Dit vat ’n paar sekondes voor ek besef dat die onaardse oerklank wat weergalm in die strandgehuggie uit my keel kom. Die laaste asem in my longe word uitgeforseer tussen my saamgepersde lippe. Die houtvloer druk hard onder my maag en die skerp reuk van Thaise balsemolie klou aan die binnekant van my neusvleuels.
Met een oog loer ek na my weerkaatsing in die spieël. ’n Kaal middeljarige bolyf wat soos jellie bewe terwyl stokkiesbene ritmies op my rug trap. “Amari Palm Reef Hotel Spa” lees die embleem op die tingerige meisie se oorgrootte hemp. Haar lang swart poniestert wip op en af terwyl haar arms grasieus die bewegings van haar bene na-aap.
Ek verwonder my weereens aan die eenvoudigheid van Oorsterse gelaatstrekke. Breë gesigte, monde wat altyd glimlag, olyfronde oë.
Sy vang my oog in die spieël. “You okay, you okay?” ’n Sensasie van pyn en plesier spoel soos ’n vloedgolf deur my brein. Met moeite knip ek my swaar ooglede.
Dis al laatmiddag toe ek by die gehuggie uitstrompel en die sagte seesand tussen my tone voel kriewel. Die meisie buig haar hoof eerbiedig en vou haar hande saam onder haar ken.“Sawad Dee,” sê sy dankbaar vir die oordadige fooitjie.
Skielik tref dit my. Ek bly nou al twee dae by een van die luukse oorde op die eiland Koh Samui, maar sien eers vandag werklik die uitsig. Die see lê soos ’n blou dam voor my uitgestrek. Die horison weerkaats plek-plek rooi in die poeierblou water. Branders klots vertroostend op die sand. Die spierwit seestrand huisves sonverbrande toeriste op gemakstoele.
My voete sleep stadig deur die sand terug na die hotel. Die hotel is gebou volgens tradisionele Thaise argitektuur, gemeng met moderne lyne. Hierdie styl is kenmerkend by al die oorde wat langs mekaar ingepak met die strand af lê.
Die hotel se twee swembaddens word omring deur tropiese palmbome wat rye kamervensters versteek. Partytjieliggies word meteens aangeskakel en weerkaats in die swembadwater.
Ek kies doelbewus ’n stoel by die buitekroeg wat my ’n uitsig op die see en sonsondergang kan gee. ’n Kalmte spoel oor my skouers en vir die eerste keer sedert my egskeiding voel ek uitgerus. Ek peusel nuuskierig aan die soesji-lekkernye op die toonbank.
Die vet Amerikaner aan die ander kant van die toonbank bestel luidrugtig wat lyk na sy tweede dop. Sy cowboy-hoed sit skeef op sy rooi voorkop. Sweet pêrel tussen sy bos swart borshare wat by sy oop blommehemp uitloer.
“My magtig,” roep hy in vlot Afrikaans. “Wat maak ’n man van Suid-Afrika in hierdie geweste?” Hy kyk stip na die 94.7-fietstoernooi-embleem op my verbleikte T-hemp.
My mond val oop. Ek trek-trek aan die T-hemp wat styf oor my boep span. Die Amerikaner gee ’n skel laggie en sê verduidelikend: “Ek is van die Oosrand, maar werk al jarre op die oliebore in Texas. Is jy hier met vakansie?”
Te vinnig neem ek ’n sluk brandewyn. “Ek het my egskeiding kom vier. My vrou het my dogter in die kar gelaai en die pad gevat.”
“Nou maar cheers, kom ek kry vir jou nog ’n dop,” nooi die Amerikaner luid.
Toe ek weer sien, het die see-uitsig verkleur in ’n pikgitswart gordyn. Die kroegman het onbewustelik die bottel op die toonbank neergesit. Die bottel is al amper leeg. Die brandewyn proe gal op my tong, en vir ’n breukdeel van ’n sekonde sien ek twee cowboy-hoedens op die Amerikaner se rooi geswete voorkop oorvleuel.
“Kom ek gaan wys jou die ware Thailand,” nooi hy dronk. Sy tong lek onbewustelik aan sy onderlip.
My voete sleep swaar, maar ek volg die Amerikaner deur die helderverligte ontvangslokaal van die hotel. Ek knip-knip my bloedbelope oë.
“Sawad Dee,” groet die oorgretige portuur.
Ons slinger deur die tuin en pyl op die straat af. Die lawaai op Chaweng Beach Road is eensklaps oorverdowend. ’n Gerumoer van fietse, motorfietsies en tuk-tuks begroet ons. “Beep, beep,” beveel hulle ons op die spaadjie.
Ons stap pad af verby helderverligte stalletjies met blêrmusiek. Die reuk van gebrande kookolie kom aangesweef van een van die straatkafees. My maag draai.
“Amper daar,” roep die Amerikaner oor sy skouer.
Ons verlaat die helderverligte straat en kry koers in ’n donker stegie. My regterhand gryp na my neus. ’n Urinereuk hang swaar in die lug. Dan hoor ek die geroep sydelings, saggies, verleidelik.
“Tsie, tsie, over here.” ’n Ry vroue staan teen ’n donker muur soos ’n ry voorspelers. Swaar grimering en gesigte opgedollie. Groot, onnatuurlike borste. My brein staan stil.
Die Amerikaner trek aan my T-hemp. “O, gods, nee. Nie hierdie spul ladyboys nie.”
Hy stoot my in die rigting van verdoofde neonligte en harde doef-doef-musiek. Ek sit eensklaps op ’n rusbank in ’n donker vertrek. My lyf voel swaar. Die rook van die daggapyp laat my oë traan en brand in my keel. Ek sien beelde van naakte tienerlywe. Party sweef heen en weer voor my verby. Ander is gedrapeer rondom die Amerikaner se vet kaal skouers.
“Kan dit wees? Is hulle so oud soos Leandrie?” flits dit deur my gedagtes. Maar dan voel ek sagte hande streel oor my bolyf. Donkerte omvou my. Ek maak my oë toe en gee myself oor aan ’n gevoel van absolute genot.
Ek word wakker uit ’n diep, donker slaap. ’n Helder lig skyn skerp deur my ooglede. Shies, shies, suis dit in my agterkop. Stadig fokus ek my blik op die branders wat verwoed teen die sand veg. Daar is sout op my lippe, sand klou tussen my hare en orals op my vel. Die son weerkaats wit in die water. Met moeite staan ek op. Die afdruk van my lyf lê soos ’n lang, slap kat in die sand. Ek ruik brandewyn.
Die meeste stalletjies op Chaweng Beach Road is nog gesluit. Die straat lyk in helder daglig soos Langstraat op ’n Sondagoggend ná ’n nag van partytjie. ’n Groep seuntjies speel met ’n afgetakelde straatbrak naby ’n druppende kraan. ’n Maer man was die vloer van sy straatkafee met ’n grys mop. Swoesj, swoesj, vee hy die water weg.
Ek voel skielik hoe iemand na my staar. ’n Ou vrou staan agter ’n tafel, ’n groot pot sop op ’n gasstofie aan die roer. Haar olyfoë is versteek in haar verrimpelde gesig.
“You American, you American,” roep sy terwyl sy haar vinger na een van die plastiekstoele van haar straatkafee wys.
“You want Guay teow. Not spicy, not spicy,” sy wys na die mengsel in die pot. Verstrengelde noedels dryf op die oppervlak.
’n Tuk-tuk zoem verby my. Te laat steek ek my hand op. Maar dan sien ek ’n bord wat in groot letters aandui: “Wat Sawang Arom Chaweng.” Ek volg die pad en loop hygend berg-op. Ek veë uitgeput die sweet van my voorkop af.
Wat ek aan die einde van die paadjie sien, slaan my asem weg. Die tempel is nie so majestieus soos die ander wat ek in Bangkok gesien het nie. Dis klein en lyk amper Chinees met spitsdakkies wat goud ingekleur is. Groen-goud-draakkoppe rus op die handleuning van die trap.
Dis stil binne die tempel. Ek sug onbewustelik. Hier en daar sit Thai-mense kruisbeen en aanbiddend voor ’n Boeddha-beeld. Wierook hang swaar in die lug.
’n Monnik sit half versteek op die grond in die hoek. Sy gesig oud en vol plooie. Sy oranjerooi jurk hang soos ’n swaar wolk om hom. Ek voel hoe iemand my in sy rigting stoot. “Go for blessing.”
Die monnik se hande is koud. Hy vat saggies aan my arm en knoop ’n wit toutjie aan my gewrig. “Make a wish,” fluister my weldoener in my oor.
Ek kyk in die monnik se ronde olyfoë. Trane stroom oor my wange.
“Ek wens ek kan oor begin,” flits dit deur my gedagtes.
Lees nog van hierdie fiksie-kompetisie.

