Valsrivier is meesleurend mooi

  • 4

Titel: Valsrivier
Skrywer: Dominique Botha
Uitgewer: Umuzi
ISBN: 9781415203804

Koop Valsrivier by Kalahari.com

Met die lees van Valsrivier val drie dinge my op. Een, dis ’n absoluut oorweldigende debuut; Willem Anker se Siegfried het my laas so teen die kop (en in die hart) getref. Ek sou angstig wees om só te debuteer, want hier het Dominique Botha vir haarself ’n baie hoë standaard gestel. Twee, die taalgebruik in Valsrivier is ongelooflik mooi en staan deurgaans met een been in die poësie.1 Drie, die skrywer is beslis geen lafaard nie.

Alles in en rondom Valsrivier is baie beslis persoonlik en (kreatief) biografies. Om al hierdie intieme dinge op papier neer te lê moes moed geverg het, en mens kan net spekuleer dat die herbelewing van sekere lewensgebeure vir die skrywer pynlik kon gewees het. Valsrivier vertel die verhaal van die hoofkarakters Dominque en Paul Botha, wat begin met hulle kinderjare op die familieplaas Rietpan in die Vrystaat. Die roman is pragtig in hardeband deur Umuzi uitgegee,2 met ’n foto van Dominique en Paul as kinders op die voorblad. Die illustrasie op die skutblaaie wys die opstal op Wolwefontein, ook ’n familieplaas.

Die eerlike en opregte manier waarop kwesbare herinneringe weergegee word, maak dit vir mens byna onmoontlik om nie self ’n bepaalde emosionele betrokkenheid by die verhaalgebeure te hê nie. Benewens hierdie meegevoel word die ek-verteller ook vernuftig ingespan om jou oortuigend in die verhaalstroom te dompel.

Dominique en Paul as kinders.

Mens besef egter dat dié stem (veral die kinderstem wat in byna die helfte van die boek neerslag vind) dikwels dinge weergee soos dit om die beurt aan haar gekommunikeer is en dat daar hier miskien ook een van verskeie "valshede" waarop die titel dui, te bespeur is. Dit is so dat geheue dikwels vals of verwronge is,3 maar ook kan dit wat tog "reg" onthou word in die eerste plek ’n versinsel wees. Met die lees van Valsrivier word mens se eie kinderdae, en die verloop van jou eie lewe, opgeroep. Dit laat jou terugdink en wonder: "Was dit regtig só?" Die roman is treffend nostalgies, maar nie sentimenteel nie.

Die verhaal volg Dominique en Paul soos wat hulle ouer word en die al hoe meer uitdagende paaie van skoolkinders en jong volwassenes loop. Veral die kritiese en uitdagende Paul word toenemend deur die lewe getoets en daar is ’n bouende spanning by hom te bespeur, ’n spanning wat uiteindelik op ’n opskudding in die familie uitloop en in ’n groot mate sekerlik die ontstaansmotivering vir die skryf van Valsrivier daarstel.

Vroeg in die boek sê Dominique: "Ek is bang vir die dooies" (8). ’n Mens sou kon argumenteer dat die roman ’n beswering van daardie vrees is – een waarin onrus tot skitterende elegie omvorm is.

Die Bothas se verligte politieke oortuigings4 is ook ’n ondertoon in die boek, en een wat onderliggend tot die spanning by Paul bydra. Om as wit Afrikaanse openlik teen apartheid gekant te gewees het tydens die hoogty daarvan kon geensins maklik gewees het nie, en die blik op die uitwerking van die Botha-familie se oortuigings is een wat mens laat nadink. Apartheid is vir baie ’n ou en geykte onderwerp, maar ek besef opnuut met die lees van Valsrivier dat daar tog ook so baie is wat steeds nie opgediep is nie. Dis tog nog altyd die geval dat ons almal nie só is nie, en dat nie net bekende figure soos Breytenbach en Brink by die struggle betrokke was nie. Grepe van die (wit) anti-apartheid-Afrikaner op straat, en hoe diegene teen hulle "eie mense" moes sukkel, is insiggewend en kan moontlik bydra tot die voortdurende stryd om versoening.

Die enigste fout wat ek met die roman kan vind, is dat daar een of twee kere was wat ’n bietjie ... verdwaal gevoel het en nie deel van die verhaalgebeure as eenheid uitgemaak het nie. Een so ’n lukrake toneel is dié van Dominique en die (grillerige) dokter in Paul-hulle se dwelmkommune. Dit voel meer soos ’n ongemotiveerde bekentenis as volwaardige deel van die roman, maar is ’n kortstondige spoedhobbel wat maklik afgeskud word.

"Gewortel in die aarde, deurtrek van die ou-ou wyses waarop mense oorlewe," pronk Breyten Breytenbach se lof van die boek op die buiteblad. Valsrivier is dan ook baie beslis in die aarde gewortel wat die inhoud en aanbieding daarvan betref. Soos reeds genoem, skryf Botha op ’n poëtiese manier. Tog is die sinne eintlik gestroop en eenvoudig. Dit is benewens mooi ook ég en aards; hier is geen pretensie te bespeur nie. Ook inhoudelik is daar aardsheid te vind in die tydperk waarin die roman afspeel, een waaroor baie mense selfs nostalgies sal raak. Vervloë dae, toe mense nog plase geken het, baie meer direk van die grond afhanklik was as nou, en ook baie meer intiem daarmee omgegaan het.

"Jou herkoms brandmerk jou vir ewig. Skryf is ’n oorblyfsel van waar jy jouself bevind. Van hoe die seisoen verloop. Wat jy al daardie familiegoed noem, is vir my belangrik" (150). Dié aanhaling is nie net leë woorde nie; alles omtrent die roman spreek van hierdie belang vir die skrywer. Die manier waarop Valsrivier die leser raak en betrek, maak dit ook vir hom of haar belangrik. Om nie van rou-mooi te vergeet nie. As lesers bevoorreg genoeg gaan wees om nog ’n paar súlke werke uit Botha se pen te kry, sal die Afrikaanse kanon ’n belangrike toevoeging kry.


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter


1 Die roman is vól mooi sinne: "April is die mooiste maand op die Hoëveld. Wolke bol die lug sommer vir die mooi vol. Sonneblomme raak kopknikkend aan die slaap. Kosmos loer deur die rooigras. Die son gooi haar angel weg en skink heuning oor die laatmiddae." (33)

2 Solank boeke nog só uitgegee word, sal die knie nie voor Kindles en dergelike e-lesers gebuig hoef te word nie. Welgedaan, Umuzi.

3 In ’n onderhoud met Joan Hambidge noem Botha: "Om ’n herinnering op te roep is ook om ’n eerste daad van fiksie te pleeg ... Soos die siklusse van water wat kom en gaan, so maak die geheue binne die kontoere van die onbewuste.”

4 "Pa slaan nie sy werkers soos ander boere nie, of sê sy voorman aan om dit te doen nie." (16)

"Ma wil hê ons moet altyd die ingang vir swartes gebruik." (17)

"Ma praat altyd reguit. Sy koop by die nieblanke-afdeling van die winkel en sê vir die Indiërs hulle moenie hulle werkers 'dom kaffertjies' noem om haar te beïndruk nie ... Dis een van die rede waarom sy met Pa getrou het, omdat hy nie ’n rassis is nie." (131)

  • 4

Kommentaar

  • Ek weet darem nie, die kinderperspektief van die boek is hinderlik.  Sou jy bv op 6 al weet van Mamma is van Franse Hugenoot-afkoms want hulle moes vlug omdat die vervloekte Katolieke hulle so vervolg het en sy het 15 sent per boom betaal en stikstof in die gate gegooi toe sy dit geplant het? Verder eet ons koekies wat ons Hertzog- of Jan Smuts-koekies noem afhangende van ons politieke oortuigings?    Verder is die ouers, soos een karakter die noem "vreeslik lief vir K*** s".  Die ma laat die kind (op 6) toe om bier te gaan koop by die winkel, maar sy moet die kant vir die swartes gebruik. 1) Doerie tyd mag swartes mos nie drank gekoop het nie, 2) kinders van ses mag ook nie in die drankwinkel  ingegaan het nie?  Of het ek dit mis?

  • Gerdus Senekal

    Die kinderperspektief is eerder baie funksioneel
    – dit word bewustelik juis so gebruik, nes dié perspektief verander en
    toenemend strakker word. As kind is mens mos onskuldig en (meer) blind vir die bose.
    Die oorgang van kind na jong volwasse – en al die oorsake daarvan en probleem
    wat hiermee saamgaan – word nie net verduidelik of vertel nie, maar kan selfs
    in die boek se binnegoed gesien word.

    Die feit dat jy ook na die koekies, in ooreenstemming met ? bepaalde politieke
    oortuiging, as hinderlik kinderlik verwys, wys presies hoe mooi die skrywer
    daarin slaag om die onnadenkende eenvoudigheid (hier in die sin van naïef en
    onnadenkend geïndoktrineer wees) van destydse opvattings – en die manier waarop
    die man op straat dikwels daarmee omgegaan het – te illustreer.

    Ek kan my nie uitlaat oor kennis van die destydse drankwette of die toepassing daarvan nie, maar kan dit nie indink
    dat sogenaamde "nieblankes" nie drank sou mag koop het nie. (Alkohol is eerder een van die
    Westerse imperialis se geheime wapens; o.a. deurdat die verslawende aard, veral
    waar mens onvertroud of onbekend met so stof is, daarvan afhanklikheid in die
    hand kan wek. [Mens hoef vir voorbeeld chronologies nie veel verder as  die sogenaamde Dopsisteem terug te dink nie.])

     ? Mens lees (veral romans soos hierdie) mos eerder kontekstueel as vanuit die
    oogpunt van hoe dit “nou” is, of hoe?

  • Die foute wat met kinderperspektief begaan word, is niks anders as swak vakmanskap nie. Dis omtrent die eerste ding wat jy leer op 'n skryfkursus. Is jou verteller 'n kind onder 6, dan kan sy nie sommer al die politiek van die dag ken nie. Verstaan jy dit  nie Gerhard, dan kan jy gerus 'n boek oor die skryfkuns raadpleeg.  Jy MOES 16 wees om in die drankwinkel in te mag gegaan het en ja, bruin mense mag drank gekoop het, maar swartes nie. Dis waar die vele sjebeens hulle oorsprong gehad het.

    Daar is vele "gate" in die verhaal. Die verteller verlaat  skool en het skielik erens 'n matriek  verwerf? Ons as leser word op hierdie periode in die verhaal op die maak van weefstukke en waatlemoenkonfyt getrakteer.  Die verteller loop soos 'n zombie deur die hele verhaal. Sy kry  nooit 'n persoonlikheid nie

    Probeer jy verskoning soek vir jou naïewe resensie? Jy maak met behulp van die titel verskoning vir die "vals"  in die kinderherinneringe. Die skryfster kon dit opgelos het deur 'n leidraad te los dat sy as volwassene haarself weer terugplaas  na haar kindertyd en ja DAN kon sy volwasse kommentaar (in hindsight) lewer.

    Die roman moet my vertel.  Ek kan nie deur vriende vertel word dis goed nie en nou al bars die bottel, moet ek dit ook "goed" vind  nie.  (Al halleluja Breyten ook op die skutblad).  Die boek moet vir homself praat. . As daar bv.  spelfoute in is (en hier is meer as 10 ) dan kan ek nie kontekstueel daaroor 'gly' nie. Dit hinder my.

  • Docan jy's reg as jy sê dat Bruinmense drank mog gekoop het maar op 'n permitstelsel. Dit kom uit die dae van Prohibition waar net Witmene by 'n bottelstoor drank mog koop. Ek kom uit Marabastad waar wit mans myners was. Hulle het, wat ons witdrank genoem het, by die lokasie teen 'n prys ingesmokkel.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top