My senuwees is gedaan, my krygsvermoë uitgeput
My hart hunker huiwerig, dit swyg soos die graf
Vrees het my siel vergruis en my laat struikel
en dis toe ek in liefde begin twyfel
My gewete teer aan my gemoed
’n Stil stryd woed binne my
Ek is weerloos teen die verwording,
die verweer van my menswees
Ek het uit stof ontstaan
en tot stof sal ek vergaan
Hoe stil mens hierdie pyn sonder gil, sonder wyn?
Hoe wis ek hierdie seer sonder geweld of geweer?
Hoe genees ek hierdie wond wat my binneste deurgrond?
Hoe vul ek hierdie gat hier diep binne my hart
Ek het al baie harte gebreek
en my vriende in die rug gesteek
Met hul harte gedans
en dit net daar gelaat
Ek het al soveel keer geval
en in ander se harte rondgedwaal
My emosies deur hul gange gesleep
en al die mure afgebreek
Ek was ’n seerower opsoek na skatte
Gegrawe vir goud, toe grawe ek grafte
Ek was die harlekyn van harte
Lank lank gelede
iewers diep in my verlede,
woed die hoekoms van my lewe
en eggo in my hede
Die skrif is aan die muur
Die koeel is deur die kerk
Liefde was hier, die ou ek het gesterf
Lank lank gelede
is die ou ek oorlede
Vaarwel my vriend
Rus in vrede