Vals tegnieke, ware woorde

  • 2

Hoe kan mens ooit praat van “valsheid” in letterkunde? Die woord fiksie betéken tog “valsheid” – dit is tog ’n versinsel. Tussen die skrywer en die leser is daar ’n groot kloof wat dalk nooit oorbrug kan word nie.

Verlede week het ek vinnig genoem dat ek hierdie week oor die gevonde dokument, false document of phantom pre-text gaan skryf. Want dit is waar dit alles begin het ...

Laat ek verduidelik. Don Quijote (1605 en 1615) van die Spaanse skrywer Miguel Cervantes beskou baie as die heel eerste moderne roman. Ek gaan nou nie in die kompleksiteit van daardie roman induik nie, want daarvoor is ek geensins geleerd genoeg nie, máár ek wil tog vertel van ’n besondere literêre tegniek wat Cervantes gebruik het wat later deur vele ander skrywers gekopieer is, naamlik die tegniek van die valse of gevonde dokument (in Engels so ’n lekker term: “phantom pre-text”).

Toe ek so twee jaar gelede die eerste keer van hierdie literêre tegniek gehoor het, het ek dadelik gedink aan die sogenaamde found object, of gevonde voorwerp, in die beeldende kunste wat die eerste keer deur Picasso gebruik is toe hy ’n kopie van ’n prent van ’n stoel op een van sy skilderye geplak het en dit Still Life with Chair Caning (1912) genoem het – en wat natuurlik deur Marcel Duchamp berug gemaak is toe hy onder andere ’n urinaal as beeldhouwerk met die titel The Fountain (1917) uitgestal het.

Tog het die twee nie veel met mekaar te make nie – hoewel kreatiewe lesers dalk skakels sal kan maak.

Die tegniek van die gevonde dokument is veel ouer as die sogenaamde found object in kuns, wat eers aan die begin van die 20ste eeu as term en tegniek kop uitgesteek het. Dit is een van die oudste literêre tegnieke. En dit is nie net ouer nie, maar ook meer onwaar. Dokumente wat blyk feitelik te wees (op die werklikheid gebaseer), word in die fiktiewe teks of roman ingesluit om outentisiteit en geloofwaardigheid te skep. Die leser word gekul om te glo dat die fiktiewe dokument waarop die teks gebaseer is, die waarheid is.

Cervantes het byvoorbeeld verklaar dat al die hoofstukke behalwe die eerste hoofstuk van Don Quijote, die vertaling van ’n Arabiese manuskrip deur Cide Hamete Benengeli is, wat die verhaalstruktuur van ridderromans parodieer. Hierdie misterieuse Arabiese manuskrip word dus as “valse dokument” gebruik om die onderbou van die roman te vorm. Cervantes het dus gemaak of hy hierdie dokument op misterieuse wyse “gevind” het. Dat hy dit dus nie self geskryf het nie. En waarom? Om sy storie meer “waar” en outentiek te laat klink.

Dink ook aan Daniel Defoe se Robinson Crusoe wat as outobiografie aangebied is wat ook op raaiselagtige manier “gevind” is en waarvan baie mense steeds dink dat die skrywer regtig bestaan het. In al twee hierdie voorbeelde bedrieg die skrywer ons. Hy is ’n kulkunstenaar wat ’n skynrealiteit opdiep en dit soos die werklikheid laat lyk.

Die gebruik van ’n sogenaamde “valse” of “gevonde” dokument is dus ’n literêre tegniek wat ingespan word om waarheidsgetrouheid (ooreenkoms met die werklikheid) in ’n fiksionele werk te skep. Feit en fiksie word deur hierdie tegniek in die fiktiewe teks vervaag en komplekse etiese vraagstukke van hoe die teks gelees moet word om verstaan te moet word, word aangespreek.

Voorbeelde van bekende romans en kortverhale wat van hierdie tegniek gebruik maak:

Jonathan Swift se Gulliver’s Travels
Voltaire se Candide
“Manuscript in a Found Bottle” van Edgar Allan Poe
Nathaniel Hawthorne se The Scarlet Letter
WF Hermans se “Manuscript in een kliniek gevonden”
Pale Fire van Vladimir Nabokov
Italo Calvino se Als op een winternacht een reiziger
A Dictionary of the Khazars van Milorad Pavic
House of Leaves (2000) van Mark Z Danielewski

Maar daar sal natuurlik baie ander wees ...

Volgende week gaan ek verder skryf oor hierdie valse tegniek wat gebruik word om die illusie van waarheid te skep ... en gesels oor die skrywer as valsspeler.

Word dus vervolg ...

Rentia

  • 2

Kommentaar

  • Evgeny Artemov

    Jy kon seker "Manuscrit trouvé à Saragosse"/"Manuscript Foud in Saragossa" deur Jan  Potocki bygevoeg het.  As a  phantom pre-text, it definitely  beats the Dutch! 🙂

  • Hallo Rentia

    Of daar verband is tussen die wit porselein van Marcel Duchamp se "The Fountain"  en "Still Life with Chair Caning" (1912)  van Pablo Picasso is, kan sekerlik heelwat navorsing gedoen word, en veel meer geredekawel as debat gevoer word, want Duchamp het ook ander gevonde voorwerpe (onder meer 'n  fietswiel en 'n bottelrak,)  uitgestal as kuns)  maar dit is besonder moeilik om nie  verwysing na "Still Life with Chair Caning"  raak te sien wannner mens kyk na Joseph Kosuth (algemeen bekend as een van die vaders van konseptuele visuele kuns) se werk " One and Three Chairs", 1965. Hierdie baie bekende werk van Kosuth bestaan uit drie onderdele : EEN Wit en swart foto van opvoubare stoel gemonteer teen 'n muur  TWEE die fisiese opvoubare stoel  (en onderwerp van die foto) wat links van die foto op die vloer staan DRIE vergroting van teks van  inskrywing in 'n verklarende woordeboek oor "chair" wat op sy beurt  ook aan die linkerkant van stoel gemonteer teen die muur uitgestal is. (Google gerus Kosuth  "One and Three Chairs"  om te sien wat ek bedoel.) Ook: die titel is insiggewend en belangrik vir begrip van die werk.

    Ek haal "One and Three Chairs" werk aan omdat dit  nie net die onderwerp waaroor jy hier skryf, besonder goed illustreer nie, maar ook die beginsels van voor-af-waarhede bevraagteken met die drie "teenstelings" as onderdele van een enkele stil lewe, want dit is eintlik wat Kosuth se drieledige kunswerk uiteindelik is .

    Iewers op die internet het ek onlangs 'n aanhaling van 'n frase wat Picasso glo kwytgeraak het gelees, dit was  iets in dier voege: "Art is a lie that lets us see the truth."  Dit is min of meer dieselfde gedagte as "ik liegt de waarheid" van die Nederlandse film vervaardiger, Verhoef.

    Vriendelike groete

    Henk Seymore
    12 Oktober 2013

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top