“There are two tragedies in life. One is not to
get your heart’s desire. The other is to get it.” [George Bernard Shaw]
“julle is vir mekaar gemaak”
maar ek sukkel om my in jou te vervorm
“ons weet dat julle gelukkig sal wees”
maar ek is dan nie heeltemal nie
“en die wittebrood sal wonderlik wees”
maar ek sukkel om die troukoek nou saam jou te eet
“en die nuwe huis sal julle nader aan mekaar bring”
maar ek verloor jou in gange en die bed is so groot
“en julle sal saam oud word en mekaar hê”
maar ek wil meer as net jou hê
en leef se pen skryf meedoënloos
biografies van individue wat outonoom keuses maak
van pyn wat spore van ongemak
deur verhoudings en lewe trap
jy swerf tydloos na jou
selfgekonstrueerde onbereikbare eiland in die verte
waar jou lewe ryk en leemteloos sal wees
jy wil geluk onmoontlik en paradoksaal laat gebeur
om in pynlike ontoereikendheid te bly hoop
dat padaanwysers wat jy onbeperk
deur klowe en spruite, woud en woestyn wil laat loop
uiteindelik vir jou geluk sal koop
as dit skemer word en die donker in jou nes kom maak
vlug jy na kojak en volmaakte klank
in koesterende vervreemding van mense wat jou sou kon raak
na die gemak en tydelike homeostase van isolasie
want dan maak vrae nie meer saak
ek hoor jou lag ek sien jou huil
in die konstruksies waarmee jy jou omring
oor gekompliseerde note
wat selfs die nagtegaal nie kan sing
jy is ’n reisiger op ’n ewigheidswandeling
jou reis is vol hoop - die bestemming maak tog nie saak
jou aankoms en groet kan jy bly uitstel
jy kan prokrastineer in eindelose beplanning
in voorbereiding wat nie jouself of enigiemand raak
jy glo dat die bestemming helaas
die lewe perfek en probleemvry sal maak
sou die pyn en struikelblokke op jou pad
die reis uiteindelik sinvol maak
as jou anker eendag utopies die bodem raak?
ek hoor jou in die newels antwoorde soek
waar die albatros bygelowig roep
oor vlerke wat metafories moet leer vlieg
oor jy nie langer vir jouself en die wêreld kan lieg
jy glo jy het die waarheid gevind
maar die wêreld bly verander en is blind
jy het jouself verhoor en onskuldig bevind
jou alibi is on-afskeidbaar
met jou simplistiese uitspraak verbind
jy is histories verweef en verdoem tot gister
’n marionet in ’n poppespel
wat jou onvoltooide self strem en knel
leef se onrealistiese eise maak jou kwaad
jy is dan die een wat al die opofferings maak
in ontkiemde mense-saad was jy immers volmaak
om in barensnood en nou net as produk te leef
nog ’n vreemde fout van ’n siek samelewing
’n mens-fabriek se verraad
die geelvink fluister van waarhede wat foute kan maak
oor ’n eerste nes nie ’n volmaakte huwelik maak
oor metavlakke waarheen jy kan swerf
patrone en waarheid wat jy anders kan weef
’n duisend nessies waarin jy kan leef

