Veral sedert televisie 'n prominente rol in die samelewing speel, word 'n openbare beeld van bekende mense gebou wat aansienlik van hulle private beeld kan verskil. Meesal eers na hulle dood word sodanige openbare beeld aangevul met die publikasie van biografiese navorsing wat die private beeld wêreldkundig maak. Die resultaat is dikwels 'n minder vleiende geheelbeeld. Dit is wat gebeur het in die geval van bv Roald Dahl (SêNet 10.05.2012) en veral Laurens van der Post (SêNet 8.05.2012). In albei hierdie gevalle kan die biograaf nie van vooroordeel beskuldig word nie. Objektiwiteit het geseëvier.
'n Soortgelyke situasie doen hom by Laurie Lee (1914-1997) voor. Ek het vier van sy boeke gelees: A rose in winter (1955), sy reis deur Andalusië na die Spaanse Burgeroorlog; Cider with Rosie (1959), oor sy kindertyd in Gloucestershire; I walked out one midsummer morning (1969), sy besoek aan Spanje voor die Spaanse Burgeroorlog; en A moment of war (1991), sy betrokkenheid by die Spaanse Burgeroorlog. Die Spaanse Burgeroorlog (1936-1939) was die bepalende gebeurtenis in Lee se lewe.
Die lees van hierdie vier boeke was 'n genotvolle, meevoerende ervaring. 'n Mens kan kwalik die eerste sinne van sy 1969-boek vergeet: "The stooping figure of my mother, waist-deep in the grass and caught there like a piece of sheep's wool, was the last I saw of my country home as I left it to discover the world. She stood old and bent at the top of the bank, silently watching me go ... not questioning why I went. At the bend of the road I looked back again and saw the gold light behind her; then I turned the corner, passed the village school, and closed that part of my life for ever." Dit is poësie wat, soos in sy ander genoemde boeke, prosa geword het.
Maar let op Lee se geboortedatum in die tweede paragraaf hierbo en die volgorde en publikasiedatum van daardie boeke. Die eerste boek het betrekking op 1951-1952, sodat daar 'n redelik kort tydsverloop voor publikasie was. Die ander drie boeke is egter lank na die gebeure gepubliseer. Cider was 'n geval van "writing from middle age, so that even hunger was sentimentally remembered" (Grove, bron hieronder, p 403). Cider het weens onakkuraatheid 'n skadevergoedingseis tot gevolg gehad. Sy 1991-boek is deur oudgediendes van die oorlog as onbetroubaar gediskrediteer. Lee het dié teks in sy sewentigerjare voltooi, asook lank nadat sy dagboek oor die oorlog in 1969 gesteel is. Dit was "like attempting to piece together a love letter which has been scattered by a cyclone" (Grove, p 433). Daar is voorgestel dat hy dit eerder as fiksie, as 'n roman, behoort aan te bied. Die gaping tussen sy tekste en die feite doen egter nie afbreuk aan die literêre gehalte van sy skryfwerk nie.
Skynbaar die beste manier om tot die kern van Lee as mens en kunstenaar deur te dring, is om die biografie van Valerie Grove, Laurie Lee: the well-loved stranger (London: Viking, 1999, 560p), te lees. Grove het Lee in die laaste jare van sy lewe leer ken en sy en sy naasbestaandes se vertroue en samewerking vir die biografie gehad. Sy gee die feite en gebeure weer en laat die evaluering daarvan aan die leser oor. Soos dikwels in sulke gevalle gebeur, word diegene wat die hoofkarakter oorleef het, bv Lee se vrou, Kathy, egter ongunstige blootstelling gespaar. Kathy was in 'n kortstondige buite-egtelike verhouding betrokke, maar het haar daarna met kerksake besig gehou en vir bv die verbod op kernwapens beywer.
Laurie Lee se voornaam en van vorm 'n melodieuse, alliterêre, mnemoniese eenheid: "Laurielee" (p 30, 256). Aanvanklik het hy as digter bekendheid verwerf. Aan sy romantiese openbare beeld word vorm met verwysing na sy viool en kitaar gegee. Hy word voorgestel as die kosmopolitiese sanger en digter wat op jeugdige ouderdom in die Spaanse Burgeroorlog betrokke was. In Lee se geval was miteskepping aan die orde van die dag en hy het graag daaraan meegedoen. Van sy skramse betrokkenheid by hierdie oorlog, sy geneigdheid tot pedofilie, sy onvermoë om te werk en sy kroeglewe is meesal nie kennis geneem nie. Sy buurman in Slad het gesê: "In ten years there ... he never saw Laurie doing anything at all" (p 469). "Laurie was a pub man and a club man, so he might have seemed to be a man's man; but in fact his life was dominated by women: mother and sisters, girlfriends and lovers, wife and daughters" (p 1).
Lee het die oudste Garman-suster, Mary (1898-1979), en haar man, die Suid-Afrikaanse skrywer, Roy Campbell (1901-1957), in Spanje leer ken. Soos Lee, kon Mary kitaarspeel en sing. 'n Ander Garman-suster, Kathleen (1901-1979), was met die beeldhouer, Jacob Epstein (1880-1959), getroud. Haar klavierspel was op konsertstandaard. Die jongste Garman-suster, Lorna (1911-2000), was die mooiste en welvarendste omdat sy met die uitgewer, Ernest Wishart (1902-1987), getroud was. Lee het 'n kind, Yasmin, by Lorna verwek, maar Wishart het haar as sy eie aanvaar. Tot sy dood het Lee die ring gedra wat Lorna aan hom gegee het. Van 1942 af was Lorna die minnares van die skilder, Lucian Freud (1922-2011), 'n kleinkind van die psigoanalis Sigmund Freud. Van 1948 tot 1952 was Lucian met Kitty (1926-2011), Kathleen en Epstein se dogter, getroud. Op aanbeveling van Lorna het Lee in 1950 met Kathy, die dogter van 'n vierde Garman-suster, Helen (1906-?), getrou. Lee en sy vrou het net een kind, Jessie, gehad. (Oor die Garman-susters: SêNet 28.10.2011.)
Een van die vele verhoudings van die Britse skryfster, Elizabeth Jane Howard (gebore in 1923, SêNet 30.04.2013), was met Lee. Sy het hom by 'n partytjie ontmoet waar Lee viool gespeel en saam met sy vrou gesing het. Howard het die Lees daarna vir ete genooi. Kort daarna het sy en Lee op sy aandrang twee weke lank saam in Spanje gaan kuier. Heelwat later, toe Howard op die Griekse eiland Hydra vakansie gehou het, het Lee alleen daar opgedaag en by haar gebly tot die volgende boot na Athene opgedaag het. Howard het 'n vriendin van albei die Lees gebly. Grove vertel net van die saamwees in Spanje en nie van die Hydra-kuiertjie nie.
Laurie se pa, Reg, was 'n wewenaar met drie dogters en 'n seun toe hy in 1911 met sy huishoudster, Annie Light, getrou het. Uit hierdie huwelik is 'n dogter en drie seuns, waaronder Laurie, gebore. Na die Eerste Wêreldoorlog het Reg nie na sy gesin in Stroud teruggekeer nie, maar eerder saam met Topsy Reynolds in Londen gewoon. In 1918 het Annie en die kinders in die naburige Slad gaan bly. In 1947 "when Reg died [Annie] was all forgiveness" (p 10). Laurie se ma kon glad nie doeltreffend huishou nie en sy en haar kinders en stiefkinders het armoede geken. "But what she lacked in housewifery she made up in artistry. 'She taught us to love and appreciate books' ... She made Laurie an observer of skies and spring leaves, and a lover of music and rhymes, stories and songs" (p 7). In die Slad-vallei "life was a glass-bottomed boat, you could see through to all the details of life," sê Laurie oor sy kinderjare (p 14).
Op 15-jarige ouderdom het Laurie die skool verlaat en 'n bode by plaaslike rekenmeesters geword. Hy kon toe reeds viool speel en het hiermee ekstra geld verdien. By 'n vriendin het hy 'n bietjie Spaans geleer. In 1934 het hy besluit dat kantoorwerk hom nie aanstaan nie. Met sy viool, 'n tent en 'n kombers het hy koersgevat Londen toe, waar hy 'n handlanger, "pushing cement in a wheelbarrow," op 'n bouperseel geword het (p 47). Een van sy gedigte is in 'n koerant gepubliseer.
In 1935 is die woonstelgebou voltooi en het Laurie sy viool, kombers en knapsak gevat en met 'n enkelkaartjie en "packed with time and freedom," 'n boot na Vigo, Spanje, gehaal (p 55). Hy het geryloop en agtergekom "the violin was a passport of friendship wherever I went" (p 57). In Toledo het hy Roy en Mary Campbell ontmoet. In Almunécar het hy oorwinter en saans in die hotel viool gespeel. Daar het hy kennis met Wilma Gregory (1886-1963) gemaak. Sy het hom onder haar vlerk geneem. In 1936 het die Spaanse Burgeroorlog uitgebreek en is albei met 'n Britse oorlogskip na Gibraltar en daarna na Engeland vervoer. Hy was in Spanje van Julie 1935 tot Augustus 1936.
Laurie kon goed teken en Wilma het hom as kunsstudent aan Reading University geregistreer. 'n Jeugvriendin het toe aan Lee geskryf: "Loneliness is essential to you ... You have been the well-loved stranger within the gates of those who love you" (p 79); vandaar die titel van Grove se biografie. In Reading het Wilma meer oor Laurie se epilepsie agtergekom: "A doctor told her that her attempts to persuade Laurie to be chaste were useless: 'all epileptics are exceedingly sensual and passionate, and it's impossible to restrain them'" (p 81). In 1937 het Laurie in Cornwall vir Lorna Garman ontmoet. Sy was toe reeds met Wishart getroud en was die ma van twee kinders. "For Laurie, a glance from the blazing blue eyes was enough, as in Browning's 'She should never have looked at me / If she meant I should not love her'" (p 83).
Laurie is later in 1937 saam met Wilma na Frankryk tot in Perpignan aan die Middellandse See. Hy is alleen oos in die rigting van Marseille en het Lorna in Martigues ontmoet, waar haar suster Helen gewoon het. "Lorna had indeed left her husband and children for Laurie" (p 99). In Martigues het Lee die eerste keer sy toekomstige vrou, Kathy, gesien. Hy was 23 en sy was 5 jaar oud. Hierna is hy terug na Wilma in Perpignan.
In Desember 1937 is hy by Ceret oor die grens na Spanje. "The day I observed I was a lover / I crossed the frontier to seek a wound" (p 203). Wilma het dadelik alles moontlik gedoen om Laurie uit Spanje te kry. Hy was kommunisties gesind en wou aan die kant van die Republikeine teen Franco se Nasionaliste veg. Weens sy epilepsie kon hy nie by die internasionale brigade van vrywilligers aansluit nie. Moontlik was hy wel aan die Spaanse Rooikruis verbonde. In Februarie 1938 was hy terug in Frankryk.
Hy het by Lorna in haar woonstel in Londen gaan woon. In November het sy besluit om na haar man terug te keer, maar toe was sy reeds vier maande verwagtend. Laurie is met sy viool na Italië, Griekeland en Ciprus. "The violin ... 'absolutely destroys time, like making love'" (p 207). "What large breasts these Greek girls have, swelling through their clothes like a storm in a sail. But perhaps it is my celibacy that gives them their size" (p 112). In Februarie 1939 was hy terug in Londen en 'n maand later is sy dogter, Yasmin, gebore. Hy en Lorna het twee maande lank saam in Londen gewoon. Toe het sy haar man se aanbod aanvaar: "If she came home, he would bring up the child as his own" (p 115).
Laurie het as arbeider op 'n plaas gewerk en daarna sy ouer broer, Jack, met rolprentwerk gehelp. In Oktober 1940 het hy in 'n hut en later 'n woonwa naby Lorna in Sussex gebly, met Wilma wat haar ook daar naby gevestig het. Hy het 'n bietjie tuinwerk vir mense in die omgewing gedoen. "Being with [Lorna] is like being at the pictures, I am in another world" (p 135). Lorna "burning like the bush of Moses in spite of the weather" (p 138)." After a particularly wild shaking release she sleeps deeply, but I sleep just under the sweet surface of wakefulness" (p 139). "She couldn't contemplate living without me" (p 142). "Nothing but life & love is my business" (p 136). Hy het egter gevind dat hy kan skryf slegs wanneer hy alleen is.
Van 1943 af het Lucian Freud al hoe meer aandag van Lorna gekry. Teen 1945 het sy 'n Rooms-Katoliek geword en afstand van sowel Laurie as Lucian gedoen. In 1944 het Laurie saam met Cecil Day-Lewis by 'n uitgewery gewerk. "Laurie could charm the birds off the trees and argue the hind leg off a donkey" (p 206). Toe Day-Lewis in 1945 besluit om 'n nuwe tydskrif, Orion, te publiseer, het hy Laurie gevra om oor sy kinderjare te skryf. Vyftien jaar later het dit 'n hoofstuk in Cider with Rosie geword. Soms het Laurie vir sy ma in Slad gaan kuier: "I ... found ... rose bushes growing up through cracks in the piano. Annie lives like a squirrel, hiding away little stores of treasures, & losing them" (p 220). Sy is in 1950 oorlede. Haar grafskrif lui: "She loved the world and all things in it" (p 257).
In 1946 het Laurie vir Kathy saam met hom na Slad en sy ma geneem. "She was still only fourteen, but looked older: 'so pretty, with sometimes conscious childishness, yet not innocent', said Laurie's notebook" (p 225). In 1950 is hulle getroud. Laurie: "I may not be able to be the person you want me to be" (p 255). Laurie het sy troue nie eens in sy dagboek aangeteken nie. Vir sy skoonsuster het hy gesê: "I have decided to make myself responsible for Kathy" (p 254). Aan 'n vriendin het hy geskryf: "I went & got married. It was sudden, like falling down a man-hole" (p 254).
"I think it's a mistake to put music to poems, true poems should be & are music" (p 214). Sy digvermoë het hom egter al hoe meer ontwyk: "Poems come out from time to time like rare and sickly orchids" (p 224). "Poetry has become like a room in my life where I know I can be happy, whenever I wish to retire there, but I keep the door locked & don't go in much" (p 351). "Laurie always said his poems were written for the voice: 'They are not intellectual poems, they are sensual. They celebrate sound and colour and smell and light'" (p 271). Cyril Connolly het oor Lee se poësie geskryf:"He has not a great deal to say, but a most delicious way of saying it ... He never tries to be a philosopher ... but is content to portray changing moods and weathers in simple lyrical form, relying on a sharp eye and an exquisite ear ... a maker of ravishing verbal woodcuts" (p 275). Laurie "was not interested in the work of new poets" (p 394).
In 1952 het hy sy broer met rolprentwerk in Noord-Afrika gaan help en met pragtige beskrywings voor 'n dag gekom, bv: "Bou-Saada ... was full of gaunt bearded men with faces like mountain goats, 'and the women are so heavily veiled that they look like bundles of washing'" (p 267). Kort hierna is een van Laurie se longe tydens 'n operasie verwyder, "hence his later references to himself as 'Wun Lung Lee, the famous Chinese poet'" (p 267, 398). Teen die einde van 1957 het sy uitgewer begin om gereelde betalings aan hom te maak sodat hy uitsluitlik op sy skryfwerk kon konsentreer: "Free time to a writer is like canvas to a painter" (p 329). Danksy hierdie ooreenkoms is Cider with Rosie uiteindelik voltooi en in 1959 gepubliseer: "What I was writing about was not myself but a way of life" (p 400). Van een van die karakters, 'n jeugvriendin, het Lee gesê: "I loved her. She was like a portable sweet shop" (p 456).
Die sukses van hierdie boek en die geboorte in 1963 van hulle dogter, Jessie, was keerpunte in Lee se lewe. Dié geboorte het gevolg nadat Kathy na twaalf jaar van getroude lewe 'n operasie ondergaan het. Daar was egter geen sprake van dat Lee hom van buite-egtelike verhoudings sou weerhou nie. Van Kathy is gesê: "Nobody else could have stayed married to Laurie" (p 309). Kathy: "No one had the right to own someone entirely ... I find it easy to forgive" (p 352). In 1960 het Lee die 21-jarige Yasmin, sy buite-egtelike dogter, weer ontmoet en daarvan gesê: "The rarest orchids are always the most trouble to grow" (p 363). Op dieselfde dag as Jessie, "his 'last love'" (p 410), se geboorte het Yasmin geboorte aan Lee se eerste kleinkind gegee. Tot 1994 [!] het Yasmin in Suid-Afrika gewoon.
In 1961 het Lee die 17de eeuse Rose Cottage in Slad gekoop. "Laurie felt he had 'dropped anchor' at last" (p 342). Hier het Laurie graag tyd in die kroeg langsaan deurgebring: "Six stumbling paces from the pub, door to door" (p 339). Sy vrou en dogter het in Slad gewoon maar hy was meesal alleen in Londen om te skryf. "As the daughter of a fisherman Kathy is used to seeing a husband when he comes home, being sometimes glad but never surprised" (p 340-341). "My family often don't hear from me for a few days, but they know I will be back again on the next high tide" (p 445).
Nie dat Lee homself normaalweg met skryfwerk in Londen gesig gehou het nie. In sy dagboek het hy geskryf: "Just seen spider's web stretched from window to pencil on desk" (p 339). 'n Joernalis het Lee se werkkamer "a temple of ritual evasion" genoem (p 339). Iemand anders het die Laurie-ritueel soos volg beskryf: "It is knockout drugs, depression from having taken them, drink to kill the depression, and then back to square A again" (p 406). Laurie erken hy was "partial to the hard stuff" (p 458). Sy gunsteling kroeg in Chelsea is deesdae as die Laurie Lee Bar bekend.
"I don't think writers should ever do too well out of one book. They should always be lashed by hunger" (p 454). Laurie het welvarend geword: "The various dividends continue to arrive, though spaced out like Marathon runners" (p 508). Hy het geld verdien nie net vanweë die verkope van sy boeke nie, maar ook omdat hy aan radioprogramme deelgeneem en opdragte van tydskrifte ontvang het. Filmregte vir sy boeke het ook groot bedrae ingebring. Die toestand van sy longe het al hoe meer probleme veroorsaak. Hy was dikwels bedlêend: "I hide away like an animal in the long grass" (p 465). "I'm still a going concern, but a little concerned about going" (p 505). "The graveyard beyond me has a quiet sense of expectancy" (p 508).
"He had given up smoking twenty years ago and said alcohol had taken its place" (p 465). "I'm not a drunkard. I am a heavy drinker, which is a very different thing" (p 475). "I'm not so convinced of the power of prayer now, as I am convinced of the power of malt whisky. I find that one answers more directly and more positively than the other. The answer to prayer seems to get held up in the post sometimes, but if I have a bottle of malt in my pocket, I know that the answer will be immediate" (p 476).
Laurie: "My love for [Jessie] is the unchosen, unquestioned fact of my existence" (p 438). "My daughter says, you can get more out of him when he's drunk than when he's sober" (p 476). Kathy: "He can be dreadful, but he's my loved one, and we put up with it all, and somehow it's worth it" (p 454). Laurie: "The years are like a sieve whose meshes grow wider & wider" (p 402). "'Do you believe in God?' 'Not in God, but in gods'" (p 466). "I'm not concerned about the consolation prize of the hereafter. I like this world. I haven't yet heard of a better" (p 339). "This world and this life ... has been a perpetual excitement and joy" (p 459). "I love this world and all its trivialities, the little domestic details, the postbox on the corner, the wet gutters, the leaves, the buses, the sunset" (p 465). "He wanted engraved on his tombstone: 'He lies in the valley he loved'" (p 508). "I want to be buried between the pub and the church, so that I can balance the secular and the spiritual" (p 510).
Johannes Comestor

