Die Afrikaanse Taalraad is trots op die feit dat ’n Afrikaanse sepie soos 7e Laan so wye erkenning geniet en as die gewildste TV-sepie deur die Suid-Afrikaanse Rolprent- en Televisie-toekenningsagentskap (SAFTA) aangewys is. Die akteurs en regisseur van die sepie moet gelukgewens word met wat ook as ’n pluimpie vir Afrikaans bestempel kan word, het die voorsitter van die Afrikaanse Taalraad, dr. Michael le Cordeur, gesê. Lojale kykers, landwyd in Suid-Afrika en Namibië, word bedank vir die feit dat hulle hul Afrikaanse stemme laat geld het
Die ATR het kennis geneem van die mooi manier waarop die akteurs hul ondersteuners bedank het deur middel van ’n TV-advertensie, maar het geen begrip vir die feit dat die advertensie slegs in Engels verskyn het. ’n Mens sou verwag dat, terwyl dit oor ’n Afrikaanse sepie gaan, die dankwoord primêr op die Afrikaanssprekende publiek gerig sou wees. Dit is eintlik ’n klap in die gesig van al die lojale Afrikaanse kykers wat die moeite gedoen het om vir hulle Afrikaanse gunstelingsepie te stem. Die vervaardigers van 7e Laan skuld hul ondersteuners eintlik ’n verskoning en behoort die saak reg te stel met ’n Afrikaanse weergawe van die advertensie, aldus die Taalraad.
Prof. J van der Elst
Uitvoerende Hoof
Afrikaanse Taalraad
Kommentaar
Ja, die advertensies behoort Afrikaans te wees. Maar dit val vreemd op dat die Afrikaanse Taalraad geen beswaar teen die bedenklike Afrikaans opper wat in een episode na die ander van 7de Laan gepraat word nie.
Johannes Comestor
Die enigste vals noot is die Taalraad se stilswye oor die geradbraakte Afrikaans wat deurgaans in hierdie sepie gebruik word. Hierdie gewoonte het my so geirriteer dat ek jare gelede opgehou het om hierna te kyk.
Enjee
Dit gaan my verstand te bowe dat 'n mens na sepies kan kyk.
Rocky Bell