Titel: Valsrivier
Skrywer: Dominique Botha
Uitgewer: Umuzi
ISBN: 9781415203804
Koop Valsrivier by Kalahari.com.
"Jou herkoms brandmerk jou vir ewig," sê die afvallige Paul vir sy suster Dominique.
As student uit ’n redelike liberale familie het ek my so vrot gelees aan hierdie tipe oeuvre-in-oorvloed-, pro-Struggle-gelykenisse dat ek begin wonder het waar al die ander wittes heen is. Perth toe miskien. Teen die middel-90’s, met die lees van Mark Behr se Die reuk van appels, was ek al genees van die bestorming van my demoniese verlede, my laakbare pa, my veragtelike oupa, ons verfoeilike erfenis en verwerplike pigmentasie.
Die geur van wit skuld.
“Ek glo vas dat geen behoorlike storie ooit vertel kan word sonder ’n politieke dimensie nie,” seg André P Brink in sy ’n Vurk in die pad. En dis die vraag wat ek myself deurentyd vra. Wat maak hierdie boek so goed ondanks die “geur” en hoekom het ek dit klaar gelees?
Valsrivier is een volslae “blast from the past”. ’n Noenmaal van herinnering. En hoe maklik glip ek terug in daardie heilsame ou borrel. Voor ons almal desnoods verstedelik het, was baie van ons daar. Ons ken daardie geelfotogevoel, die heimwee na ver weg plase, dor mielielande, die laatmiddag-stofstorm, die plattelandse slakkepas - en hoe tyd en konteks alles sommer eendag kom wegsteel het.
Maar die duiwel lê in die smullekker besonderhede. Vir Valsrivier begin dit reeds op die omslag. Die oorstelpte kinders, laggend hand aan hand op die oewers van 'n rivier wat soms droog loop. Die oorverlekkering dien as sy eie waarskuwing van hoe fataal soveel onskuld kan wees. Die titel onderstreep die paradoks. Dan die skrywer se effe volksvreemde naam en volkseie van. En net soos jy te versigtig raak, dra die taal en prentjies jou die sagte nostalgie binne asof jy ontsnap in 'n ou fliek. So anderwêrelds was ons verlede. Die skrywer vra dat jy die konteks onthou en darem die kaf van die koring skei. Later vra jy jouself: Ontsnap ons in ons herkoms en omstandighede in, of daaruit?
Dominique Botha vertel “haar” storie so: sy trek jou eers by die familiêre in: die blerrie belt (vir pakslae), die Bybel (altyd oop by I Korintiërs 13), die Algemene Handelaar, die vinkies wat "swerm om die granaatbosheining" en die vars gemmerbier wat haar ma "in glasflesse toegekurk in die koeler bêre. Die rosyntjies suig die sap op en sink soos tevrede bosluise tot op die fles se bodem."
Ag, my valley daai, soos hulle sê. Ek was ook ’n Goudveldse kind, Sondagpiekniek langs die Valsrivier, etlike myle van waar die "bekende digter" haar verskyning maak. (Wie dié is, moet jy self lees, as jy nie reeds geraai het nie.)
En so het my paaie ook uiteindelik 'n fris es gegooi deur Yeoville en Rockystraat se arrogante pushers en pimps. Soms het ek gedink ek onthou so 'n Paul. Miskien is ons lewens bevolk van sulke Pauls. Hulle maak jou bespieders van jou eie lewe. Bestekopname-mense.
Alhoewel ateïstiese Bloedsappe seker maar yl gesaai was in die Vrystaatse boeregemeenskap, dra ons swaar aan onse Boereverdeeldheid, sommer op alle terreine. Afstig is vir ons eintlik meer tradisioneel as melktert, en ons stories sal vir altyd gelaai wees met hierdie bittere skeuring, 'n dualisme wat Valsrivier pal ingee. Is daai koekies nou Hertzoggies of Smutsies? Is jy verkramp of verlig? Is verligtes onverkramp en is verkramptes onverlig? Is jy 'n Paul, 'n pa, 'n ma of 'n Dominique? En loop daardie kronkelende, blerrie rivier van twyfel nie deur die siel van elke Afrikaner nie?
Valsrivier is 'n semioutobiografiese Bildungsroman wat wegtrek met die onsamehangende staccato-gedagtes van babbelende kinders en dan soek na rasionele gevolgtrekkings - ironies iets waarmee volwassenes bra traag is. Is dit endemies van die Afrikaner se mees onskuldige stories dat die gevoel van onheil heeltyd onderlangs broei? En jy weet dit en jy wag daarvoor. Soms vir niks. Dan oorval dit jou weer uit onwaarskynlike hoekies.
Daar is min kritiek op hierdie meesterwerk. Miskien is ek net ondergekwalifiseer om dit raak te sien. Dis maar 'n liberale verhaal oor welgestelde, liberale Afrikaners wat ander Afrikaners blameer vir alles behalwe hul eie rykdom. Met kinders wat dit vreemd vind dat iemand Rhodesië "Zimbabwe" sou noem in die laat ’80's. Hieroor weet ek darem nie. Maar jy het die witskuldstorie tot die dood toe al gelees, en jy weet daar is geen pryse vir jou buite daardie linkslêery nie, dog hierdie keer word dit in die mooiste, mooiste taal gedoen. Ek vermoed 'n aanhalingsdrukfout op bl 83 ... of 'n "Ek" wat 'n "Jy" moes gewees het, maar elke skrywer se oeuvre lewer seker so ’n blinde kolletjie of wat op.
Valsrivier sal pryse wen vir sy tapisserie van mooi. Dit móét (wil mens hoop). Baie lesers sal 'n toergids vir ure deur 'n enkele spens met rakke en rakke anysbeskuit, waatlemoenkonfyt en kaneelsuiker volg. Baie sal dit seker minder boeiend vind, maar ek salueer hierdie waardige Afrikaanse prysstroper.
Bygesê, hoe hierdie tesourus van inheemse Afrikaanse noemwoorde na Engels kon vertaal, moet ek nog sien.
Dan lees ek hom dalk net weer.
Lees nog 'n resensie van Valsrivier.
Lees ook hierdie boekgesprek oor Valsrivier.
Kommentaar
Hou van jou resensie. Maar het jy nie geweet sy het die boek UIT Engels IN Afrikaans vertaal nie? Wys jou net.
Valsrivier' is 'n absolute Wenner!
Kan nie wag om die boek te lees nie. Bly daar is iemand famous in die familie. Trots op jou Dominique. Ek is oom Mike se jongste dogter.
Ek het die Engelse uitgawe gelees en dit moet seker die beste Suid Afrikaanse boek ooit wees!
Net jammer Dominique is nie op Facebook nie want daar is baie dinge oor die boek wat ek wil weet.
Ek het Valsrivier gelees en is beïndruk deur die besondere manier waarop die skrywer die Noord-Vrystaat beskryf en haar gevoelens weergee. Ekself het in Kroonstad grootgeword. ’n Uistekende boek.