming' te doen het met die vertalingsproses.

    Nietemin het ek die boek baie geniet.

  • Avatar
    Breyten Breytenbach

    Lekker om so geelgat te wees - en voor te gee jy's 'n 'psigiater' (vreeslik vernaam) om dan anoniem sulke sotterny kwyt te raak. Seker ook maar beter jy's 'anoniem' want ek sou ook te skaam wees om sulke snert onder my eie naam te publiseer.

    En LitNet? Vanwaar skielik hierdie behoefte om op 'n oorvol webblad tuiste te bied (aan te bied?), mosterd na die maal, vir so 'n onprofessionele 'opinie'?
     


    LitNet het die bydrae ontvang en geplaas soos wat ons ander bydraes wat nie lasterlik is nie, plaas.

    Ons gee graag 'n stem aan ons lesers.

    Die stuk is geskryf deur 'n senior akademikus wat as psigiater verbonde is aan 'n Suid-Afrikaanse universiteit.

    LitNet

  • Avatar
    Breyten Breytenbach

    Nou waarvoor is die "senior akademikus" dan bang? Of is dit aanvaarbaar om mens se opinies as veronderstelde "gesaghebbende" (dis tog wat "psigiater" impliseer - al klink dit na baie elementêre nonsens wat hy of sy kwytraak) op 'n openbare forum rugbaar te maak solank jy nie in hoef te staan daarvoor nie?

     
    En LitNet wat dan aanvaar dis OK om gesigloos as ware van agter jou onderwerp te betrek solank die sluiper 'n "senior akademikus" is? Hoe kleinburgerlik tog ... Foei! 

     
      
  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top