Dominique Botha: Valsrivier

  • 1

Dominique Botha se Valsrivier (Kaapstad: Umuzi, 2013, 202p) is in Afrikaans en Engels en sowel in druk (R220) as elektronies ($8.79) gepubliseer. Die afbeelding op die omslag is van die hoofkarakter, Paul, en die verteller, Dominique. Die teks wek die indruk dat die verhaal sterk (outo)biografies is. Ook asof die outeur alles waaroor sy literêr beskik het in die teks neerslag laat vind het; dermate dat ons hier met 'n een-boek-outeur te make kan hê. Sy kan dit moeilik vind om so 'n kragtoer te herhaal; waarmee ek nie volmaaktheid aan die werk toedig nie. Maar dit is ongetwyfeld die moeite werd om die boek te lees.

Voordat ek die boek gekoop het, het ek Joan Hambidge se resensie (Die Burger, 19 Aug) en haar onderhoud met die outeur (Die Burger, 23 Aug) gelees. Dit is inderdaad 'n besondere of anderste teks wat die leser lank behoort by te bly. Ek gaan nie Paul se lewensverhaal en dié van sy familielede in besonderhede opsom nie en ook nie die boek na behore resenseer nie. Ek spits my toe op veral taal en politiek.

Een van die grootste bates van Botha se skryfwerk is die mate waarin sy verskillende tye in die verlede aan die vergetelheid ontruk. Hambidge skryf: "Die verhaal word hortend, rukkerig vertel." 'n Mens kan redeneer dat dit funksioneel is om grepe uit die verlede opeenvolgend neer te skryf, want dit is hoe herinneringe opgeroep word. Maar jy kan ook redeneer dat dit 'n te maklike uitweg vir die outeur is; dat herinnering nie net opgediep nie maar ook in groter mate gesistematiseer moet word. Soms is dit moeilik om die funksionaliteit tussen 'n sin en die volgende een te bepaal. Selfs die woordorde in 'n sin maak die leesproses soms "hortend".

Die outeur munt uit in die beskrywing van boerdery en die bedrywighede in 'n plaashuis; dus hoe plaas- en plattelandse mense lewe. Daar is pragtige natuurbeskrywings, hoewel die doen en late van voëls te dikwels ingeroep word om 'n toneel in te kleur. In hierdie prosa is daar 'n neiging na poësie. Soms is dit 'n bate. Ander kere wek die teks die indruk van pogings tot mooiskrywery.

Die beste literêre vondse kom myns insiens in eenvoudige sinne soos die volgende te voorskyn. "Wanneer Paul opgewonde raak, praat sy hande saam. Ma sê hy dirigeer sy sinne tot stilstand" (Kindle 649). "Dit staan so in Genesis, op die ligte bladsye wat so swaar dra aan hul boodskap" (K 808). "'n Rubicon ... is die plek van waar jy eers agterna besef dat jy vorentoe moes gekyk het" (K 984). "Sy is op en wakker, soos 'n eekhoring in die herfs" (K 1396). Die International-vragmotor het 'n "sitbank so breed soos 'n uitgespaarde stalperd" (K 2432). "Die Karoo is 'n reis van herhaling. Windpompe. Droë rivierlope. Kalkklip. Peperbome" (K 2534). Lank gelede was daar 'n tyd "toe daar nog halfsente en halwe brode was" (K 3072). "My pen loop mank op die papier. Dit is nie vir my maklik om te skryf nie, nie soos vir Paul nie, wie se woorde en gedagtes soos oorgretige hoere op hom toesak" (K 3189). "Tyd spruit soos gras op en sterf weg. Ons reis deur die skyn van tyd" (K 3261). Les bes hou ek nogal daarvan dat daar 'n "wit Persiese kat Johannes is" wat "gloei soos 'n brandende kers" (K 157).

Die leser kan hom afvra in hoeverre die teks werklik die waarheid is, dus die verlede weergee. Tydens die genoemde onderhoud het die outeur tereg verwys na die "oorgang van memoir na roman ... dat die volkome waarheid nie haalbaar is nie. Om 'n herinnering op te roep is ook om 'n eerste daad van fiksie te pleeg." Daar is verwysings in die teks wat myns insiens diskreetheidshalwe liefs agterweë gelaat moes word; des te meer omdat daar lewende mense is wat met hierdie openbarings moet saamleef. Omdat fiksie hier ook 'n rol speel, kan die verweer wees dat wat moontlik seer kan maak nie noodwendig die waarheid is nie.

Ek verwys vervolgens opeenvolgdend na die volgende karakters: die pa, ma, Paul en Dominique. Let op hoe moeilik dit soms is om die kloutjie by die oor te bring; dus om te aanvaar dat sulke (skynbare) teenstrydighede in dieselfde persoon aanwesig kan wees. Dalk het die karakters oor tyd verander.

Die vader-karakter, Andries Botha, is weens die Anglo-Boere-oorlog sterk teen die Engelse, "die gierige bliksems" (K 1074), gekant; ook teen die Katolieke "gespuis" (K 174). Oor die konsentrasiekampe: "Die klomp vuilgoed het ons probeer uitroei en dan nog van ons verwag om aan hulle kant in die Wêreldoorloë te baklei" (K 794). Tog was sy voorgeslag Bloedsappe. "Pa het 'n reël gemaak dat ons aan etenstafel net Engels mag praat" (K 576). "Pa preek terwyl hy bestuur oor hoe 'n mens nie jou eie erfenis moet vergeet nie. Pa sê hulle het altyd probeer om 'n brug te bou tussen die Afrikaanse en Engelse gemeenskappe" (K 790). Op universiteit het hy in die regte studeer. Latyn "is die grondslag van alle geleerdheid" (K 653).

Andries het so baie empatie met sy swart werkers dat hy vir hulle baksteenhuise met motorhuise gebou het. "Pa glo dat die ekonomie op so 'n manier gaan ontwikkel dat plaasarbeiders in die toekoms motors sal kan bekostig" (K 106). Wanneer dit koud is hoef hulle nie te werk nie. "Hy het baie meegevoel met swart bestuurders wat alewig deur die verkeerspolisie lastig geval word" (K 1062). Hy veroordeel nie swartes wat polities gewelddadig optree nie. Hy verwys na hulle as "kammakastige terroriste" (K 183). Daarteenoor is daar die "Broederbondbarbare" (K 356). "Om die kinders weg te stuur [na private kosskole] beteken hulle kry 'n kans om weg te kom van die Broederbonders ... dit kan die wêreld oopmaak vir hulle" (K 988). "Sou dit nie wonderlik wees as ons kinders wêreldburgers kan wees nie?" (K 992).

"Pa glo 'n mens moet die keiser gee wat hom toekom, selfs al is hy 'n gevoellose stuk stront" (K 865). Hy is sterk teen apartheid gekant: "Elke liewe een van daai bliksems wat stoele volsit in die parlement is verantwoordelik vir hierdie wette" (K 882). By geleentheid sê hy selfs: "Ek is g'n wit nie!" (K 949), want "die Botha's is suiwer Griekwa" (K 954). "Hierdie fokken [PW] Botha maak ons hele familie se naam gat" (K 980). Maar Andries en sy seuns kyk darem rugby en hy lê selfs 'n rugbyveld op die plaas aan. Blykbaar is hy 'n welvarende boer, want hy het 'n vakansiehuis in Plettenbergbaai en 'n viersitplek-Piper Arrow-vliegtuig.

Met die aanbreek van die nuwe Suid-Afrika is hy 'n lid van die Vredeskomitee en staan hy 'n buitelandse kameraspan te woord. Terror Lekota en Oliver Tambo kom op sy plaas kuier. Hoewel hy 'n ANC-boer genoem word, deins hy en sy vrou terug van ANC-lidmaatskap en gaan hulle voort om die DA te ondersteun.

Die ma-karakter, Sandra, het in die era voor transformasie aan die Universiteit Stellenbosch 'n graad behaal, maar is ideologies meer radikaal as haar man. "Ma sê ware eensaamheid is om alleen te voel tussen jou eie mense" (K 945). "Ma gaan nie saam kerk toe nie, want sy glo nie in God nie" (K 297). Maar sy skryf aan haar seun Paul: "Ek hou duim vas vir jou en bid vir jou" (K 2048). "As kind op Koppies was dit 'n skandaal toe Ma geweier het om aangeneem en voorgestel te word" (K 1401). "As Ma die Bybel reg verstaan, sê sy, is daar geen skeiding tussen die rasse daar bo nie" (K 348). Sy verwag van haarself en haar kinders om by besighede die ingang vir swartes te gebruik. "As jy in apartheid glo, is jy óf krimineel oningelig, óf eenvoudig net krimineel" (K 311). Sy sê "sy wens sy kon persoonlik elke Nasionalis in die land aan sy nek ophang" (K 932).

Een van die redes waarom sy met Andries getrou het, is "omdat hy nie 'n rassis is nie" (K 2142). Dominique: "Ek het dikwels gewonder wat hulle gemeen het behalwe 'n belangstelling in stemreg vir almal" (K 2146) en "Ek laat hulle met hul woordestryd wat hulle vir liefde verruil het" (K 2386). Sandra aanvaar nie sonder meer haar man se anti-Engelse gesindheid nie. "Die Engelse het glo die huis afgebrand, maar Ma sê dit was tien teen een 'n pot wat op die stoof gelos is" (K 720). Maar dan sê sy ook: "Engelse Suid-Afrikaners dink hulle is beter as ons" (K 1001). Toe Dominique by 'n private Engelse meisieskool in Pietermaritzburg ingeskryf word, het "Ma ... gesê dit gaan wonderlik wees hier, want mense word toegelaat om op 'n natuurlike wyse met mekaar te verkeer" (K 1118). Die praktyk was egter anders as die ideaal: "Al die swart meisies sit saam en al die Indiërmeisies sit saam en al die wit meisies sit saam" (K 1118).

Paul is die oudste kind en die draer van die familievoorname. Van jongs af noem hy homself 'n agnostikus en selfs 'n kommunis. "Ten minste word ons die skynheiligheid van die tafelgebed gespaar" (K 895). Later word egter geskryf oor hoe sy pa "die seën vra" voor 'n ete (K 2829). In die plaaslike laerskool is daar net elf kinders versprei oor drie standerds wat in Engels onderrig ontvang en Paul is ooreenkomstig die wense van sy ouers een van hulle. Later woon hy 'n private Engelse skool in Johannesburg en uiteindelik een in Pietermaritzburg by. "Paul se laerskoolbriewe was vol beloftes aan sy Pa dat hy Afrikaans op sy Engelse skool praat" (K 1993). In Pietermaritzburg het hy by die "End Conscription Campaign" aangesluit (K 1175). Toe hy 'n prys vir poësie ontvang, bal hy "sy vuis in die swartmagsaluut en krimp ineen van die lag" (K 1251). Hy breek by 'n klubhuis in, word bewusteloos dronk en uit die skool geskors. Hy word egter nog 'n kans gegun, waarskynlik omdat hy vir die eerste rugbyspan senter gespeel het. Hy "wys middelvinger vir die polisie. 'Fokken boere'" (K 1643).

"Aan die Universiteit van Kaapstad het Paul sy enigste middeljaareksamen waarvoor hy opgedaag het, ook gedop" (K 1661). Hy is uit die universiteit geskop en moes toe vir militêre diensplig aanmeld: "Om swart mense te gaan vermoor, behoort nie die enigste alternatief te wees nie" (K 1926). Hy het die verskansing van apartheid "die kranksinnigheid van ons tyd" genoem (K 2355). As 'n Kersgeskenk het hy vir sy ma 'n tuindwerg in Port St Johns gesteel. Hy het spoedig uit die weermag gedros. Terwyl hy in militêre detensie was, het hy probeer om selfmoord te pleeg deur sy polse te sny. Dominique: "Ek dink nie dis lafhartig om selfmoord te pleeg nie. Ek dink Paul is baie dapper" (K 2390). In die weermaghospitaal is hy sielkundig geëvalueer. Daar is bevind dat hy 'n "houdingsprobleem" het, asook probleme met gesag (K 2373). "Hy's oneerbaar ontslaan. Fisiek en geestelik ongeskik om 'n lid van die gewapende magte te wees" (K 2407). In die weermagbiblioteek het hy gewetenloos bladsye uit 'n biblioteekboek geskeur.

"Paul Botha is a legend" (K 1871). "He embodies the nature of the natural outlaw ... He's the guy who does actually get to fuck all the waitresses" (K 1880). "Paul wants people to live their subjective truth. He encourages that in everyone he meets" (K 1885). Dit is wat hy die "minderheidsperspektief" noem (K 2377). Hy "stel in elke moontlike ondervinding belang" (K 2635). "Ek glo nie meer in monogamie nie. Nóg in poësie, nóg in die lewe" (K 1913). Sy pa het gesê: "Ek vrees Paul se siel ken geen perke nie" (K 2268). Paul: "Jou herkoms brandmerk jou vir ewig. Skryf is 'n oorblyfsel van waar jy jouself bevind. Van hoe die seisoene verloop" (K 2468). "Herkoms ... is bestemming" (K 2477).

Later bevind Paul hom as 'n skrynwerker en sweiser in Johannesburg. Hy is blykbaar verslaaf aan drank, dagga, heroïen, kokaïen en ander dwelms: "Net om die pyn van syn te versag" (K 2555). Hy is op die pad na nihilisme en "selfvernietiging" (K 2918). Sy pa leen steeds geld aan hom. Hy skuif buite sy ouers se kategorie van "aanvaarbaarheid" (K 3019); ook wanneer hy as sweiser in Paardeneiland, Kaapstad, begin werk. Soms deurloop hy rehabilitasieprogramme. "Ek is nie sommer enige soort boemelaar ... nie" (K 3102). Voorheen was sy skryfwerk vol belofte. Sedertdien het die reaksie "nie bemoedigend nie" geword (K 3208). Ten slotte het hy sy "emigrasiefantasie" (K 2856) uitgeleef en in Engeland selfmoord gepleeg.

Die verteller, Dominique, is die tweede oudste kind. Daar is 'n hegte vriendskapsband tussen haar en Paul. Sy vertel dat sy religieus gelowig is, maar noem die Afrikaanse predikant 'n "waansinnige slagvark" (K 307). Sy woon soms eerder die Anglikaanse diens by. Veral toe sy jonger was, was daar by haar 'n sug na normaliteit. Sy het nie daarvan gehou dat hulle as kommuniste beskou word nie (K 967, 2069). "Afrikaanse mense op Viljoenskroon nooi ons nooit meer in hulle huise in nie" (K 1467). "Ek wens Ma en Pa wil vir die Nasionale Party stem en na die NG kerk toe gaan. Ek wil graag hê dat ons nes al die ander mense kan wees" (K 631).

As kind sê Dominique: "Ek glo in God" (K 899). "Ek bid elke nag om vir God dankie te sê" (K 1001). Nadat sy blootstelling aan Engels in die skool in Pietermaritzburg gehad het, kom sy agter: "Pa en Ma se Engels klink skielik vreemd vir my" (K 1356). Sy was maer en sieklik en het later nie meer skoolgegaan nie en is van die een spesialis na die ander gestuur (K 1666). Sy het egter gematrikuleer (K 2113) en daarna aan universiteite studeer. Sy het ook geletterdheids- en handwerkklasse aan swartes aangebied.

Een van die jonger kinders is ook uit die private Engelse skool in Pietermaritzburg geskors. Ook in hierdie geval is daar tekens van drankverslawing. "Die skoolhoof het gesê daar is iets verkeerd met al die Botha-kinders" (K 2130). Die vraag is of hulle as welgestelde kinders nie te anker- en rigtingloos grootgeword het nie; of hulle waardes dalk nie op te los skroewe, in soverre daar skroewe of ankers is, staan nie.

Daar is politieke kommentaar waarmee 'n mens kan verskil. "Die swart mense is reg wanneer hulle sê ons het die grond verniet gevat" (K 46). "Net wanneer swart mense byna dood is, kan hulle die wit dokter sien" (K 222). Die afgesaagde grappie dat die "apartheidsregime" die boek Black Beauty wou verbied, word ook opgehaal (K 679).

Johannes Comestor

  • 1

Kommentaar

  • Dankie dat iemand darem die moed het om die gate in Valsrivier op te noem en daar is vele. Tog wen hierdie boek pryse asof die skryfster 'n pistool op die literati gerig hou? Dit maak 'n mens bevrees dat objektiewe literêre beoordeling net nie meer bestaan nie of selfs erger , 'n epidemie van onnoselheid almal aantas.  Jy mag in jou politieke binneste opspring en juig oor elke stelling teen apartheid en rassisme, maar jy sit hier met die taak om 'n literêre oordeel te vel.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top